title
stringlengths
0
200
maintext
stringlengths
0
24.9k
url
stringlengths
21
190
date_publish
stringlengths
0
19
Ritsgidse: Kaapstad-straatgids en 4x4-roetegids
~ Kaapstad en omstreke: blyplek, werkplek, speelplek, droomplek vir soveel mense! Vra maar net rond. Hier is jou betroubare straatgids wat nooit “offline” is of jou in die steek laat omdat daar nie sein is nie. En, vir ekstra lekkerte, ’n gids met 22 moet-ry 4x4-roetes! Deur Mariette Snyman. Hooffoto Pixabay
http://www.rooirose.co.za/ritsgidse-kaapstad-straatgids-en-4x4-roetegids/
2017-01-04 00:00:00
Beklemtoon die kleur van jou oë
Dit kan stresvol wees om ooggrimering te koop. Daar is so baie kleure dat dit soms intimiderend kan wees, maar sodra jy die regte kleur gevind het, maak dit die proses heelwat makliker. Onthou: jou persoonlikheid speel ’n groot rol in die grimering wat jy kies, jy moet gemaklik wees met wat jy dra. Daar is een groot reël van grimering … daar is geen reëls nie! Eksperimenteer ’n bietjie met die grimering wat jy het en kyk wat vir jou werk. Blou oë “As jou oë blou is, is die kanse goed dat jy ’n ligte velkleur het. Vermy koel kleure en probeer eerder ’n warmer kleur, dit sal jou oë se natuurlike kleur beklemtoon. Skakerings van grys en bruin is perfek vir diegene wat blou oë het, vermy blou oogskadu.” Dit is die raad van Muzi Zuma van die grimeerreeks 3INA. Probeer ook meer oranje skakerings, soos koraal of self sjampanje. “Brons of bruin werk ook goed. As jy jou grimering aanwend, maak ’n driehoek in die derde van jou oog en eindig dan deur ’n sagte roomkleurige oogskadu onder jou wenkbroue aan te wend.” – David White van L’Oreal Groen oë As jy groen oë het, is dit reeds helder en het jy nie noodwendig baie oogomlyner of helder oogskadu nodig nie. Wat vir my werk, is skakerings van bruin of selfs ’n bietjie pers. Vir ’n aandjie uit kan jy eksperimenteer met metaa- of helder kleure, maar as jy jou daggrimering aanwend, probeer iets meer natuurlik. “Die warmer skakerings is baie vleiend vir diegene met groen oë. Probeer skakerings soos sepia, roesbruin, donkerpers, pienk/appelkoos, goud en ligpers.” Stel Muzi voor. “Jy kan ook ’n pers maskara probeer. Ons hou van YSL Mascara Volume Effect Faux Cils in #4 of #5)” stel David voor. Bruin oë Vroue met bruin oë is gelukkig, want amper enige kleur sal hul oë komplimenteer. Probeer ’n sagte, neutrale kleur soos ’n sagte pienk of bruin en eindig dit af met ’n oogomlyner. “Neutrale bruin skakerings met ’n diepblou oogomlyner sal die oë vars laat lyk” sê David. “Jou persoonlikheid gaan ’n groot rol speel in die kleur wat jy kies. Skakerings wat baie goed sal werk, is goudbruin, rooi, blou, groen, brons, helderblou, ligblou en pers.” Stel Muzi voor. Grys oë “Donker skakerings werk die beste. Begin met ’n silwerwit kleur in die hoek van jou oog en wend donkerder grimering aan die buitenste gedeelte van jou oë, stel Muzi voor. Jy kan ook eksperimenteer met olyfgroen, helderblou, swart, donkerbruin en pers.
http://www.rooirose.co.za/beklemtoon-die-kleur-van-jou-oe/
2017-01-13 09:04:18
Kosblik-idees week 3
Beplan vir elke week * Koop ook vars vrugte, groente en sappe saam met die bestanddele vir die week se middagetes en kosblikhappies * Maak van die geregte wat gevries kan word. ’n Mens het naweke meer tyd vir bak, laat die kinders help en bak sommer al Sondagaand die muffins of neutkoekies * Koop genoeg koeldrankbotteltjies en vries vyf sappies vir die komende week * Koop liefs volgraanbrood vir die toebroodjies LEES OOK: Kosblik-idees week 1 LEES OOK: Kosblik-idees week 2 Maandag (middagete-idee) Hoenderburgers in pitabroodjies – genoeg vir 4 Die gekrummelde hoenderstukke is gou gaar en heerlik op toebroodjies en burgers of in pitas en tortillas. • 2 hoenderborsies, vel en been verwyder • 125 ml (½ k) koekmeel, gegeur met sout • 125 ml (½ k) vars broodkrummels, (gebruik liefs volgraanbrood) • 60 ml (¼ k) gerasperde parmesaan • 2 eiers, liggies geklits in ’n klein bakkie • 4 klaarbereide pitabroodjies, verhit volgens die vervaardiger se aanwysings • 125 ml (½ k) bevrore soetmieliepitte, ontvries • ’n hand vol kersietamaties, gehalveer • slaai of kruieblaartjies vir opdiening • ’n skeppie mayonnaise vir elke pitabroodjie 1 Sny die hoenderborsies in die dwarsste middeldeur sodat jy 4 identiese, dunner filette het. Sit elke filet tussen twee stukkies kleefplastiek en slaan met ’n rolstok plat. 2 Sit die koekmeel in ’n bakkie en meng die krummels en kaas saam in ’n ander bakkie. 3 Doop elke filet eers in die eier, laat die oortollige eier afloop, dan in die koekmeel en rol laastens in die krummels. 4 Die filette kan in die stadium in afsonderlike vriessakkies gevries word, of onmiddellik in ’n bietjie olyfolie in ’n pan gebraai word. 5 Braai oor matige hitte, anders brand die krummels aan voor die hoender gaar is. 6 Sny elke filet middeldeur en “bou” die pitabroodjies so: Sny elke pitabroodjie middeldeur en sit ’n halwe filet in elk gevolg deur mielies, tamaties en blaartjies. 7 Skep laastens ’n bietjie mayonnaise in elke helfte. Dinsdag (middagete-idee) Vinnige sousboontjiesop met kaaswiggies – genoeg vir 4 • 3 x 220 g-blikkies sousboontjies in tamatiesous • 30 ml (2 e) olyfolie • 1 ui, fyn gekap • 250 g (1 pakkie) repiesspek, gekap • 2 knoffelhuisies • 300 ml hoenderaftreksel • 1 x 400 g-blik tamaties, gekap • 30 ml (2 e) Worcestershire-sous Kaaswiggies • 3 middelslagaartappels • 30 ml (2 e) olyfolie • 5 ml (1 t) paprika • 100 g (1 k) gerasperde cheddarkaas 1 Voorverhit die oond tot 190 ºC. 2 Maak eers die kaaswiggies: Sny elke aartappel in 6 wiggies. Meng die olie en paprika in ’n bakkie. Sit die aartappels daarin en meng goed deur. Bak die wiggies vir 35 min. op ’n bakplaat. 3 Verpulp intussen die helfte van die boontjies in ’n voedselverwerker, of druk met ’n aartappeldrukker fyn. 4 Verhit die olie in ’n groot kastrol, voeg die ui en die spek by en soteer vir 5 min. roer tussendeur. Voeg die knoffel by en soteer vir nog 2 min. 5 Voeg die verpulpte boontjies, heel boontjies, aftreksel, tamaties en Worcestershiresous by, meng goed en bring tot kookpunt. Verlaag die temperatuur en laat prut vir 20 min. Roer die sop deurentyd. 6 Strooi die kaas oor die aartappelwiggies en bak vir nog 5 min. Sit saam met die sop voor. Woensdag (snoephappie-idee) Droëvrugte-en-neut-koekies – genoeg vir 12 sterre en 12 balletjies Dié mengsel is uniek omdat dit rou of gaar geëet kan word. Dis propvol vesel en energie en die ideale happie vir skool. Ons het die mengsel verdubbel en een helfte in stervorms gebak en met die ander helfte balletjies gemaak wat in klapper gerol word. Die koekies hou vir sowat ’n week, maar die rolletjies moet binne twee dae geëet word. • 200 g (1½ k) neute soos amandels, pekanneute, haselneute en okkerneute • 100 g droëvrugte (ons het 30 g (2 e) sultanas, pruime, 2 gedroogde mangostukke en 3 appelkose gebruik, maar jy kan jou eie keuse maak) • 15 ml (1 e) pampoensaad • 80 g (1 k) klapper • 90 ml (6 e) melk • 15-30 ml (1 – 2 e) sonneblomsaad • 30 ml (2 e) bruinsuiker 1 Voorverhit die oond tot 180 ºC. 2 Maak die neute, vrugte, pampoensaad en klapper in ’n voedselverwerker fyn. Voeg die melk bietjie vir bietjie by tot dit bymekaarkom. 3 Skep opgehoopte teelepels vol deeg op ’n bakplaat en druk met ’n lepel plat sodat dit ’n 5 cm-sirkel vorm (ons het ’n sterretjieskoekiedrukker gebruik) en strooi die sonneblomsaad oor. 4 Bak vir 15 min. of tot goudkleurig. Laat vir 5 min. afkoel op die bakplaat. Berg in ’n lugdigte houer. Donderdag (kosblik-idee) Tuisgemaakte burgers – genoeg vir 8 frikkadelle Maak die frikkadelle oor die naweek en vries in afsonderlike vriessakkies sodat jy net een op ’n slag kan gaarmaak vir middagete of vir ’n kospakkie. Ontvries dit oornag in die yskas vir die volgende dag. Frikkadelle • 500 g gemaalde maer maalvleis • 1 klein uitjie, gekap • 1 sny witbrood, gekrummel • 60 ml (¼ k) volroom- Griekse jogurt • 10 ml (2 t) Worcestershire-sous • sout en gemaalde swartpeper 15 ml (1 e) olyfolie Broodjies • Sagte hamburgerrolletjies (jy kan ook bruin rolletjies gebruik) • blaarslaai • tamatiesous 1 Meng die maalvleis, ui, witbrood, jogurt en Worcestershire-sous en geur met sout en peper. 2 Skep met ’n ½ k-maatbekertjie maalvleisballetjies uit en vorm hamburgerfrikkadelle. 3 Sit elke frikkadel in ’n individuele sakkie en skryf die datum op. Vries tot benodig. Ontvries die frikkadelle indien jy alles gevries het en braai in ’n pan met ’n bietjie olyfolie tot gaar. Sit ’n frikkadel, blaarslaai en tamatiesous op elke broodjie. Nog idees met hamburgers * Voeg 1/3 k soetmieliepitte of ertjies by die vleismengsel. * Braai repies swoerdlose spek en sit saam met die frikkadel en slaai op die burger. * Pak ’n verskeidenheid goed soos gesnyde tamatie, komkommer, kaas en pynappel uit sodat die kinders dit self op hul burgers kan pak. * Klaarbereide souse soos hoemoes en tzatziki werk goed op burgers – natuurlik mits jou kinders daarvan hou. Vrydag (snoephappie-idee) Ham-kaas-en-pynappel-wiele – genoeg vir 10 wiele Ook ’n lekker kosblikhappie wat vir sowat drie dae in die yskas gehou kan word. Laat die kinders help bak en brou. • 875 ml (3½ k) koekmeel • 17,5 ml (3½ t) bakpoeier • 2,5 ml (½ t) sout • 180 ml (¾ k) karringmelk • 180 ml (¾ k) melk • 300 g piekniek- of toebroodjieham, in repies gesny • 1 x 450 g-blikkie pynappelstukke • 250 ml (1 k) gerasperde cheddarkaas • 1 eier, liggies geklits 1 Voorverhit die oond tot 200 °C. 2 Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak, en maak ’n gaatjie in die middel. 3 Meng die karringmelk en melk en voeg dit bietjie vir bietjie by die meelmengsel. Meng tot ’n sagte deeg vorm. 4 Knie die deeg op ’n meelbestrooide werkvlak tot sag en elasties en rol uit in ’n vierkant van sowat 20 x 40 cm. 5 Pak die ham, kaas en pynappelstukke op die deeg. 6 Rol die deeg op in ’n lang wors en sny 10 happies uit die deegrol. 7 Pak plat teen mekaar op ’n bakplaat, smeer met geklitste eier en bak vir 25 min. tot goudbruin en gaar. Eet lekker warm. Wees-slim-idee Maak die hele resep vir die hoender- en beesvleisburgers, maar vries die frikkadelle individueel. Met een keer se moeite kan jy ’n hele paar weke daarvan gebruik.
http://www.rooirose.co.za/kosblik-idees-week-3/
2017-01-23 10:39:26
Nuut in die flieks: Hoener Met Die Rooi Skoene
Hoener Met Die Rooi Skoene is ’n riller-komedie wat handel oor ’n onverklaarbare moord, wat verkillende kinkels en raaisels vir die kyker inhou. Kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter), word die ondersoekbeampte van ’n ongewone moordtoneel met die lyk wat spoorloos verdwyn. Hy bevind homself te midde van die chaos en verwarring van meer as een moord en ’n situasie wat die grootste uitdaging van sy loopbaan en lewe blyk te wees. Dié lyk van die vermoorde kom dan weer te voorskyn, maar is dan nie meer ’n lyk nie! Venter sê die film is uniek, as gevolg van sy genre. “Dit is ’n regte “whodunnit”, soos Columbo of Murder She Wrote, maar met ’n paar wulpse moderne kinkels.” “Kykers kan spanning, humor, intrige en ’n heerlike tikkie romanse verwag,” sê Venter. Behalwe Venter, sorg Lizz Meiring, Deon Lotz, Dorette Potgieter, Lida Botha, André Weideman, Geon Nel en Laré Brink vir die rillervermaak. Venter sê die beste oomblikke gedurende die skiet van die fliek was om saam met Koos Roets en die room van Suid-Afrikaanse akteurs te werk. “In een toneel was ek saam met Lida Botha, Deon Lotz, Dorette Potgieter, Lare Birk en Andre Weideman, almal op dieselfde oomblik!” “Die slegste oomblik was seker toe ek in ’n kas moes wegkruip vir ’n toneel. Die rak bo my het ineengestort en ses bottels wyn en agt wynglase het op my afgereën!” Om dubbelkaartjies na die premiére van Hoener Met Die Rooi Skoene te wen, klik hier. Kyk ook hier na ’n eksklusiewe agter-die-skerms geselsie met Louw Venter:
http://www.rooirose.co.za/nuut-die-flieks-hoener-met-die-rooi-skoene/
2017-01-14 00:00:00
Slaai in bottels
~ Wat is jou slaaipersoonlikheid? As jy ’n haastige raakvatter is, is hierdie slaaie vir jou! Deur Vickie de Beer. Foto’s Charles Russell
http://www.rooirose.co.za/slaai-in-bottels/
2017-01-16 10:08:20
Skryf ’n nuwe hoofstuk
Leeftye se gedagtes en ervarings kleur elke oomblik en gebeurtenis in ons lewe en tog kan ons so onwrikbaar glo in ons standpunte dat ons dit verhef tot die absolute waarheid van wat reg, verkeerd of die werklikheid is. Daarmee kan ons onsself en ander beperk, of vasgevang bly in moeilike situasies omdat ons daarop aanspraak maak dat ons weet en verstaan, en ons nie ons waarheid en werklikheid kan of wil bevraagteken nie. Shakespeare het gesê dat niks werklik sleg of goed is nie, maar dat ons denke dit bepaal. Ons emosionele reaksies, besluite en optrede word deur ons persepsies en nie noodwendig deur ’n objektiewe werklikheid bepaal nie. Mense veroorsaak meer lyding in die wêreld en onder mekaar as die verwoestende uitwerking wat die grootste natuurrampe kan hê. Met ons persepsies skep ons ons wêreld en die wêreld rondom ons Bestaande kennis, gelowe, aannames, jou kultuur en die kondisionering van jou ervarings vorm jou persepsie van die realiteit dikwels meer as die huidige werklikheid. Ons brein neem nuwe situasies en inligting waar en interpreteer dit in verweefdheid daarmee en dit skep ons bewustheid van wat ons sien en ervaar. Dink maar aan die reaksie van die Koisan-man toe die Coke-bottel uit die lug val in die fliek The God’s Must be Crazy. Hy het nog nooit so iets gesien nie. Die naaste aan bekende en bestaande kennis waarmee hy dit kan integreer, is om te glo dis ’n geskenk van die gode. Alle waarnemings en ervarings is vir elke individu baie spesifiek en uiteenlopend. Alles wat jy waarneem, word bepaal deur die betekenis wat jý daaraan gee as gevolg van jóú gedagtes, gelowe, emosies en verwagtinge. Einstein het verder gegaan en gesê dat die werklikheid bloot ’n illusie is. Ons skep en beperk onsself, ander en die wêreld deurdat ons denke en persepsies dikwels ons identiteit vorm. Ons identiteit word bepaal deur ons rolle, kultuur, materiële dinge, ons beroep, voorkoms, geslagsidentiteit, ons gedagtes en vrese. Solank ’n mens jou identiteit hierin probeer vind, beperk en verloor jy jouself en ander. Dan het jy meer en beter nodig, voel jy ongelukkig, ontevrede en angstig. Dan glo kreatiewe en talentvolle mense of kinders nie in hulself nie, want die prestasie of dinge wat hul identiteit moet bepaal, is immer onvoldoende. Die illusie en beperkende aard van persepsies • Die fokus van jou gedagtes bepaal jou persepsie: Verwagtende vroue sien oral ander verwagtende vroue en babas raak, en vervang jy die dag jou huis se dak, sien jy so ver jy ry net huise se dakke raak. Wanneer jy honger is, lyk kos lekkerder. Stoele en deuropeninge lyk vir groot mense kleiner. Wanneer jy glo jou man of kind is selfsugtig en help jou nie, sien jy hoofsaaklik alles raak waarmee hulle nie help nie, en kyk jy dikwels die dinge mis waarmee hulle wel help. Almal neem selektief en gedeeltelik waar. In ’n eksperiment om die omvang daarvan te bepaal, is ’n groep mense gevra om na ’n video van ’n basketbalwedstryd te kyk en vas te stel hoeveel keer die bal van hande verwissel voordat ’n punt aangeteken is. ’n Man in ’n gorillapak het terselfdertyd tussen die spelers rondgeloop. Ná die video moes almal alles opnoem wat hulle gesien het. Minder as 10% het die gorillaman gesien. Die res was te besig om te kyk hoe die bal van speler tot speler verwissel. So mis ons almal dinge reg voor ons oë. Jou eerste persepsie of ervaring bepaal wat jy later raaksien. Wanneer jou eerste ontmoeting met ’n buurman ’n negatiewe ervaring is, kan dit ’n negatiewe invloed op jul toekomstige gesprekke of verhouding hê. Indien jou eerste ete in ’n restaurant niks besonders was nie, sal jy moontlik nie teruggaan nie en later verbaas wees wanneer jy by vriende hoor hoe heerlik hulle daar geëet het. Dieselfde geld talle ander ervarings, soos leer of terapie. • Wanneer jy in ’n negatiewe bui, of ontsteld en omgekrap is, kan jy ook situasies, jouself of ander meer negatief beoordeel. Dit voel dalk niks werk uit nie, of dinge bly maar vir jou skeefloop. • Vorige gebeure en die assosiasies daarmee kan jou persepsies kleur. Wanneer jou man se vorige blonde sekretaresse hom probeer verlei het, kan jy agterdogtig wees oor sy verhouding met sy huidige sekretaresse, of telkens jaloers en ontsteld wees wanneer hy met enige blonde vrou praat, al is dit hoe onskuldig. Indien jy ’n weersin in drank het omdat jou pa te veel gedrink het, kan jy dalk ontsteld of negatief raak indien jou lewensmaat alkohol gebruik, selfs wanneer hy sosiaal net een of twee glase wyn drink. Ons kategoriseer dinge op grond van assosiasies: Mense wat dit dra, of dat doen, is sus en so. • Dit wat jy oor jouself glo, beïnvloed jou persepsies: ’n Man wat hom as selfgeldend beskou, beland gedurig in situasies waarin hy voel dat hy hom moet laat geld. Glo jy dat jy ’n mens is wat omgee, kan jy ervaar dat mense jou uitmergel omdat iemand gedurig op jou steun en op jou bystand aanspraak maak. Wanneer iemand dink jy tree selfsugtig op, kan jy dit dalk met ontsteltenis afmaak omdat dit nie pas by die beeld wat jy van jouself het nie. • Daar is altyd dele van die waarheid of werklikheid wat jy nie kan sien nie. Die motoris wat voor jou injaag, is dalk ’n padvark wat niks vir ander voel nie, of ’n ontstelde pa wat hospitaal toe jaag ná sy kind van ’n dak afgeval het. Jou persepsie gaan bepaal of jy met geduld, rustigheid, irritasie, frustrasie of woede hierop gaan reageer. • ’n Mens maak ook jou eie persepsies en vrese waar. Maretha is in ’n winkelsentrum en sien haar vriendin, Sanet. Sanet groet nie en verdwyn in die eerste winkel. Maretha dink dat sy haar ignoreer en nie wil groet nie, en wonder wat sy verkeerd gedoen het. ’n Paar dae later sien sy Sanet by ’n skoolgeselligheid en stap nie soos gewoonlik nader en groet haar met ’n drukkie nie. Sanet sien haar koel afsydigheid en wonder wat fout is. Sy is seergemaak en reageer ook maar koel. Toe Maretha dit sien, is haar persepsie bevestig dat Sanet haar ignoreer en dat daar fout met die vriendskap is. En eintlik was Sanet net ingedagte en het haar bloot nie in die winkelsentrum raakgesien nie. Jou vooropgestelde gedagte of emosionele persepsiefilter laat jou dikwels dinge as negatief, positief of bedreigend beleef en goed sien wat nie eens werklik daar is nie. Wanneer jy glo jy kan mense nie vertrou nie, is onskuldige voorvalle soos iemand wat bloot laat kom, iets vergeet of ’n optelfout maak, ’n bevestiging van dié geloof. Mense word hul eie of ander se persepsies. “Ek is goed vir niks en gaan niks bereik nie,” word jou werklikheid solank jy die persepsie glo. Glo jy uitlatings soos, “Jy sal nooit matriek slaag nie”, of “Die ekonomie is sleg en dis nie nou die beste tyd om ’n nuwe onderneming te begin nie,” sal jy keer op keer geleenthede misloop en nooit daardie nuwe onderneming aan die gang kry nie. Baie mense glo dat hulle die produk van hul huidige lewensstorie is. Hou jy nie van jou huidige storie nie, verander net jou persepsie van jouself, jou toekoms, die wêreld, jou loopbaan en werk, die huwelik of mense in die algemeen. Vryheid is die moontlikheid om al jou persepsies te laat vaar en net te kan wees wie jy is Irrasionele denke wat persepsie kleur • Die donkerbril: Jy sien net die negatiewe raak, die gevare, teleurstellings en mislukkings en ontken die positiewe. • Oor-veralgemeen: Maak een voorval die norm. Gebruik woorde soos “altyd”, “nooit” en “almal”. Mense is óf goed óf sleg. • Katastrofering: Jy verwag vreesagtig die ergste. Bekommer jou en die “wat as”-sindroom. Wat as ek dop? My werk verloor? Hy my nie aanvaar nie? Ek kan nie foute maak nie, anders is ek nie bekwaam en aanvaarbaar nie. • Emosionele redenering: Wat ek voel, is die waarheid: Ek voel ek is ’n mislukking, daarom is ek ’n mislukking. • Ek is reg, die mag kom my toe: Wat ek dink, doen, wil hê en sê, is reg. Wanneer ander van my verskil, is ek op die verdediging. Ek probeer hulle verkeerd bewys en oortuig om soos ek te dink, of my standpunt te aanvaar. • Ek gee ander die skuld – vir wat in my kinderjare gebeur het, of ander is vir my foute en hartseer verantwoordelik en dis buite my beheer. Of ek neem myself kwalik vir alles wat skeefloop: “Ek is hopeloos, dom.” • Moets en moenies: Ek moet presteer, dit doen, of nie doen nie. Ek moet kry wat ek wil hê. “Jy moet dit doen, anders het jy my nie lief nie.“ • Vermyding: Dis makliker om liewer onaangename dinge te vermy as om die probleem te probeer oplos. • Martelaar-sindroom: “Ek het so hard gewerk, soveel opgeoffer en kyk wat kry ek.” Bitterheid wanneer ek nie kry wat ek wil hê nie. Eckhart Tolle sê die grootste menslike prestasie is nie kunswerke, die wetenskap of tegnologie nie, maar die erkenning van menslike wanfunksie, want dis waarmee ons onsself en die wêreld vernietig. Selfs verskillende godsdienste wat in wese dieselfde beginsels van liefde, genade, vrede en die welstand van die mensdom en wêreld voorstaan, kan ’n bittere, verdelende en gewelddadige mag word. Mense vorm God en Sy wil na hul beeld, identiteit en volgens hul denke. Hoe meer jou gedagtes en gelowe jou identiteit raak, hoe meer sluit jy jou van ’n spirituele dimensie af en word dit noodsaaklik om jou denke en geloof aan jou absolute waarheid gelyk te stel. Wanneer ander nie soos jy glo of dink nie, is hulle verkeerd en selfs die vyand. Woede en verdediging is sprekend van ’n ooridentifisering met eie persepsies. Dis hoe sterk ons oor ons “regte” voel. Denke sonder bewustheid en bevraagtekening is ’n tronk. Ons verknogtheid aan ons idees en goed ketting ons vas. Baie mense besef eers op hul sterfbed dat soveel dinge waaroor hulle so sterk gevoel het, eintlik betekenisloos is. Die antwoord, sê die filosoof Jean-Paul Sartre, is dat jy bewus moet wees van wat jy dink. Eckhart Tolle noem dit ’n “mind gap”. In daardie gaping lê die moontlikheid om te verander, asook die vermoë om enigiets te kan bevraagteken en geluk, vrede, liefde, kreatiwiteit en sin te beleef en die lewe nie so ernstig op te neem nie. Vryheid is die moontlikheid om al jou persepsies te laat vaar en net te kan wees wie jy is. Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark, Pretoria: • 012 460 7366 • [email protected]
http://www.rooirose.co.za/skryf-n-nuwe-hoofstuk/
2017-01-12 15:15:45
Inkleurboeke vir grootmense: mediteer só
Wie sou kon voorspel dat inkleurboeke vir grootmense in ons tegnologiese eeu ’n reuse-aanhang sou kry? Daar is deesdae meer as 3 000 verskillende inkleurboeke vir volwassenes op Amazon.com beskikbaar en verskeie is topverkopers. ’n Jaar gelede (2016) is al meer as sewe miljoen van Johanna Basford, ’n Skotse illustreerder met ’n kultusaanhang, se inkleurboeke vir grootmense verkoop. Haar boeke is gereeld op die New York Times se topverkoperlys en verkoop gou uit. Die eerste keer toe iemand liries raak oor inkleurboeke vir mense wat hul eie skoenveters kan strik en motor bestuur, het jy gedink jy hoor verkeerd. Dit gaan oorwaai, voorspel die slimmes aanvanklik. Maar dis ’n golf wat net groter word en dié wat meedoen, sê dis groot pret en hou boonop baie voordele in. In Frankryk het die verkope van inkleurboeke dié van resepteboeke verbygesteek. Dit sê dalk iets as jy lees dat Frankryk die hoogste voorkoms van depressie in die wêreld het. Selfs die modehuise Yves Saint Laurent en Hermès het hul eie inkleurboeke! Van die bekendste kunsterapeute trek hul neuse vir inkleurboeke op. In Psychology Today sê ’n bekende internasionale kunsterapeut Cathy Malshiodi: “Kryte of potlode wat heen en weer binne bestaande grense beweeg, is ’n vorm van beperking en breinverdowende ontvlugting aan die hier en nou.” Sy glo regte kunsterapie hou groot voordele in, maar dat inkleur niks meer as net “inkleur” is nie. Susan Jacoby, skrywer van The Age of American Unreason, sê in ’n onderhoud met die New York Times dat volwassenes wat hulself in kinderlike aktiwiteite soos inkleurboeke verdiep, dalk net wil terugkeer na veilige patrone omdat hulle die werklikheid wil vermy. Die aktiwiteit kwalifiseer dalk nie as ’n vorm van terapie nie, maar daar is ’n groeiende groep vroue wat dié tydverdryf as baie terapeuties ervaar. Sam Dreyer, eienaar van die aanlyninkleurwinkel Colouring HQ, sê mense verseker haar dat dit hulle laat ontspan en dat die verminderde spanning hul gesondheid verbeter en hul denke verhelder. Sommiges sê die inkleurdery het hulle gehelp om ’n trauma te verwerk, en ander dat hulle beter slaap wanneer hulle voor slapenstyd vir ’n halfuur inkleur. Groot aannames, veral as jy in ag neem dat ons hier praat van ’n aktiwiteit wat volgens kunsterapeute geen kreatiwiteit verg nie. Die inkleur van mandalas met hul simmetriese, herhalende patrone is veral gewild. Die Duitse psigiater Carl Jung het in 1930 al die waarde hiervan nagevors en sy bevinding was dat dit sy pasiënte laat ontspan het en spanningsvlakke verlaag het. Sam Dreyer bied opleidingskursusse vir sakelui by onder meer die Henley-sakeskool aan, maar inkleur is haar passie. Ja, die soort wat ons kleintyd met inkleurpotlode gedoen het. “Ek was in 2010 vuisvoos en uitgebrand: ek het my MBA-graad in daardie jaar voltooi en ek moes multimiljoenrandprojekte bestuur in die baie besige ses weke van die wêreldsokkerbeker.” Sy was gedaan en is Indië toe vir ’n blaaskans. Daar het sy afgekom op ’n inkleurboek met prente van mandalas (die San-skritwoord vir sirkels). “Ek is nie kunstig nie, maar ek het inkleurpotlode gekoop en begin inkleur. Dit was nie lank nie of ek het ’n groot kalmte in daardie spanninglose, kreatiewe ruimte ervaar. Ek sou nooit kon droom dat dit my eendag na my eie aanlynonderneming sou lei nie. “Ek het besef dat mense uiteenlopende voordele uit inkleur put. Dis ’n briljante manier waarop besige mense wat dit nie kan verduur om stil te sit en niks te doen nie, kan ontspan. Vir sommige mense is dit bloot ’n manier om af te skakel, vir ander is dit byna ’n soort meditasie. “Ek het al agtergekom dat wanneer ek ’n uur of twee inkleur, die gedeelte van my brein wat altyd baie aktief is op die inkleurpotlode fokus en die ‘geraas’ in my brein op die kleure. Dit voel asof ek ’n skoon spasie in my brein het waarin ek heeltemal kan afskakel en mediteer. “Inkleur het my kreatiwiteit in so ’n mate ontsluit dat ek, wat nie kon teken om my lewe te red nie, nou ’n inkleurboek met mandalas vir volwassenes, Mandala Mojo, geteken en uitgegee het. “Daar word daagliks van ons verwag om probleme op kreatiewe maniere op te los en die kreatiwiteit wat deur inkleur ontsluit word, het my baie gehelp om probleme beter te kan oplos. “Ek hou ook van die tasbaarheid van papier en potlode – dit anker jou in die hier en nou in ’n wêreld wat toenemend virtueel geword het.” “Ek het besef dat vroue krities op hulself is – ons wil mos perfek wees. Inkleur is ’n heerlike stokperdjie sonder enige mededinging. Daar is nie ’n regte of verkeerde manier van inkleur nie – jy besluit hoe jy dit gaan doen en jy het die bevrediging dat jy iets voltooi het.” Koop goeie potlode Potlode speel ’n groot rol in die genot wat jy uit inkleur put. Sam beveel aan dat jy ’n ordentlike stel potlode koop. “Dis nie ’n duur stokperdjie nie en goeie potlode gaan jou net soveel meer vreudge verskaf.” Sy sê ’n stel van 24 Pritt-inkleurpotlode teen sowat R50 is haar gunsteling, maar soek jy na die Rolls-Royce van inkleurpotlode, beveel sy ’n Faber-Castell Polychromos-stel van 120 potlode teen sowat R3 500 aan. *Pryse en inligting soos per Januarie 2017. Slaap beter Die blou lig wat skermtoestelle soos jou skootrekenaar en selfoon uitstraal, beïnvloed die vlakke van jou slaaphormoon, melatonien. ’n Slaaptydritueel wat die lees van e-posse of kuier saam met jou facebook-vriende insluit, kan jou slaapritme versteur. Inkleur, aan die ander kant, voer jou weg op ’n verbeeldingsvlug wat jou van ander spanning laat vergeet en ’n veel beter resep vir reise na droomland is. Manier om sosiale kontak te maak • Die meeste mense doen die inkleurding bloot vir pret en ontspanning, maar heelwat span dit in as ’n manier om sosiale kontak te maak. • Dis veral gewild onder vroue tussen 40 en 60 en ’n welkome uitkoms vir mense wat weens siektes, gestremdhede of die versorging van siek familielede huisgebonde is. • Hierdie vroue behoort aan facebook-inkleurgroepe waarheen hulle hul inkleurwerk “pos” en ook gesels oor nuwe kunstegnieke en inkleurtoerusting wat beter resultate verseker. • Sommige van hierdie groepe het tot 40 000 volgelinge. Hierdie nuutge-vonde passie het selfs in ’n stadium ’n wêreldwye tekort aan inkleurpotlode veroorsaak!
http://www.rooirose.co.za/inkleurboeke-vir-grootmense-mediteer/
2017-01-12 13:39:41
Is voorkomende vigsbehandeling reg vir jou?
Geen ma sal ooit promiskue seks aanmoedig nie. Ons ook nie. Maar seks op universiteit is meer algemeen as wat ouers dink. ’n Vinnige soektog op PubMed, waar alle erkende mediese navorsing geplaas word, lewer sommer dadelik drie ondersoeke op wat min of meer dieselfde bevind: rondom 30-50% van eerstejaarstudente is seksueel aktief, en teen hul derde, vierde jaar is 70% seksueel aktief. Die navorsers noem dat dit opvallend is dat die patroon oral dieselfde is. Dalk is syfers in ons land laer – of nie. (Jy kan self meer hier lees: artikel 1; artikel 2 en artikel 3). Hoe ook al, dit gaan nie noodwendig oor los sedes nie maar oor mense wat vir drie, vier maande in ’n verhouding is en dan verbrokkel dit. So beweeg selfs meer konserwatiewe studente binne een jaar tussen twee of drie maats – en oor ’n periode van drie jaar tussen twee tot 10 maats. En wat as jou kind glo die verhouding is eksklusief maar haar maat kul en/of weet nie wat sy vigsstatus is nie? Die punt is ons kinders is blootgestel aan vigs. Dit laat mens dus kyk na die nuwe PrEP, wat vigs 90% tot selfs 100% suksesvol met ’n daaglikse pil kan voorkom. Maar vóór jy op pille begin staatmaak, wat moet jy van PrEP as voorkomende behandeling vir vigs weet? 1 Wat is PrEP? Dit staan vir pre-exposure prevention. PrEP is nie ’n antibiotika of antivirusmiddel opsigself nie. Dit is in effek ’n voorkomende strategie – soos wat vaksinering ’n strategie is. Maar net soos ’n vaksien vir vaksinering gebruik word, word teenvirusmiddels vir PrEP gebruik. 2 Watter medisynes word vir PrEP gebruik? PrEP bestaan uit twee anti-vigsmiddels, wat saam in een pil met die naam Truvada gekombineer is. Op die oomblik is Truvada die enigste beskikbare middel, maar teen einde 2017 behoort generiese middels ook beskikbaar te wees. 3 Hoe werk Truvada om vigs te voorkom? Baie eenvoudig – maar te kompleks om te verduidelik. Die kombinasie van die twee anti-virusmiddels keer saam dat die virus vermeerder, en wis dit dus uit. 4 Hoe werk die PrEP-strategie? Die idee is dat jy Truvada daagliks gebruik en so die hoeveelheid anti-vigsmiddel in jou bloedstroom opstoot na ’n vlak wat die virus uitwis sodra jy daarmee in kontak kom. Dit kom daarop neer dat jou liggaam ‘gelaai’ is met medikasie, wat die virus vernietig voor hy vastrapplek kry. Gestel ’n meisie het onbeskermde seks met iemand wat MI-positief is. Dit bring mee dat die MI-virus in die vagina beland. Die MI-virus dring die sagte slymvleisselle binne en versprei daarvandaan na die res van haar liggaam. So raak sy MI-positief, en ontwikkel sy uiteindelik vigs. Tensy sy op Truvada is. Truvada spring aan die werk en keer dat die virus vermeerder. Dit onderbreek dus die onafwendbare verloop van infeksie met die MI-virus. 5 Hoe suksesvol is Truvada? As dit reg gebruk word, is dit bykans 100% suksesvol. Maar in party ondersoeke was die sukseskoers so laag as 50%. Die navorsers skryf hierdie groot verskil daaraan toe dat baie mense Truvada nie korrek gebruik nie. Truvada is net doeltreffend om vigs te voorkom as jy dit korrek gebruik. 6 Hoe moet jy Truvada reg gebruik om seker te maak dit beskerm jou goed teen vigs? Jy moet elke dag een pil op min of meer dieselfde tyd van die dag drink. Dit is die maklikste as jy ’n tyd kies wat jy aan ’n vaste roetine kan koppel. As jy party oggende sesuur opstaan en ander tot elfuur slaap, is opstaantyd nie ’n goeie tyd nie. As jy egter altyd min of meer eenuur middagete eet, is dit ’n goeie tyd om vas te maak vir jou daaglikse Truvada. 7 Help Truvada dadelik om vigs te keer? Nee. Net soos die Pil, moet jy dit minstens ’n maand lank gebruik voor die konsentrasie daarvan in jou weefsel hoog genoeg is om die MI-virus uit te wis. 8 Wat as jy jou Truvada een keer vergeet het? Of ’n paar dae oorgeslaan het? Jy verloor jou beskerming baie gou. Net soos met die Pil, is jy tydelik – eintlik vir die volgende maand – onbeskerm teen vigs. Hervat jou roetine en drink op jou gewone tyd weer ’n pil. Maar wag vier weke voor jy weer seks het want dit kan tot ’n maand neem voor jy volkome veilig is. 9 Help Truvada na seks? Nee, dit is te laat. Die hele strategie is gebou op vooraf-beskerming. Onthou, dit neem ’n maand voordat jou Truvada-vlak hoog genoeg is om die virus af te weer. Gaan liewer dadelik dokter toe, of na jou naaste kliniek, waar jy getoets sal word en op die regte medikasie vir jou omstandighede geplaas sal word. 10 Kan jy Truvada saam met die Pil gebruik? Ja. Truvada kan saam met enige vorm van die Pil gebruik word, soos die ondervel-implantaat, die Mirena, die plakker, die O-ring of die inspuiting. 11 Is Truvada veilig? Dit is vir die meeste jong mense veilig maar die vernaamste rede waarom PrEP-middels net op voorskrif te kry is, is sodat jou dokter seker kan maak dat jý nie een van die mense is wat liewer nie PrEP-middles moet gebruik nie. In die reël moet mense wat reeds MI-positief is, Hepatitis B het of lewer- of nierprobleme het nie hierdie medikasies gebruik nie. Dit bots ook met verskeie ander soorte pille – nog ’n rede waarom jou dokter moet uitklaar of dit reg is vir jou.
http://www.rooirose.co.za/is-voorkomende-vigsbehandeling-reg-vir-jou/
2017-01-16 05:00:19
Skryf dit in jou (fees)dagboek vir 2017
Kirstenbosch-somerkonserte Vir Kapenaars is dit die ‘in ding’ op Sondae! Hierdie ontspanne konserte skop af tussen 17:00 en 17:30 in die rustige Kirstenbosch Botaniese Tuine en kaartjiepryse wissel tussen R90 en R165. Kunstenaars vanjaar sluit in Dan Patlansky, Goldfish, Francois van Coke en Karen Zoid. Klik hier vir meer Park Acoustics Hierdie maandelikse familie-vriendelike konsertreeks skop af op Sondag, 5 Februarie by Fort Schanskop (op dieselfde gronde as die Voortrekker Monument), met Francois van Coke. Kaartjies wissel tussen R120 tot R150. Besoek die webblad vir meer Bonnie Tyler Met treffers soos ‘Holding out for a Hero’ en ‘Total Eclipse of the Heart’, gaan hierdie internasionale popsensasie gehore behoorlik meevoer met geskeduleerde optredes op 22, 24 en 26 Maart by die Johannesburg Teater. Kaartjies beloop tussen R250 en R950. Klik hier vir meer Oppikoppi 23 Alhoewel die kunstenaars nog nie bevestig is nie, kan geen Suid-Afrikaanse feesganger homself as ’n gretige musiek-aanhanger beskou sonder om ’n draai by dié stowwerige bosveldbasis en dekadente viering van plaaslike (asook internasionale), vermaak te maak nie. Hou ’n oog op die webblad: www.oppikoppi.co.za vir meer inligting. Early Bird-kaartjies is beskikbaar teen R750. Kanala Die tipiese klassiek van Suid-Afrikaanse teater, Kanala, is geskep deur David Kramer om die 50ste bestaansjaar van die hardhandige verwydering van mense uit Distrik 6 (deur die destydse Apartheidsregering) te herdenk. Dit volg op die hakke van Kramer en wyle Taliep Peterson se hoogs suksesvolle musiekblyspel Distrik 6, Kat and the Kings en Fairyland. Kanala sal opgevoer word tot Sondag (26 Februarie). Kaartjies kos R200. Bespreek jou plek hier Musiek-ervaring Vanderbijlpark Met opvoerings deur Moneoa en Gcwensa, Saterdag (25 Februarie) by Emerald Resort and Casino, is dit ’n geleentheid wat nie misgeloop kan word nie. Early Bird-kaartjies is beskikbaar teen R180. Klik hier The Lumineers Ná hul trefferliedjie Ho Hey, van hul tweede studio album, was die vier jaar se wag vir Cleopatra uit en uit die moeite werd gewees. Die internasionale musiekgroep is geskeduleer om Suid-Afrikaanse aanhangers op Woensdag (26 April) by Green Point Park in Kaapstad en Vrydag (28 April) by die Ticket Pro Dome in Johannesburg met hul talent te kom vermaak. Kaartjies vir 26 April (Green Point Park) beloop R545 terwyl kaartjies vir 28 April (Ticket Pro Dome) R745 kos. Klik hier Justin Bieber Die internasionale popsensasie, Justin Bieber, lê vanjaar ’n besoek aan Suid-Afrika af as deel van sy 2017 Purpose World Tour. Hy tree op 14 Mei by die FNB Stadium in Johannesburg op en 17 Mei by die Kaapstad Stadium. Kaartjies beloop tussen R350 en R15 000. Bespreek jou plek hier Rocking the daisies Kry jou tent, sintuie, fiets en stapskoene gereed! Hierdie enig in sy soort, eko-vriendelike fees is ’n skouspel om te aanskou en vind plaas net buite Darling tussen 5 en 8 Oktober 2017. Hou jou oë oop vir inligting oor die kunstenaars op die fees se webblad: www.rockingdaisies.com Early Bird kaartjies is beskikbaar teen R750. Innibos Hierdie ikoniese Afrikaanse kunstefees vind vanjaar plaas vanaf Woensdag (5 Julie) tot Sondag (8 Julie). Jy kan verwag om vermaak te word deur die beste in Afrikaanse musiek en teater, asook Afrikaanse literatuur en leefstyl. Kaartjies is nog nie beskikbaar nie, maar kunstenaars wat gaan optree sal op 1 Mei 2017 op die fees se webblad www.innibos.co.za aangekondig word.
http://www.rooirose.co.za/skryf-dit-in-jou-feesdagboek-vir-2017/
2017-01-25 10:37:27
5 smullekker slaaie
1 Beetslaai met bokmelkkaas Koop sommer klaargaar beetkwarte by Woolies of Checkers. Genoeg vir 4 • ’n hand vol roket en bronkors (watercress) gemeng • 400 g (1 pak) gaar beetkwarte in vinaigrette • 2 x 100 g-rolletjies bokmelkkaas met swartpeper • 1 middelslag- rooi ui, in fyn ringe gesny • 30 ml (2 e) olyfolie • 30 ml (2 e) balsemiekasyn + ekstra vir opdiening 1 Pak die roket en bronkors uit op ’n mooi opdienbord. 2 Sit die beet op die blare. Sny die bokmelkkaas in sirkeltjies en pak dit tussen die beet. 3 Pak die uieringe oor die slaai en sprinkel die olyfolie en balsemiekasyn oor. 4 Meng net voor ete deur en sit met ekstra balsemiekasyn voor. Nog idees Die beetslaai werk net so goed met fetakaas of bolletjies sygladde mozzarella. 2 Nektarien-en-murgpampoentjie-slaai Genoeg vir 6 • 5 groot murgpampoentjies, met ’n groenteskiller of mandoliensnyer in dun repe gesny • 5 nektariens, in wiggies gesny • 45 ml (3 e) olyfolie • sout en gemaalde swartpeper • 50 g parmesaanskaafsels • 30 ml (2 e) truffelolie (opsioneel, want dis vrek duur, maar dit maak die slaai spesiaal, kry dit by Woollies) 1 Plaas die murgpampoentjies, nektariens en olyfolie in ’n mengbak en geur met sout en peper. 2 Verhit ’n riffelpan en rooster die murgpampoentjies en nektariens aan albei kante. 3 Pak op ’n mooi opdienbak. Sprinkel die parmesaanskaafsels en truffelolie oor. 3 Salm-en-avokado-slaai Genoeg vir 6 1 Skil en sny 2 avokado’s in kwarte. Rangskik op ’n groot dienbord. 2 Pak 200 g gerookte salm tussen die avokadoskywe. 3 Dreineer 1 x 310 g-blik mandarynskyfies en 1 x 410 g-blik pomeloskyfies en sit in die slaai. 4 Strooi 50 g (’n halwe pakkie) gekapte pistasieneute oor. Voeg laastens twee hande vol vars bronkors (watercress) by. 5 Meng 20 ml (4 t) lemoensap, 60 ml (¼ k) olyfolie, 5 ml (1 t) Dijon mosterd en 2,5 ml (½ t) gemaalde gemmer. 6 Voeg die gerasperde skil van een lemoen en 5 ml (1 t) vars tiemieblaartjies by. Geur met seesout en swartpeper. 7 Sprinkel oor die slaai en sit voor. 4 Hoender-en-sondroëtamatie-slaai Genoeg vir 4 • 30 ml (2 e) olyfolie • 4 hoenderborsies, ontbeen en sonder die vel • 70 g parmaham (of enige ander goeie ham) • 60 ml (¼ k) dennepitte,liggies gerooster • 60 ml (¼ k) sagte sondroëtamaties in olie • ’n groot hand vol basiliekruidblare • sout en gemaalde swartpeper • 60 ml (¼ k) olie van die sondroëtamaties • 15 ml (1 e) balsemiekasyn • 80 ml (¹/³ k) basiese slaaisous 1 Verhit die olie in ’n pan oor matige hitte. Braai die hoenderborsies vir 8-10 min. in die olie tot goudbruin en gaar. Haal uit en laat tot kamertemperatuur afkoel. 2 Sny die hoender diagonaal in dun skywe en pak op ’n dienbord uit. Voeg die parmaham, dennepitte, sondroëtamaties en basiliekruid by. 3 Slaaisous: Meng die olie van die sondroëtamaties en balsemiekasyn met die basiese slaaisous en gooi oor die slaai. 5 Roket-en-beet-slaai Genoeg vir 6 • 400 g beet (sowat 12 kleintjies) • 30 ml (2 e) olyfolie • sout en gemaalde swartpeper • 60 ml (¼ k) crème fraîche grasuie, gekap • 70 g (1 pakkie) roket • 15 ml (1 e) olyfolie • sout • 1 rooi ui, in dun skyfies gesny • 100 g dennepitte, liggies gerooster Balsemiekslaaisous • 80 ml olyfolie • 30 ml (2 e) witwynasyn • 1 knoffelhuisie, gekap • 5 ml (1 t) korrelmosterd • 5 ml (1 t) heuning • ’n paar vars tiemieblare Voorverhit die oond tot 190 °C. 1 Sny die onderkante van die bete af sodat hulle regop kan staan. Sprinkel met olyfolie en geur met sout en peper. Bak vir sowat 30 min. of tot die beet sag is. 2 Sny die beet in kwarte, maar nie heeltemal deur nie. Druk effens oop en skep ’n lepeltjie van die crème fraîche in elke beet. Strooi die gekapte grasuie oor. 3 Rangskik die roketblare op ’n dienbord en pak die beet daarop uit. Voeg die rooi uie en geroosterde dennepitte by. 4 Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en giet oor die slaai.
http://www.rooirose.co.za/5-smullekker-slaaie/
2017-01-10 11:11:08
Eerstejaar? 5 suksesgeheime
Die studente wat universiteitstoelating kry, is slim genoeg. Dié wat technikons en kolleges toe gaan ook. Almal kan op IK slaag. Tog wys syfers wêreldwyd 50% skop ná die eerste jaar op. Deurkom is belangrik. Vir jou, want dit kos ’n klein fortuin. Vir jou kind ook, want dop is traumaties, veral in ons samelewing wat vir sukses gerat is. Kan ons iets doen om ons amper-grootmens studentekinders suksesvol te maak? Ons het by die Universiteit van Stellenbosch se studentedienste aangeklop. Wat jy nié moet doen nie Net daar, op daardie punt, verklap jy jy is ’n tipiese Baby Boomer-ma van ’n tipiese Generasie Y-student, lag prof. Charl Cilliers. “Die dominante tema onder ons generasie ouers is mos ‘my kind se sielkundige opbou’. Ons glo ons moet ons kinders se selfbeeld blink gepoets hou.” Ons prys en komplimenteer oneindig, en waar ons kind en ons woorde nie kan bykom nie, spring ons self in en doen wat ons kan. En nie net Afrikaanse mammies nie. ’n Amerikaanse opname wys 31% van studente se ouers het die lektore gebel om oor hul kind se punte te praat. Ons staan in en staan reg – en het die verskynsel van “learned helplessness” by Generasie Y gekweek. Wat gebeur as ons skielik ophou help? Lees ook: Ongelukkige generasie Y Jy moet help, sê dr. Ludolph Botha. “Mislukking is geweldig negatief vir jou kind. Maar besin oor hóé. Moet net nie die fout maak om te dink jou 1970’s/1980’s studente-ervaring rus jou toe om raad te gee oor hoe hy hom vir sy werkslewe van nou tot omtrent 2060 moet voorberei nie. Waar ons op kennis kon fokus, het vandag se studente ander vaardighede ook nodig, soos hoe om kennis in splinternuwe kontekste toe te pas.” Lees ook: Die Y-generasie en die einas Ons het in ons eie leeftyd dinosourusse oor akademie geword. Maar ons kan darem nog ’n paar laaste takies vir ons kinders doen. Selfs nou, enkele weke voor lift off. Hier is hulle: 1 Pas sy kursus en sy passie? Charl maak ’n baie geldige punt: “Die Y-generasie wil hulle uitleef. Dus is passie ’n sterk motiveerder. Daarom sien ons ‘true grit’ – daardie ding van jou hakke inslaan en vasbyt met moeilike take – by studente met ’n passie vir hul rigting. Studente sonder daardie passie haal dikwels nie die paal nie.” Wat kan jy doen? Bring jou kind vir beroepsvoorligting, glo beroepsvoorligter Anita Louw. “Baie matrieks is nog te onervare om te weet waar hul passie lê. Hul talente, belangstellings en persoonlikheidsprofiel is ’n goeie beginpunt. “Kom sélf oopkop. Ons dink steeds universiteit is die beste of enigste opsie omdat dit jou kind werk en die beste salaris waarborg. Dit is lankal nie meer waar nie. Kinders in die verkeerde rigting word ongelukkige werkendes. Die laaste ding wat jy jou kind toewens, is ’n ongelukkige werkslewe van veertig, vyftig jaar. “En dan glo ek aan job shadowing sodat jou kind verskillende soorte werke verken. Laat hy sy hoërskoolvakansies, en selfs hierdie laaste een, gebruik om werksgebiede te verken. “As hy reeds ’n passie het, laat hom dit ook toets om seker te maak hy sien nie net die glanskant nie. As hy dink hy sal daarvan hou om ’n sjef te wees, gaan werk – gratis – in ’n kombuis. En in ’n paar verskillende soorte kombuise.” 2 Versterk sy interne kontrolelokus Charl glo tieners het een groot, laaste persoonlikheidsontwikkelingstaak: om vir jouself te besluit omdat jy weet wat jy wil hê. “Dan kan hy prioritiseer en kies. Wil ek nou swot, of wil ek saamkuier? Nou gaan slaap, of eers later? Wat is vir my be-langrik? Waaraan wil ek my tyd bestee?” Wat kan jy doen? “Ongelukkig kan jy nie sê ‘Boetie, leer dit gou’ nie,” sê De Wet Schoeman, programdirekteur van die eenjarige gap-jaar entrepreneurskapkursus van die Universiteit van Stellenbosch. “Dit is ’n proses. Ek noem dit persoonlike meesterskap – jou kind se selfkennis van sy tipiese denkpatroon, watter talente en sterk punte hy het en nie het nie, én dat hy hou van wie hy is, al is dit iemand heel anders as wat jy as ouer verwag. Hy weet wat hom opgewonde maak en wat hom nie veel traak nie. “Mense met hierdie vlak van volwassenheid het nie maats se goedkeuring nodig nie. Hulle weet waarheen hulle op pad is en kan selfgemotiveerd die nodige doen om daar te kom. “Dié volwassenheid kom met tyd, en veral as jou kind die kans kry om vir homself verantwoordelikheid te aanvaar, verkeerd te kies, die gevolge te dra en dan daaruit te leer.” As Sus moderne dans wil doen maar jy dink RAD-ballet het meer status, leer sy haarself nie ken nie. As jy haar skooltas inpak, haar mondeling skryf en soggens drie keer roep om op te staan leer sy iemand anders moet haar lewe bestuur. As iets by die skool pla en jy gaan praat met die onderwyser, leer sy nie hoe om vir haarself te onderhandel nie. En as jy regmaak wanneer sy verbrou, leer sy nie uit haar foute nie. Laat jou kind maar op skool fouteer. As hulle die gevolge dra, leer en groei hulle juis. Iets om in gedagte te hou: keuses en verantwoordelikhede moet darem by jou kind se ouderdom pas. En as jou kind nou nog nie daar is nie? Moedig hom aan om op ’n road trip te gaan, ’n vakansiewerk te doen, verantwoordelikheid te aanvaar vir die gesin se kos … enigiets waar hy sonder toesig en sonder hulp onafhanklik besluite neem en deurvoer. 3 Sy nuwe ondersteuningsnetwerk Tot nou toe was jy sy vangnet. Nou moet hy losmaak. Maar Generasie Y het ’n baie intense behoefte aan “behoort”. ’n Bietjie minder van jou beteken hy soek meer steun by sy portuurgroep. Wat kan jy doen? Minder is beter, want hy moet self uitreik. Moedig jou kind aan om by ander kampusaktiwiteite betrokke te raak – maar nie net om hom te geniet nie. Die drinkersklub het die laagste “toegangsvereiste”. Dit is ’n groot “klub”: 33% Matiemans beskou hulle as drinkers en 50% sien hulle as matige drinkers. Die syfers lyk vir seker dieselfde by alle ander instellings. “Op Stellenbosch praat ons graag van die GraadPlus-konsep – die idee dat ’n student moet uitstap met soveel meer as net kennis en vaardigheid,” sê Ludolph. “Vriendskappe bou, is ’n groot deel daarvan. Daarom moedig ons eerstejaars aan om in die koshuise te bly. As hy uit die huis studeer, moet hy juis inskakel.” Pieter Kloppers vertel van hul nuwe geïntegreerde huise: “Ons noem dit die luister-leer-en-leef-huise, waar agt studente van verskillende kursusse, rasse, geslagte en agtergronde doelbewus gemeng word en gestruktureerd gesels oor onderwerpe soos volhoubaarheid, ekonomiese ontwikkeling, media en so aan. Hulle staan tou om hier in te kom, want hulle besef dit verbreed visies, bou die vermoë om in situasies van diversiteit te funksioneer, kweek kulturele insig, versterk bande en maak hulle meer bemarkbaar.” Maar soms loop jou kind hom in probleme vas. Wat dan? “Ons, soos die meeste tersiêre inrigtings, het hope gratis studentesteun, soos geleenthede om met lektore oor akademiese probleme te gesels en studentementors om met enigiets anders te help. Al voorwaarde is dat die studente sélf moet aanmeld.” Maar, sê Ludolph, talle, en veral A-kandidate, dink hulle het nie hulp nodig nie en dink dit is vernederend om hulp te vra. “’n Gesprek wat elke ouer met sy kind moet hê, is die een dat mislukking ’n tydelike probleem is – nie ’n skande nie. As jy vashaak, moet jy maar net die probleem oplos. Opskop en weghardloop is nie die antwoord nie. “En weer eens: jou taak eindig by jul gesprek. Jou kind moet self oplossings en opsies gaan soek. Hy moet nou ontwikkel in sy eie probleemoplosser en die vertroue in homself opbou dat hy kán.” 4 ’n Geoliede verstand ’n Wits-ondersoek wys die suksesvolle student lees en luister met insig: hy snap feite, sien die rangorde van die feite raak, volg veral die onderliggende argument, kan dit in sy eie, outentieke stem ekstrapoleer na verskillende situasies en kan nuwe modelle daarop grond. Dit is ’n hele mond vol. Wat kan jy doen? Baie … maar nie oornag nie. Dit begin met die manier waarop julle tuis gesels, sê De Wet. “Dit gebeur wanneer jy jou kind vra ‘hoekom dink jy so?’ en ‘wat dink jy van …?’, en dan luister na sy antwoorde en meer vrae vra. Sommer op tien al. Dit ontwikkel as jy jou kind toelaat om ander menings as joune te hê. Dit ontwikkel as jou kind lees, luister, kyk, deelneem, doen en dit dan bespreek.” Dit ontwikkel as jou kind met skoolprojekte leer hoe om die inligting sinvol te orden en hoe om met ’n vertrekpunt te begin wat eindig met ’n gevolgtrekking en dalk selfs met toepassings. Jou kind behoort op skool ’n kursus oor studie- en werkstukmetodes te doen. 5 Maak hom stresvaardig Stres stapel baie gou op. Dink net wat jou kind alles moet hanteer: (a) vyf keer meer werk wat hy (b) blitsig (c) moet bemeester en (d) op nuwe maniere moet verwerk (e) sonder jou as netwerk (f) in ’n nuwe omgewing waar hy (g) net een van tienduisende is, dikwels moet (h) kies tussen akademie en sosialisering en verantwoordelik is vir (i) sy eie kos, (j) huishouding, (k) vervoer en (l) finansies, (m) ’n nuwe roetine vir homself moet uitwerk en (n) ’n sosiale groep moet kry waarvan hy deel voel terwyl hy (o) te doen kry met mense met ander standpunte, waardes en agtergronde. Dit alles terwyl jy (p) sukses verwag en (q) verkondig hoe duur sy studie is. Wat kan jy doen? Gee erkenning vir elke aspek wat hy onder die knie het. Klein suksesse bou sy vertroue dat hy verdere suksesse sal behaal. Herinner hom dat genoeg slaap, gesonde eetgewoontes, oefening, vriende en positiewe ontspanning net so noodsaaklik soos studie is. Maar hy gaan soms verkeerd kies, foute maak en toetse dop, sê De Wet. “Ek verstaan nie hoekom ons verwag alles moet die eerste keer reg uitwerk nie. ’n Flater is ’n leerproses, nie ’n fatale, onomkeerbare ramp nie. As jou kind fouteer, moenie die stres verhoog met verwyte nie. Sê eerder dit is oukei, solank hy daaruit leer en self die probleem kreatief oplos. Foute maak studente sterker mense vorentoe.”
http://www.rooirose.co.za/eerstejaar-5-suksesgeheime/
2017-01-30 12:28:57
SPAR Irene Lantern Race 2017
Die roete, wat by die Irene ARC-kampus begin en eindig, sal verlig wees om die 4 000+ hardlopers te help om hul eindpunt te bereik. Elke hardloper sal met ’n kopliggie deelneem. Die SPAR Lantern-padwedloop vind op 15 Februarie 2017 by die ARC (Agricultural Research Council)-kampus in Irene plaas en bied beide ’n 10 km-roete en 5 km-pretwedloop. Kontantpryse is op die spel vir hardlopers wat beplan om te wen, asook verskeie SPAR-geskenkpakke wat op die aand weggegee sal word. Die eerste 10 mans, eerste 10 vroue en alle kategorie-wenners sal gouemedaljes ontvang terwyl die volgende 100 atlete wat die wedloop voltooi, elkeen ’n silwermedalje sal ontvang. Daarna sal die eerste 3 000 atlete wat die 5 km en 10 km-roetes voltooi, bronsmedaljes wen. Besoek www.irenerunner.co.za vir meer besonderhede. Jy kan ook die pamflet hier aflaai: irene_lantern_race_2017
http://www.rooirose.co.za/spar-irene-lantern-race-2017/
2017-01-25 13:38:29
Rolene Strauss se baba gebore
Rolene het Sondagoggend (8 Januarie 2017), ‘n foto op Instagram gedeel van haar seun se handjie wat haar vinger vasgryp. Sy skryf daarby: “Welkom klein Prins. Jy het ons harte gesteel en dit met die beste liefde en geluk moontlik gevul.” Rolene en D’Niel is in Februarie verlede jaar (2016), getroud en het in Augustus Rolene se swangerskap aangekondig. Op Instragram voeg Rolene by ma en baba is gelukkig en gesond en dat hy 4.18 kg weeg. “Ons is ewig dankbaar vir ons bondel vreugde. My seuntjie, die wêreld is jou oester,” skyf sy.
http://www.rooirose.co.za/rolene-strauss-se-baba-gebore/
2017-01-10 09:20:37
Large on the Lawn
Breakout en City Parks bring nou ’n musiek-omgewing na Gauteng wat koste-effektief is en mense bymekaarbring vir ’n namiddag saam met vriende en familie. Large on the Lawn vind plaas in Golden Harvest Park in Randburg se 55 hektaar park met roetes rondom die dam en inheemse bosveld. Jeremy Loops en Matthew Mole is die eerstes wat die Large on the Lawn-verhoog op Sondag, 29 Januarie 2017 sal betree. Vir Jeremy Loops-aanhangers is daar ’n paar nuwe liedjies, saam met ouer bekendes, op die speellys. Piekniekmandjies en drankies word toegelaat (glas sal egter nie in die park toegelaat word nie). Konsertgangers kan hul eie kos en drankies inpak vir dié ontspanne piekniek-ervaring. Laat Large on the Lawn jou Sondag in ’n ontspanne dag saam met vriende in die mooi natuurskoon omskep, terwyl julle na salige musiek luister. Sondag, 29 Januarie 2nm tot 5nm – Jeremy Loops en Matthew Mole Sondag, 26 Februarie 2nm tot 5nm – Francois van Coke en Jack Parow Adres Golden Harvest Park, First Road, Randburg, 2169 GPS-koördinate: 26.065955 | 27.954065 Kaartjies beskikbaar by breakout.nutickets.co.za Algemene toegang: Volwassenes – R150 (kaartjie fooie uitgesluit) | Tieners 17-13 – R125 (kaartjie fooie uitgesluit) | Kinders 03/12 – R85 (kaartjie fooie uitgesluit) Kinders 3 en onder geniet gratis toegang. Let wel: Kaartjies is nie oordraagbaar nie Webwerf en Kaartjies: largeonthelawn.co.za Facebook: facebook.com/largeonthelawn Instagram: instagram.com/largeonthelawn Twitter: twitter.com/largeonthelawn
http://www.rooirose.co.za/large-on-the-lawn/
2017-01-13 12:08:31
Miskraam: ’n pynlike verlies
Die verlies van ’n kind bly een van die moeilikste ervarings waardeur ouers moet werk. Daar kom ’n wond wat nie gou genees nie. Vir baie vroue is dit uiters traumaties, en hulle ervaar gevoelens van depressie, woede, selfverwyt en voel soms selfs jaloers op swanger vroue. En tog, vanweë die intense emosionele belewenis daarvan, praat almal nie maklik daaroor nie. Om die gevoel van verlies en emosies te onderdruk of te vermy en nooit daaroor te praat nie, is nie gesond nie. Die kindjie hoef nie vergeet te word nie. Ouers kan gereeld positiewe gedagtes terugbring oor die mensie wat hulle verloor het. Dis nodig om tyd hieraan te bestee en ruimte daarvoor te maak. Niemand kan hiervan wegstap asof niks gebeur het nie. Dr. Schalk Botha, ’n lewensafrigter en traumaberader, sê ’n vrou wat ’n miskraam gehad het, asook haar man, moet besef hulle het ’n verlies gely wat nie onderskat moet word nie. ’n Normale rouproses gaan waarskynlik verloop. Hy sê die verlies is nie net die verlies aan “’n iemand” wat die ouers nou nooit sal ken nie en waaroor hulle altyd sal wonder nie, maar ook ’n verlies aan drome, planne en verwagtings vir die kind, verlies aan opgewondenheid oor die gereed maak, en selfs die verlies aan die emosionele liefdesverbintenis wat tussen man en vrou gebeur het. “Omdat dit ’n verlies is, beteken dit die normale proses van aanvaarding, emosionele ontlading en aanpassing sonder die kindjie, moet mooi deurgewerk word.” Wanneer verlies in ’n huis verwerk moet word, kan man en vrou dit vir mekaar maklik of baie moeilik maak. Die verlies van ’n kindjie of potensiële kindjie is dikwels ’n toets vir die huweliksverhouding. Huweliksmaats kan óf wegdryf van mekaar, óf nader aan mekaar groei. “Die ideaal is goeie kommunikasie waarin ouers hul gedagtes en emosies deel en mekaar toelaat om die pyn te beleef en te deel,” sê dr. Botha. “Soms is daar onderlinge verwagtinge wat die gesonde interaksie tussen hulle belemmer, veral verwagtinge oor die hantering van die verlies. Dikwels verstaan die man nie die vrou se reaksies of belewenisse nie, en doen ook nie moeite om haar te bereik nie, wat rampspoedige gevolge kan hê. Wedersydse ondersteuning is seker die heel belangrikste wanneer mense deur ’n verlies werk.” Hy sê die uitdaging vir paartjies wat mis-krame of stilgeboortes gehad het, lê daarin om met die verlies saam te leef. “Die verlies moet sinvol geïntegreer word in mense se lewe op pad na ’n nuwe begin. Daar kom weer ’n tyd van herbelê in ’n nuwe lewetjie wat die Here moontlik maak. Nie om die ander kindjie te vervang nie, maar ’n nuwe kindjie uit eie reg. “Voor dit kan gebeur, moet deur die hele rouproses beweeg word. Wanneer iemand iewers in die proses vashaak, kan skuldgevoelens, woede, vrae oor God, spyt en selfverwyt ’n belangrike rol begin speel. Dan moet die persoon hulp by ’n terapeut soek om weer perspektief te kry en die rouproses te voltooi.” Om ’n familielid, vriend of vriendin in ’n tyd van verlies te ondersteun vra geduld en wysheid. “Mense reageer verskillend op gebeure,” sê dr. Botha. “Hul reaksie is ook gegrond op verskillende persepsies en betekenisgewing aan gebeure. Daarom kan en mag jy nooit namens iemand besluit hoe erg ’n gebeurtenis is nie, en ook nie vooraf besluit hoe iemand dit moet hanteer of beleef nie. “Tree met omgee en empatie op sonder om te oordeel, deel in hul storie, help hulle om hul verhaal te vertel met al die emosies en gedagtes wat hulle ervaar en moet hulle nie keer om hul verlies te ervaar nie,” is dr. Botha se raad. “Bied vir hulle die omstandighede waarbinne hulle hul rigting na die toekoms kan uitpluis. Help hulle om nuwe perspektiewe te ontwikkel. “Die wêreld is ’n stukkende plek waarin slegte goed gebeur maar die Here se liefde is steeds daar en ’n nuwe toekoms is steeds moontlik.” Ondersteun jou vriendin só na ’n miskraam Wees bereid om te luister en sonder om te oordeel. Ondersteun haar waar jy kan en help met spesifieke take soos om aandete te maak, na haar ander kinders om te sien, of die telefoon te beantwoord en boodskappe te neem. Gee haar kans om op haar eie manier en eie tyd te rou maar wees bedag daarop as sy dalk in die proses vashaak en hulp moet kry. Help haar om professionele hulp te kry as sy depressief word. Lesers vertel • Jaco en Gerda Opperman was aanvanklik effens geskok toe hulle hoor ’n identiese tweeling is op pad. “Maar ons het gou geborrel van vreugde en vir almal vertel wat wou hoor,” vertel Gerda. “Ek het gedroom oor hul kamer, die maatjies vir my tweejarige dogtertjie, en sommer al die veranderinge wat gebeur as jy skielik drie kinders het. “Maar net ná week 13 het ons die skok-nuus gekry dat die tweeling se hartjies nie meer klop nie. Ons het dit glad nie verwag nie en was bitter hartseer. Dit het gevoel of ’n deel van my hart saam met my babatjies dood is.” Gerda vertel ook dat sy dikwels trane moes terugsluk wanneer sy haar vriendinne swanger of met nuwe babatjies gesien het. ’n Parasiet in haar ingewande was die oorsaak van die miskraam. “Ek en my man het besluit om eers op die herstel van my liggaam te fokus voor ons weer aan ’n baba dink. Ek moes sewe maande met pyn en baie onsekerheid saamleef en het baie dae byna moed verloor. Maar tyd genees, en nou kyk ek nie terug nie, en glo dat ek gou weer die opgewondenheid van swangerskap sal ervaar.” • Marie Burger het uitgesien na haar 12 weke ondersoek. Maar die nuus was soos ’n emmer koue water: Die fetus het drie weke gelede al ophou groei en daar is geen hartkloppie meer nie. “Ek het nooit gedink dit sou met my gebeur nie. Hoekom het ek nie onraad vermoed nie, het ek oor en oor gevra? Die waarheid het stadig maar seker tot my deurgedring. Ná die skraap was my liggaam lankal gesond toe my hart nog stukkie vir stukkie moes heel,” vertel sy. “Ek is altyd in beheer, maar toe was ek onstabiel en emosioneel. Ek het nie kans gesien vir die mense om my nie en was so verskriklik teleurgesteld en het soos ’n mislukking gevoel. “My man was my steunpilaar en het van my verantwoordelikhede tydelik op hom geneem. Tog kon ek ondanks ondersteuning en my eie wilsbesluit om aan te gaan met my lewe, nie die stukke opgetel kry nie en het ’n traumaberader gaan spreek. Dit het my nuwe perspektief gegee en ’n belangrike rol in die heelwordproses gespeel.” • Anita Venter se dogtertjie is op 34 weke doodgebore. “Ek het begin twyfel of ek my baba nog voel beweeg en dokter toe gegaan. Haar hartjie het ophou klop.” Anita sê sy het aanvanklik geen emosie beleef nie. “Ek het die babaklere uit my hospitaaltassie gepak. Maar drie dae ná die keisersnee het die verlies my soos ’n skokgolf getref. Mense se goed bedoelde opmerkings soos dat ek gelukkig nog ander kinders het, of dat dit maar beter so is, of dat daar dalk fout was met die baba, het my geweldig ontstel. “Ek is met leë arms huis toe, maar my hart was nog leër. Nina se dood is steeds ’n misterie. Daar was geen fout nie en ek sal nooit verstaan nie, maar ’n sielkundige het my gehelp om die trauma te verwerk. “Ek het ’n album gemaak met sonarfoto’s, foto’s van ons baba, en ook foto’s wat by die begrafnis geneem is. Ek sal altyd onthou, maar nou berus ek by God se besluit. Hy het my krag en moed gegee toe ek dit baie nodig gehad het.” Anita vertel ook dat haar familie en vriende vir haar baie beteken het in haar tyd van rou. “Hulle het ’n netwerk van ondersteuning om my gevorm. Dit was terapeuties om met bekendes oor die gebeure en my ervaring daarvan te praat.” • Rechélle Vermaak het twee miskrame gehad waarvan die tweede op 22 weke. “Ons was opgewonde oor die swangerskap en het die babatjie ‘Appelkosie’ genoem toe ons die eerste sonars sien. “Ek het spontaan in kraam gegaan toe ek nog nie eens geweet het hoe die tekens van die kraamproses lyk nie. Ons het alles gedoen wat ons kon om die kontraksies te keer, maar sonder sukses. Ná drie dae is ons babatjie na-tuurlik gebore. Hy het net 505 gram geweeg, maar was ’n perfek gevormde mensie. Ek het hom vasgehou, maar geweet hy gaan nie saam huis toe nie. Dit was verskriklik! Dit het so onregverdig gevoel. Ek sou hom dan so baie lief gehad het … ek het reeds.” Rechélle sê sy het in depressie verval en moes professionele hulp kry om haar verlies te verwerk. “Ek kon nie verstaan hoe die Here dit ’n tweede keer toelaat nie. My wêreld het inmekaargetuimel en ek het rigtingloos rondgedwaal waar ek normaalweg ’n energieke en gefokusde mens is. Die verlies en trauma was vir my te groot. “Ek het begin navorsing doen, maar daar is baie min ondersteuning vir vroue wat miskrame gehad het in Suid-Afrika. Compassionate Friends, wat eintlik ondersteuning bied aan ouers wat kinders verloor het, het my met ope arms ontvang. Hulle het vir my ’n steunpilaar geword.” Rechélle se navorsing het uitgeloop op ’n gemeenskapsprojek. Sy en ’n vriendin wat ook ’n miskraam moes verwerk, het pas ’n webwerf die lig laat sien waar Suid-Afrikaanse vroue wat miskrame gehad het, asook hul lewensmaats, inligting en ondersteuning kan kry. Die webadres is www.mymiskraam.co.za “Daar is soveel vroue wat al hierdie seer beleef het, en tog praat mense nie maklik daaroor nie. Dit is een van die mees onerkende verliese wat daar is. Die webwerf bevat inligting oor miskrame, wat met ’n vrou se liggaam gebeur, hoe mans en vroue onderskeidelik reageer, die rouproses, hoe om ’n vriendin ná ’n miskraam te ondersteun, waar om hulp te kry vir trauma en depressie en ondersteuningsgroepe waarby aangesluit kan word. Daar is ook ’n interaktiewe deel waar vroue hul ervarings kan deel en mekaar kan ondersteun,” vertel Rechélle. Die wetlike aspekte van ’n stilgeboorte en wanneer en hoe om ’n begrafnis van ’n doodgebore baba te reël word ook volledig op die webwerf bespreek.
http://www.rooirose.co.za/miskraam-n-pynlike-verlies/
2017-01-27 14:16:39
Churros en sjoko-fudgesous
Genoeg vir 6 • 110 g (½ k) strooisuiker • 5 ml (1 t) fyn kaneel • 125 g koekmeel • 125 g bruismeel • ’n knypie sout • 30 ml (2 e) olyfolie • 450 ml kokende water • genoeg olie vir diepbraai 1 Meng die suiker en kaneel en hou eenkant. 2 Sif die koek- en bruismeel en sout saam in ’n mengbak en maak ’n holte in die meel. 3 Meng die olyfolie en water en gooi dit in die holte terwyl jy die mengsel met ’n vurk klop. Meng tot daar geen klonte is nie. Die deeg moet sag en taai wees. Laat rus die deeg vir 10 min. 4 Maak ’n middelslagkastrol halfvol olie en verhit oor matige hitte. Skep die mengsel in ’n pypsak met ’n sterpunt. Toets eers met ’n bietjie deeg of die olie warm genoeg is. 5 Hou die sak ’n entjie bokant die kastrol en spuit die deeg in die olie. Doen twee stringe op ’n slag. Braai tot goudbruin en die stringe na bo dobber. 6 Skep met ’n gaatjieslepel uit en dreineer op kombuispapier. Strooi die kaneelsuiker oor en doop in die sjoko-fudgesous. Sjoko-fudgesous Meng 250 ml (1 k) room met 100 g (½ k styf gepak) sagte bruinsuiker, 30 ml (2 e) gouestroop en 15 ml (1 e) botter. Verhit stadig oor matige hitte en roer heeltyd. Trek van die hitte af en gooi 100 g donker sjokolade (ruweg gekap) by. Roer tot dit gesmelt is en sit warm met die churros voor.
http://www.rooirose.co.za/churros-en-sjoko-fudgesous/
2017-01-25 14:33:15
Koolhidrate: die groot wit gevaar?
Wat laat jy weg as jy koring uitsny? Meel en alles wat daarvan gemaak is, soos brood, beskuit, koek, koekies, pastei, pizza en pasta, witsous, oliebolle, gebakte poedings, semolina, bulgur en koeskoes. Maar jy kan rog, rys, mielies, stampmielies, aartappels, ertjies, patats, soja, neute, grondbone, grondboonbotter, pretzels, aartappelskyfies, hawermout en pappe eet. Gebak met rys-, aartappel-, rog-, mielie-, soja- en ertjiemeel is ook reg. En hoewel jy die kors sal weglaat, kan jy steeds die vulsels van suurlemoenmeringue, kaaskoek en appeltert eet. Wie sny dit uit? Die alternatiewe terapeute beveel al jare lank aan dat mense koring uitsny omdat dit gluten bevat, wat hulle aan van sinus tot artritis koppel. Konvensionele dieetkundiges glo net mense met ’n koringallergie, soos bepaal by ’n patologielaboratorium, behoort koring uit te sny. Wat laat jy weg as jy koolhidrate uitsny? Dit is byna onmoontlik om koolhidrate heeltemal uit te sny omdat alles behalwe vis, vleis, eiers, olies, margarien en botter koolhidrate bevat. Wat die meeste mense doen, is om hul koolhidrate drasties te verminder deur die hoëkoolhidraatkosse weg te laat en meer op laekoolhidraatkosse te fokus. Hulle laat alles met koring weg plus veral die volgende: suiker, lekkers, sjokolade, heuning, roomys, vrugte, koeldranke, bier en alle soorte wyn. Kitskos, wors en polonie is propvol koolhidrate en word ook weggelaat. Dieselfde geld bone, neute, sade, wortels, beet en al die soorte pampoene. Melk, kaas en jogurt bevat min koolhidrate, so ook komkommers, sampioene, die meeste koolsoorte en blaargroentes soos slaai en spinasie. Hulle bly dus in. Die alkoholiese suikerplaasvervangers soos sukralose tel ook as koolhidrate maar hulle word nie goed geabsorbeer nie en kan goed as deel van ’n laekoolhidraatdieet werk. Wie sny dit uit? Mense op laekoolhidraatdiëte soos Atkins sny koolhidrate tot op die minimum. Dieetkundiges onderskei tussen verfynde stysels met ’n hoë GI en growwe stysels met ’n lae GI. Hulle beveel aan dat almal hoofsaaklik lae-GI-stysels eet, saam met minder proteïene en baie min vet. Dit werk veral as jy gewig wil verloor, hartkwale het of diabeties is. Wat is die verskil tussen koolhidrate en suiker? Ons dink aan koolhidrate as “melerige stysels” en aan suiker as “soet”. In werklikheid is hulle almal uit glukosemolekules opgebou en dus ekwivalent. Waar suiker uit net twee glukosemolekules bestaan, is koolhidrate komplekse ritse glukosemolekules. Jou liggaam breek suiker en koolhidrate af na glukose, jou een basiese brandstof. Die ander twee is vette en proteïene. Die werklike verskil lê in jou reaksie op die twee: jy breek die komplekser koolhidrate baie stadiger as suikers af. Dit neem jou dus langer om energie daaruit te haal. Of anders gestel: komplekse koolhidrate verskaf ’n paar uur aaneen energie, terwyl suiker binne twintig minute energie gee maar gou opbrand. Hoekom maak witbrood vetter as bruinbrood? Hulle bevat dan ewe veel kilojoules? Dit het juis met hierdie afbreekspoed te doen: die verfynde koolhidrate in die witbrood word binne ’n halfuur afgebreek na glukose en in jou bloed vrygestel vir jou selle as brandstof. Alles wat nie onmiddellik gebruik word nie, word omgebou in vet en in jou vetstoor (daardie rolletjies en kuiltjies) gebêre tot jy dit nodig het. Ná sowat ’n halfuur is die witbrood weggewerk. Nou spring jou liggaam se baie slim terugvoerstelsel aan die werk en kondig aan dat daar nie meer glukose in jou bloed is nie. Jou eetlus word gestimuleer, met die gevolg dat jy binne 60-90 minute honger is. En sommer desperaat honger. Jy eet dus gou weer – en so eet jy al meer. Gestel jy het volgraanbrood geëet: Omdat volgraan ’n komplekse koolhidraat is, haal jou liggaam die glukosemolekules as ’t ware een vir een daar uit – ’n proses wat twee tot drie uur neem. Jy word dus oor ’n lang tyd van glukose in jou bloed voorsien. Daardie terugvoerstelsel bly jou vertel dat jy genoeg bloedglukose vir brandstof het en jou eetlus word nié aangeskakel nie. Jy eet minder omdat jy nie honger is nie – en daarom bly die vetjies makliker weg. Vir wie is growwe stysels beter? Dis beter vir almal, tensy jy midde-in ’n marathon is. Wat het koolhidrate met cholesterol te doen? As jy koolhidrate vir vleis verruil, gaan jou cholesterolvlakke mos styg? Moontlik. Maar nie noodwendig nie … wat die navorsers behoorlik laat kopkrap. Dit is in die reël waar dat die vet van vleis aan hoër cholesterol gekoppel word. Dit is die hoofrede waarom die meeste dieetkundiges teen die koolhidraatvrye diëte waarsku. Maar daar is ’n ander kant aan dié storie: Die jongste stukkie wat nog nie mooi in die legkaart inpas nie, is die feit dat die slegte LDL-cholesterol in verskillende groottes kom. Klein LDL-partikels word aan groter hartrisiko gekoppel. Hoewel dit waar is dat LDL-vlakke van mense op laekoolhidraat-diëte kan opgaan, óf sak, óf dieselfde bly, wys al die ondersoeke dat dit klein LDL verminder en groter LDL vermeerder. Dus: hoe minder koolhidrate, hoe beter vir jou sóórt LDL, ten spyte van wat die syfertjie sê. Dan is daar die uitwerking op jou trigliseriedvlak. Dit is een van die belangrike bloedvette wat as deel van jou cholesterolprofiel gemeet word. Hoe laer jou trigliseriedvlak, hoe kleiner jou kans op beroerte en hartsiektes. Waar kom trigliseried vandaan? Van die koolhidrate wat jy eet. Jou oortollige koolhidrate en suikers word as trigliseried (’n soort vet) gestoor. As jy min koolhidrate eet, is daar min oor om as trigliseried te stoor. So sak jou trigliseriedvlak. Jou dokter sal dus sê jou cholesterolprofiel lyk beter. ’n Bevestigde voordeel van minimum koolhidraatdiëte is dat dit jou HDL opstoot. Ondersoeke wys jou goeie HDL-cholesterolvlak styg as jy koolhidrate sny. Is dit goed vir jou om koolhidrate te sny? Dit hang af: fyn, wit koolhidrate en suikers is ’n slegter keuse as byna enigiets anders op die spyskaart. As jy diabeties is, of hoë cholesterol het, kan dit die moeite werd wees om te kyk wat die uitwerking op jou cholesterolprofiel en bloedsuikervlakke is. Maar as jy besluit om koolhidrate te sny, doen dit onder die toesig van ’n dokter, wat sal sorg dat dit behoorlik gemonitor word.
http://www.rooirose.co.za/koolhidrate-die-groot-wit-gevaar/
2017-01-24 15:39:53
Yster of folaat?
Yster is die suurstofkoerier wat elke sel in jou liggaam van sy pakkie suurstof vir energie voorsien. Te min yster beteken te min suurstof in jou selle en spiere – en ’n lewe sonder woema. Daarby is yster noodsaaklik vir breinontwikkeling by groeiende kinders en tieners. Sonder yster werk ’n volwasse brein en senustelsel ook nie te waffers nie. Verder speel yster ’n dubbeldoorrol in jou immuunstelsel. Van die vorms waarin yster in jou liggaam gehou word, is ferritien (gestoorde yster) en hemoglobien (yster in rooibloedselle) en elkeen word vernuftig ingespan om bakterieë af te maai. Die yster in jou hemoglobien word gebruik om waterstofperoksied (die einste blondine-in-’n-bottel chemikalie) vry te stel, wat bakterieë doodmaak. Ferritien se rol werk so: Bakterieë het yster nodig om te kan vermeerder. Jou liggaam manipuleer dié feit deur tydens ’n infeksie ferritien te vermeerder om yster vas te bind en ontoeganklik vir die bakterieë te maak. Die gevolg? Hulle kan nie groei en vermeerder nie. Sowaar slim. Dit het ’n interessante implikasie: as mense met TB, MIV-vigs en malaria en ander chroniese infeksies yster aanvul, kan hulle juis die organismes help vermeerder. Is jou yster laag? Daar is verskillende soorte bloedystertoestande, sê dr. Danie Kotzé, Kaapse hematoloog. “Hulle het verskillende oorsake. So het megaloblastiese anemie niks met yster te doen nie. Dit word deur ’n tekort aan folaat en/of vitamien B12 veroorsaak. As jy hiervoor yster sou neem, kan jy jou ystervlakke so verhoog dat jy hart- en lewerskade opdoen, jou gewrigte beskadig en diabetes ontwikkel.” Vir pernisieuse anemie sal ’n vitamien B-aanvulling net so min soos yster help. Dié outo-immuunverwante oorsake moet eerder uitgepluis word. As jy die volgende tekens by jouself sien, moet jy dit opvolg met ’n laboratoriumbloedtoets en die regte oplossing vir jou daarop grond. 8 leketekens • Jy is koulik • Jy het nie krag nie: jou spiere word gou moeg en jy kan nie deurdruk nie • Jy het ’n vinnige hartklop • Jy kry seertjies in jou mondhoeke en jou tong is teer • Jy proe nie goed nie • Jy het rustelose bene-sindroom • Jou onderste ooglid is aan die binnekant baie bleek • As jy op jou vingernaels druk, word hulle wit en bly lank wit voor hulle pienk word. By mense met genoeg yster keer die pienk kleur binne ’n sekonde terug. Hoekom nie te veel nie? Yster is van die aktiefste oksideerders (die teenoorgestelde van ’n anti-oksidant) wat allerlei reaksies – goed en skadelik – aan die gang kan sit. Jou liggaam bind yster in byvoorbeeld ferritien en hemoglobien om te keer dat daar vry yster is, maar as jy aanvul en jou van yster oorvoorsien, oorskry jy jou liggaam se vermoë om yster te akkommodeer. Wat doen hierdie ekstra vry yster? Daar is ’n skakel tussen te veel yster en byvoorbeeld diabetes en/of metaboliese sindroom, sê die Linus Pauling-instituut van die Oregon-staatsuniversiteit. Daarby kan te veel yster jou lewer beskadig. Nog ’n ernstige nadeel van ’n ysteroormaat is dat dit aan breinaftakelende siektes soos Alzheimer- en Parkinsonsiekte gekoppel word. Hoewel ’n ystertekort seldsaam is onder mans en ouer vroue, wys Franse navorsing waarin 3 932 middeljariges 13 jaar lank gevolg is, dat postmenopousale vroue met lae ystervlakke tekens van demensie ontwikkel. Weer eens kan aannames oor jou ysterstatus jou duur te staan kom – toets en doen aanvulling rég. Nog ’n rede waarom aanvulling net soms nodig is: Jou liggaam het ’n oulike manier om yster te behou: dit herwin letterlik ou yster. Twee derdes van jou yster is in die vorm van hemoglobien, die hoofbousteen van jou rooibloedselle. Rooibloedselle leef vier maande en sterf af. Maar pleks van die yster bloot uitskei en verloor, herwin jou liggaam dit en bêre dit in ferritienmolekules, waar dit in jou lewer gestoor word tot jy weer yster nodig het. Dit is die rede hoekom die lewer tradisioneel ’n goeie bron van yster is. Yster vir swangerskap? Mans raak selde ysterarmoedig, sê ADSA-dieetkundige Jeanie Nel. “Min mans het ’n aanvulling nodig. Die mense vir wie yster eintlik belangrik is, is ons. Ons verloor met menstruasie maandeliks ’n bietjie yster, en vroue wat lank of swaar menstrueer, kan bloedarmoedig raak. Het ons ekstra yster gedurende swangerskap nodig? “Dit klink logies dat jy nou yster moet aanvul omdat jou liggaam nou meer bloed maak om vir die baba en veral sy breinontwikkeling te voorsien. In werklikheid het die meerderheid swanger vroue oorgenoeg yster en beveel ons glad nie yster aan nie, tensy ’n bloedtoets ’n ystertekort bevestig. Ysteraanvullers is ook geneig om mense hardlywig te maak, waarmee baie swanger vroue juis sukkel,” sê Jeanie. Atlete het soms ’n ystertekort weens bloedverlies van ’n heel ander aard, sê Jeanie. Die voortdurende impak van hul voete op die grond laat die selle in hul voetsole bars, met klein maar baie bloedinkies, waardeur hulle yster verloor. Dit het niks met hul dieet te doen nie, en die oplossing is dat hulle na ander oefening met minder impak soos fietsry of swem moet oorskakel. 5 toestande Ons sê maklik iemand is anemies, sê dr. Danie Kotzé. Maar eintlik is daar verskillende soorte bloedysterprobleme: • Gebrekkige ysterstore: Jy het geen “spaar”yster nie maar wel genoeg yster dat jou liggaam eintlik goed funksioneer. • Funksionele ystertekort: Jy het te min yster vir jou daaglikse behoefte. Maar jy het nog gesonde rooibloedselle. • Ystertekort-anemie: Jou ystervlak is so laag dat jou rooibloedselle verminder. Boonop krimp hulle en bevat minder hemoglobien as normaal. • Megaloblastiese of makrositiese anemie: Dit het niks met yster te doen nie maar met ’n tekort aan folaat en/of vitamien B12. Jou rooibloedselle is tipies groot maar onvolwasse en kan nie doeltreffend funksioneer nie. • Pernisieuse anemie: Hierdie soort is te wyte aan outo-immuunsiektes wat die maagwand vernietig. Sonder dié selle kan jou liggaam nie vitamien B12 opneem nie. 4 maklike planne 1 Eet vleis: Oesters, rooivleis, hoender, eiergele en vis soos tuna (geblikte tuna tel ook) bevat heemyster, die vorm van yster wat ons die maklikste opneem. 2 Eet plantyster as jy anemies is: Volgens die Linus Pauling-instituut neem bloedarmoedige mense skynbaar makliker nie-heemyster op. Vir jou is rosyne, pruimedante, spinasie, aartappels met skilletjies, lensies, kasjoeneute, kase, melk en jogurt die beste. 3 Vermy dít: Nie-heemyster is baie sensitief: eet dit saam met die verkeerde kosse en jou liggaam neem tot 50% minder daarvan op. Vermy in die twee uur voor en ná jou nie-heemysterkos meel (gebak, brood, beskuit), rys, koffie, tee, wyn, soja en tofoe. 4 Eet dít saam: Aan die ander kant help party kosse jou opname van nie-heemyster, soos vitamien C (in veral lemoene en koejawels) en jogurt (veral amasi, wat meer melksuur as Bulgaarse jogurt bevat). Interessant genoeg help kosse met heemyster dat jy ook makliker nie-heemyster opneem. 5 uitstekende ysterhappies • Oesters met suurlemoensap • ’n Tjoppie met ’n aartappel in die skil • ’n Hand vol rosyne, kasjoeneute en kaasblokkies saam met biltong • Geblikte tuna met suurlemoensap en maaskaas • Drink daarmee saam vars lemoensap (vir die vitamien C daarin), of water. Vermy tee, koffie en wyn vir twee uur ná jou “yster”-ete.
http://www.rooirose.co.za/yster-of-folaat/
2017-01-30 10:15:57
Margaret uit Hollywood: 74ste Golden Globes
Die groot wenner van die aand was die musiekfliek La La Land. Die fliek het skoonskip gemaak en weggestap as die grootste wenner van die aand, nadat dit ál sewe toekennings ontvang het waarvoor dit genomineer was, onder andere die toekenning vir die beste musiek- of komediefliek asook vir beste aktrise en akteur (Ryan Gosling en Emma Stone). LEES OOK: Ryan Gosling gesels oor La La Land Meryl Streep het die Cecil B. DeMille-toekenning vir haar uitstaande bydrae tot die vermaaklikheidsbedryf ontvang. Sy het tydens haar toespraak uitspraak gelewer oor hoe sy oor Donald Trump voel en sy het ook haar vriendin, die oorlede Princess Leah (Carrie Fisher), aangehaal: “Neem jou hartseer en omskep dit in kuns,” het sy gesê. Nicole Kidman was genomineer vir beste ondersteunende aktrise in ’n fliek (Lion), maar Olivia Colman (The Night Manager) het uiteindelik met die prys weggestap. Claire Foy, van die televisiereeks The Crown, het die toekenning vir beste aktrise in ’n dramareeks ontvang. Matt Damon en sy goeie vriend Ben Affleck het grapperig hul aanbiederspligte voltooi en kon later darem vir Ben se kleinboet, Casey Affleck, gelukwens met sy toekenning vir die beste akteur in ’n dramafliek (Manchester By The Sea). The Crown is bekroon as die beste dramareeks op televisie en Billy Bob Thornton is as beste akteur in hierdie kategorie aangewys.
http://www.rooirose.co.za/margaret-uit-hollywood-74ste-golden-globes/
2017-01-13 15:19:15
Janina Oberholzer gesels oor Wêreld Kankerdag
Wat verkies jy, radio of televisie? My groot liefde is radio. Ek het op my eerste dag van universiteit by Tuks FM aangesluit. Drie jaar later het ek die geleentheid gekry om by Jacaranda FM te gaan werk. Ek was eers agter die skerms, en ’n paar maande later het ek weer agter die mikrofoon ingeskuif. Ek was van dag een af verlief op die medium. Deur net klank te gebruik om die luisteraar vasgenael te hou, is vir my die lekkerste uitdaging. Ek is ook dankbaar dat ek in my 10 jaar in die bedryf saam met wonderlike mense kon werk. Martin Bester, Barney Simon, Darren Scott en Rian van Heerden om net ’n paar te noem. Ek sal dit wat ek by hulle geleer het altyd koester. Wie weet, dalk is my terugkeer na radio net om die draai … Wat is die lekkerste deel van jou werk by Toks ’n Tjops? Die wonderlike span saam met wie ek elke week kan werk. Ons is regtig soos ’n klein TV-familie. Vrydae op stel is altyd vir my ’n hoogtepunt. Ek is ook baie bevoorreg om van ons land se top sportmanne en -vroue, asook kunstenaars te ontmoet. Ek dink die lekkerste deel vir ons gaste is beslis Vaatjie se kos. Het jy nog altyd van rugby gehou? Ek was nog altyd lief vir sport. Alle sport. Maar my liefde vir rugby het beslis tydens die 2007 Wêreldbeker versterk. My Pa was ook erg verbaas dat in ’n gesin vol WP-ondersteuners, en met my eerste besoek aan Nuweland op die ouderdom van 9, ek steeds die Blou Bulle ondersteun. Hoe verseker jy dat mense jou ernstig opneem? Ek doen my huiswerk. Ek lees baie en doen my navorsing. Wanneer ek in die ateljee instap, wil ek voorbereid wees … Sodat ek nie met ’n mond vol tande sit nie, en sodat ek selfvertroue het. Hoe bly jy nederig? My vriende, familie en my geloof hou my plat op die grond. My suster, Lianne, is eerste in die ry om my gou weer aarde toe te bring. Ons is beste vriendinne. Sy ken my baie goed. Ek is ongelooflik dankbaar dat ek my droom elke dag kan uitleef, en ek besef ook dat dit nie vir ewig is nie. Ek probeer hard dat die bedryf my nie verander nie. Roem was nog nooit iets waaroor ek gedroom het nie. Waaroor ek wel gedroom het, was om mense te vermaak. Ek is steeds dieselfde mens binne as wat ek op skool was, en dis te danke aan die mense naby aan my. Hardloop en ry jy nog fiets? Wat is jou volgende uitdaging? Wat is ’n nuwejaar sonder ’n nuwe uitdaging? Ek pak in Maart die Cape Town Cycle Tour aan. Dis te danke aan ’n “dare” deur Breyton Paulse. Ons is ’n groot groep wat die Cycle Tour vir liefdadigheid aanpak. Bobby van Jaarsveld, Breyton Paulse, Victor Matfield, Je-ani Swigelaar en Cindy Swanepoel (van Binnelanders-faam), onder andere. Vir iemand wat Graad 3 laas op ’n fiets was, is ek hard aan die oefen. Die week bestaan uit draf, spin-klas en fietsry. Maar my grootste uitdaging is om die fietsryskoene (cycling cleats) te bemeester. Alles vir liefdadigheid. Jy is ’n ambassadeur vir PinkDrive. Vertel ons meer daarvan. Ek het in 2016 vir Noelene Kotschan, die CEO van PinkDrive, by ’n Pick n Pay Womens Walk ontmoet, en het dadelik betrokke geraak. Ek het geweet dit is iets wat ek moet doen. Dis baie naby aan my hart. In September 2016 het my Ginekoloog abnormale selle op my serviks gevind. Ná ’n operasie en ’n biopsie het hy bevestig dat kankerselle wel teenwoordig is. Dit is dadelik verwyder. Ek is so dankbaar dat dit vroeg verwyder is, en dat geen verdere behandeling nodig was nie. En dit is die hoof leuse van PinkDrive: “Early detection saves lives”. Ek is “living proof” dat dit regtig die waarheid is. Dames, maak seker jy besoek jou Ginekoloog gereeld. Kry ’n papsmeer. Gaan vir ’n mammogram. Indien jy nie een kan bekostig nie of jy weet nie wat die eerste stap is nie, besoek gerus www.pinkdrive.co.za. Hulle sal kan help. Dink jy mense (veral vroue) is genoeg ingelig oor Borskanker? Glad nie. Vroue moet ’n punt daarvan maak om maandeliks selfondersoek te doen. Weet wat die waarskuwingstekens is. Dis hoe jy jouself beskerm. Gaan vir jou mammogram. Moet dit nie uitstel nie. En dis nie net dames wat borskanker kry nie. Mans moet ook weet waarvoor om op die uitkyk te wees. Dis baie belangrik. Van jonk tot oud. En sodra jy dalk iets voel of sien wat nie pluis is nie, besoek dadelik ’n dokter. Hoe vroeër hoe beter. Dit kan jou lewe red. Het jy al iemand aan kanker verloor? My ouma is aan kanker oorlede. En my goeie vriendin se ma het aan die einde van 2016 haar stryd teen kanker verloor. Dis nooit lekker om iemand aan die dood af te staan nie. Ek bid vir elke persoon en gesin wat teen die groot K baklei. Mag kanker binnekort vir almal iets van die verlede wees. Watter verskil hoop jy om met PinkDrive te maak? As ek net een vrou of man se lewe kan red deur hulle aan te moedig om vroegtydig hulp te kry, dan is dit genoeg. Ek kan nie meer klem op dit lê nie. Early detection saves lives! Wat gaan jy vanjaar op Wêreld Kankerdag doen? Wêreld Kankerdag vind op 4 Februarie plaas. As PinkDrive-ambassadeur gaan ek die PINK DAY Eendag-wedstryd tussen die Proteas en Sri Lanka by die Wanderers-stadion bywoon. Dis die 5de PINKDAY ODI hierdie jaar, en ons hoop dit gaan groter wees as ooit. Jy kan jou deel doen deur jou kaartjies vir die wedstryd te koop en op die dag pienk te dra. Jy kan ook ’n R20 donasie maak deur “CRICKET” na 40158 te SMS. Wat wil jy nog bereik? Oe! Daar is so baie dinge op my “bucket list”! Waar sal ek begin? Dalk net by die top 3 dinge op my lys: Om vir Roger Federer in aksie te sien. Om my eie reisprogram aan te bied. En om regtig ’n verskil in iemand se lewe te maak. Wat is jou lewensmotto? Moet nie bang wees om jou drome met mense te deel nie. Sê dit hardop. Jy weet nooit wie luister nie. *Besoek pinkdrive.co.za om meer oor die waarskuwingstekens van borskanker uit te vind.
http://www.rooirose.co.za/janina-oberholzer-gesels-oor-wereld-kankerdag/
2017-01-23 10:41:36
Jy is goed genoeg
Die artikel “Kry jou lewe terug” in die rooi rose van Februarie 2017 wys jou wat om te doen as jy outomaties ander se welsyn bo jou eie stel. In die artikel word daar verwys na sogenaamde Volwasse Kinders. Hier kan jy meer oor die verskynsel lees. Kleintyd al was jy verantwoordelik, betroubaar. Nou is jy ’n volwassene met ’n huis, ’n werk, dalk ’n gesin. Vreemd genoeg het jare se verstandige optrede jou nie voldoende voorberei op die grootmenslewe nie. In spanningsvolle situasies voel jy dikwels soos ’n kind: kwetsbaar en asof jy nie régtig die paal haal nie. As jy boonop voortdurend die behoefte het om jouself te verbeter en onwillekeurig verantwoordelikheid aanvaar vir alles en almal, is jy tien teen een ’n “volwasse kind”. “Sielkundiges het die begrip volwasse kind jare lank gebruik om die kinders van alkoholiste te beskryf,” sê Judy Klipin, Martha Beck master life coach van Johannesburg. “Omdat een of albei ouers nie behoorlik in die volwasse wêreld kan funksioneer nie, dra dié kinders van jongs af ’n reuseverantwoordelikheid op hul skouers. Hulle neem praktiese take en ander verantwoordelikhede by hul ouers oor en kan nie net sorgvry kind wees nie. Hul onvoorspelbare omgewing skep angs. Hulle weet dikwels nie wat om volgende te verwag nie. Baiekeer beskerm die gesin alkoholiste teen die buitewêreld, wat die las van geheimhouding op gesinslede lê. Hierdie faktore beïnvloed die manier waarop sulke kinders hulself en die werklikheid sien. Hulle voel dikwels hulle moet onfeilbaar voorkom, dis vir hulle moeilik om ander te vertrou, en hulle kry swaar om hulp te vra. Hulle kan in hul kinderjare nie kind wees nie, en voel as volwassenes nie waarlik soos grootmense nie.” Met haar werk met lewensafrigtingskliënte het Judy tot haar verbasing agtergekom dat volwasse kind-eienskappe nie net by die kinders van alkoholiste voorkom nie. “Enigiemand wat opgroei in ’n omgewing wat onvoorspelbaar, ontwrigtend en op fisieke, emosionele of geestelike vlak chaoties is, kan só voel. Dit maak nie saak of dit net op kort termyn is, of wat die aard van die ontwrigting is nie. ’n Ma wat drie dae op die randjie van die dood in die hospitaal lê, ’n natuurramp soos aardbewings, depressie, finansiële druk in die huis, of om kosskool toe te gaan, kan hierdie uitwerking op ’n kind hê. Navorsers meen tot 80% van alle kinders beland een of ander tyd in ’n situasie waar hulle nie op hul ouers of primêre versorger kan vertrou nie en self die leiding moet neem. Eintlik dink ek die meeste mense kan hulle hiermee vereenselwig. “Die belangrikste is om bewus te wees van die uitwerking wat sulke ervarings het. Kliënte sê keer op keer vir my hulle het altyd gedink húlle is die probleem. Dan gaan daar ’n lig op en hulle besef die ‘fout’ lê by die omstandighede waardeur hulle gevorm is.” Eienskappe Judy het haar waarnemings in haar selfhelpboek, Life Lessons for the Adult Child, saamgevat. “Omdat ek ’n lewensafrigter is en nie ’n terapeut nie, val die hoofklem nie op kliënte se verlede nie, hoewel ons kennis neem van die manier waarop dit hul beskouings en gedrag beïnvloed het. Ons fokus op die hede en gebruik hulpmiddels en tegnieke om hul interaksie met die werklikheid te verander sodat hulle ’n gelukkiger lewe kan lei.” Sogenaamde volwasse kinders, sê Judy, is onbesonge helde. “Die Amerikaanse kundige oor persoonlike groei, John Bradshaw, som hul ingesteldheid op as other-centredness. Omstandighede dwing hulle vroeg-vroeg om beheer te neem van moeilike situasies en die beste moontlike uitkoms te probeer skep. Hulle is gewoonlik fyn waarnemers omdat hulle kleintyd geleer het om wakker te loop in ’n omgewing waar énigiets kan gebeur. Op die oog af is hulle onafhanklik, omdat hulle so vroeg al verantwoordelikheid vir ander moes dra en selfs konflik moes ontlont. Dit eis natuurlik sy tol. “Hulle dra die angs en onsekerheid wat hulle kleintyd moes verdring, altyd saam. In sekere omstandighede, soos wanneer hulle ’n baas moet konfronteer, kom dit na die oppervlak. Baiekeer besef ander nie hoeveel innerlike spanning hulle ervaar nie. ’n Verlies aan beheer, soos ’n afspraak wat onverwags uitgestel word, kan hulle dramaties affekteer. “Omdat hulle altyd lig moes trap, is hierdie mense dikwels ernstig en kan hulle nie sommer net spontaan pret hê nie. Hulle is bang om ligsinnig of onverantwoordelik voor te kom. Hulle kan ook ’n oormatige afhanklikheid van ander se goedkeuring hê en voortdurend wil voel dat ander hulle nodig het. “Volwasse kinders is geweldig selfkrities omdat hulle as kinders gevoel het hul ouers se ongelukkigheid is op een of ander manier hulle skuld. Dit veroorsaak dat hulle hulself blameer as iets verkeerd gaan, maar as iets goeds gebeur, is dit bloot ’n gelukskoot of aan ander te danke. Hulle vertrou nie sommer dat goeie omstandighede sal voortduur nie, en weens ontnugterings in die verlede is dit vir hulle moeilik om ander te vertrou. “Daarby is hulle meestal onseker oor wat ’normaal’ is. Dit lyk dalk of alle ander mense die mas opkom en ’n wonderlike lewe lei. “Dis dikwels vir volwasse kinders swaar om die waarheid te praat. Toe hulle klein was, is hulle tien teen een gestraf wanneer hulle hul ouers se skandes of sosiaal onaanvaarbare gedrag uitgewys het. Hulle leer om feite so te plooi dat dit hulle in ’n beter lig stel of hul eie lewe makliker maak. Hulle is ook meesters in die kuns daarvan om die beste van ’n slegte saak te maak. Hulle sê gou: ‘Ag, dis nie so erg nie.’ “As kinders was hul enigste verweer soms om hulself emosioneel van hul omgewing af te sluit. Later kan dié verdedigingsmeganisme tot afgestompte emosionele belewenisse lei, wat nie net minder leed nie maar ook minder lewensvreugde beteken. “Ongelukkige gesinne skep ironies genoeg dikwels getroue gesinslede. Baie volwasse kinders is intens lojaal en bly hoop dat omstandighede beter sal word as hulle net die regte dinge kan doen. Hulle verskoon ander se swak gedrag en bly in verhoudings of werksituasies wat hulle lankal nie meer goed doen nie. “Intieme verhoudings kan ’n groot uitdaging wees. In ongelukkige gesinne ontbreek goeie rolmodelle en ongekompliseerde verhoudings. Dit kan uitloop op die ‘I want you – go away’-sindroom. Volwasse kinders het ’n behoefte aan nabyheid, maar die vrees vir verwerping of teleurstelling is so groot dat die gewone onplesierighede in ’n verhouding hulle kan laat oorreageer.” Fisieke simptome wat volwasse kinders kan ervaar, sluit gespanne skouers, hoofpyn, lae rugpyn, gastro-intestinale stoornisse, verkoue en griep, slaapprobleme, lae energie en moegheid, allergieë en sinusitis, en seksuele disfunksie in. Dis belangrik om te besef dat die meeste volwasse kinders net sommige van bogenoemde eienskappe het, en dan in verskillende grade. Dit kom dalk net op sekere lewensgebiede voor, soos by die werk of in familieverhoudings. Daar is hoop Maar die volwasse kind-prentjie is nie net donker nie. “Om ’n volwasse kind te wees, bring sy eie gawes. Hulle is dikwels insigryk, intuïtief, sensitief, empaties, betroubaar, innemend, vrygewig en kreatief. Oënskynlike swakhede kan ’n positiewe keerkant hê. Mense wat alles tot op die laaste oomblik uitstel, werk vinnig en deeglik onder druk. Fyngevoeligheid wat jou soms dreineer, maak van jou ’n doeltreffender terapeut of afrigter. My werk met volwasse kinders het my gewys hulle het ontsaglike potensiaal en dat hulle dikwels ’n enorme bydrae tot die samelewing lewer. Hulle moet hulself net deur ’n ander bril kan bekyk.” Hoe gemaak as jy dink dat dié skoen jou pas? “Dis my passie om volwasse kinders te help om hul lewe te normaliseer,” sê Judy. “Ons werk byvoorbeeld met die kwessie van keuse. Kinders het geen sê oor waar hulle grootword nie – hulle moet die omstandighede eenvoudig aanvaar en aanpas so goed hulle kan. Volwassenes het keuses! Jy moet jouself net toestemming gee om te kan kies. Jy hoef nie, soos toe jy klein was, in ’n verhouding of ander situasie te bly wat jou benadeel nie. En as jy nie wil weggaan nie, kan jy sekere keuses uitoefen om jou funksionering binne die situasie makliker te maak. “Soms is ’n nuwe perspektief al wat nodig is. Ek werk graag met jongmense as deel van sosiale ontwikkelingsprogramme, en het onlangs met ’n tienermeisie gesels wat ongelukkig was omdat sy weens groepsdruk ’n partytjie moes bywoon. ‘Wat sou die partytjie vir jou beter kon maak?’” wou ek weet. ‘Kan jy dalk ’n vriendin saamvra?’ Sy het onmiddellik opgehelder. Volwasse kinders dink dikwels nie daaraan om hulp te vra nie. Die gedagte dat jy alles alleen moet hanteer, is een van die onbewuste limiting beliefs of beperkende oortuigings wat volwasse kinders deel. Sulke oortuigings ontstaan as ’n selfbeskermingsmeganisme en is meestal ’n reaksie op ’n emosionele of fisieke wond uit jou kleintyd. ” Kyk na jou oortuigings “Ek glo bewustheid vorm nege tiendes van verandering,” sê Judy. “As jy agterkom dat ’n diep oortuiging eintlik net ’n belief is, en nie noodwendig die werklikheid weerspieël nie, kan jy anders begin optree. Van die beperkende oortuigings wat ek byna daagliks in my praktyk teëkom, is: If I were better, it would be better. Dit kan betrekking hê op ander se ongelukkigheid, swak verhoudings, toksiese werksituasies, selfs die toestand waarin die wêreld is. Mense dink: As ek maar net gewig kan verloor of meer liefdevol kan wees … Ek is nie goed genoeg nie. By volwasse kinders is dit nie net ’n vrees nie, maar ’n diepgewortelde oortuiging. Ek verdien nie om meer as ander te hê nie. As jy dalk ’n mooier huis en suksesvoller kinders as jou suster het, kan dit aan jou vreet. As ek vir myself opkom, sal ander my verwerp. Jy is liewer die minste as om ander te konfronteer. As ek nee sê, vra hulle my dalk nooit weer nie. Jy het goedkeuring so nodig dat jy instem om dinge te doen waarvoor jy nie regtig kans sien nie. As iets skeefloop, of as iemand my teleurstel, is dit my skuld. Jy soek verskonings vir ander en neem die volle verantwoordelikheid op jou skouers. Moet my nie vertel wat om te doen nie! Hoewel dit streng gesproke nie ’n beperkende oortuiging is nie, is dit ’n algemene reaksie onder volwasse kinders. Hulle voel hulle moes lewenslank hul eie paadjie sonder hulp oopkap, en nou word daar vir hulle voorgeskryf.” Life Lessons for the Adult Child bied oefeninge wat hierdie oortuigings kan help verander. Judy gebruik ook insigte uit Eric Berne se kommunikasieteorie, Transaksionele Analise, wat fokus op die drie egostate waaruit mense met mekaar omgaan. “Soms kommunikeer ons uit ons ‘Ouerstaat’, wat graag vir ander voorskryf en vir hulle verantwoordelikheid neem. Dan is daar ons ‘Kindstaat’, ons blootgestelde, angstige, verdedigende deel, en ons ‘Volwasse staat’, wat kalm, rasioneel en konstruktief kommunikeer. “Kommunikasie uit jou Ouerstaat aktiveer maklik jou gespreksgenoot se Kindstaat, en andersom. Slegs wanneer jy uit jou Volwasse staat kommunikeer, is jy en die ander persoon op ’n gelyke vlak. Die doeltreffende gebruik van hierdie hulpmiddel kan volwasse kinders se lewe aansienlik gladder laat verloop.” Eie aan die tradisie van lewensafrigting, waar merkbare veranderings in die manier waarop kliënte in die werklikheid funksioneer voorop staan, kan Life Lessons for the Adult Child volwasse kinders se lewe ingrypend raak. Dit kos inspanning; jy moet nie net die boek lees nie, maar die doen-dit-self oefeninge voltooi en die tegnieke toepas. Die gevolge kan jou verras. Volwasse kinders is in die smeltkroes van moeilike omstandighede gevorm. Sodra hulle besef watter innerlike krag en besondere vermoëns uit hul ervarings voortgespruit het, kan hul lewe handomkeer verander. Die pad van ontoereikendheid na genoegsaamheid is dalk korter as wat dit lyk.
http://www.rooirose.co.za/jy-goed-genoeg/
2017-01-16 05:00:50
Blitsidees met baba-murgpampoentjies
“Zucchini” vir die Italianers, “courgette” vir die Fransmanne en babamurgpampoen in die volksmond. Dié pampoentjies is rou of gaar ewe lekker, en trou maklik met ander geure soos kruisement en suurlemoen. Hulle is boonop baie laag in kalorieë en ryk aan vitamien A en kalium. Soek gerus op ’n groentemark na die goudgeel blomme van dié groente vir ’n tikkie sonskyn op jou bord. Murgpampoen-en-kwarteleier-nessie Genoeg vir 4 Rooster 30 ml (2 e) sonneblom-, 10 ml (2 t) sesam- en 5 ml (1 t) papawersaad liggies in ’n pan. Hou eenkant. Meng 60 ml (¼ k) olyfolie, 30 ml (2 e) appel- of witwynasyn, 10 ml (2 t) heuning, ’n hand vol gekapte kruisement en geur met sout en peper. Hou eenkant. Sny 4 groot murgpampoene met ’n tandjiesgroenteskiller in dun repies en gooi die vinaigrette oor. Vorm met die murgpampoenrepies ’n nessie om die rand van die bord. Kook 16 kwarteleiers vir 1½ min. in kokende water. Dreineer en gooi koue water oor. Dop die eiers af, pak op die nessie en strooi die saadmengsel oor. Sit met parmesaankrulle voor. Murgpampoen-en-fetatertjies Meng 4 murgpampoene, in dun skyfies gesny, 2 grof gekrummelde fetawiele, gerasperde skil van 2 suurlemoene en 15 ml (1 e) avokado- of olyfolie. Sny gekoopte blaardeeg in vierkante van 7 cm x 7cm en sit in ’n muffinholte. Verdeel die pampoenmengsel tussen die holtes en bak vir 15-20 min. by 200 °C tot die groente sag en die deeg goudbruin en gaar is. Sit met ’n hand vol roketblare voor. Murgpampoen met ’n geurige sous Sny dun murgpampoenlinte met ’n groenteskiller en verf elk met ’n bietjie avokado- of olyfolie. Braai die linte op ’n warm riffelpan tot sag aan albei kante. Roer 15 ml (1 e) gekapte kappertjiesaad, 30 ml (2 e) olyfolie, 5 ml (1 t) gekapte knoffel en ’n hand vol gekapte kruisement saam en geur met sout en peper. Pak die linte op ’n bord en skep lepeltjies vol van die sous bo-oor. Sit met skeppies crème frâiche voor. Koop só Kies murgpampoene met gladde, blink skille, ’n ferm kop en stert en so min moontlik kneusmerkies op die skil. Koop blommetjies wat vroegoggend gepluk is en nog nie verlep is nie, en wanneer die blommetjies nog toe is, is daar ook minder goggatjies in. Bêre só Bind die groente en blomme in ’n plastieksak toe en hou in die groentelaai van die yskas – so bly dit vir 2-3 dae vars. Maak só Spoel die grond onder lopende koue water af en druk met kombuispapier droog. Die blomme kan met jou vingerpunte oopgetrek word en liggies af- en uitgespoel word. Druk versigtig met kombuispapier droog. Gebruik só Zucchini is heerlik rou in slaaie. Sny die pampoentjies met ’n groenteskiller in linte, of in spaghettistringe vir ’n mooi tekstuur. Rooster helftes in gegeurde olyfolie op ’n riffelpan, of rasper dit en gebruik in bredies, maalvleis of selfs gebak soos sjokolade-en-zucchini-koek. LEES OOK: Diepgebraaide murgpampoentjies LEES OOK: Murgpampoentjiepizza LEES OOK: Nektarien-en-murgpampoentjie-slaai
http://www.rooirose.co.za/blitsidees-met-baba-murgpampoentjies/
2017-01-26 11:18:19
Suiker en kanker: wat sê die kenners?
Vraag van die maand Ons gesin eet Desembers lékker – koek, nagereg, koeldrank, sjokolade en roomys soos ons wil. Ek is die een wat die koskas vol hou – en nou wonder ek of ek eintlik ook die een is wat hul kanse op kanker oor tien, twintig jaar opstoot? Hoeveel suiker kan ons eet? – Joan (43) Twee kenners antwoord: Dr. Armorel van Eyk is ’n senior lektor en kankernavorser by Wits en Berna Harmse is ’n Kaapse dieetkundige met ’n spesiale belangsteling in voeding van kankerpasiënte. 1 Hoekom kry ons kanker? Armorel Jy maak elke minuut miljoene nuwe selle wat oues vervang, waarvan sommige foutief is. Jou liggaam vernietig normaalweg hierdie foutselle maar soms ontsnap een. As die sel begin groei, ontwikkel wat ons kanker noem. Kanker is dus niks anders as foutselle wat onbeheerbaar begin groei nie. Sekere faktore maak ons vatbaarder vir kanker, soos: • Jou omgewing Dinge waaraan jy blootgestel is, kan foutiewe selle aanmoedig, soos bensien en asbes. Suiker pas potensieel hierby in. • Die dosis Die meeste mense sal nie kanker kry as hulle tuis elke af en toe hul klere met bensien skoonmaak nie. Maar as dieselfde mense dertig jaar in ’n droogskoonmakery met bensien werk, sál ’n hele aantal van hulle wel kanker ontwikkel. • Jou gene Mense verskil geneties. Daarom is party van ons meer geneig om “foutiewe” selle te maak en/of minder in staat om hulle te vernietig. • Jou ouderdom Namate ons ouer word, verloor ons die vermoë om foutselle te vernietig – een van die redes waarom jou kanse op kanker toeneem wanneer jy ouer word. Berna Jou gewig tel ook Navorsers is redelik seker dat mense wat min oefening kry meer geneig is tot kanker. Mense wat nie oefen nie, is vanselfsprekend ook meer geneig om oorgewig te wees. 2 Waarop leef kankerselle? Armorel Hulle is baie soos ons normale selle – hulle het immers daaruit ontstaan. Daarom “eet” hulle dieselfde voedingstof, naamlik glukose. Jou liggaam maak glukose van alle soorte kos wat jy eet: van koolhidrate (brood, stysel, groente) en selfs vette (olie, botter, kaas) en proteïene (vleis, vis en eiers). Uiteindelik word wat jy ook al eet na glukose afgebreek. Glukose is dus alle selle se “kos” – kankerselle inkluis. Berna Kankerselle gebruik dieselfde voedingstowwe as normale selle. As jy die kankerselle nie voed nie, voed jy jouself ook nie, en jy en die kankerselle sterf. 3 Hoe pas suiker in? Armorel Tafelsuiker bestaan uit die helfte glukose en die helfte fruktose. Suiker kan nie as suiker in jou liggaam bestaan nie: dit breek dadelik op in glukose en fruktose, en word daarvandaan verder gebruik. Die probleem lê by die fruktosekomponent van suiker. Volgens ’n nou baie wyd erkende 2010-artikel wat die Amerikaanse Vereniging vir Kankernavorsing gepubliseer het: • gebruik kankerselle glukose om te groei • gebruik kankerselle fruktose om RNS en uiteindelik DNS te maak, met ander woorde om nuwe selle te maak. Dit is sedertdien deur verdere laboratorium-navorsing bevestig. Die logiese afleidings is: • glukose laat kankerselle groei • fruktose help dat kankerselle vermeerder. Berna Maar wat met selle in laboratoriums gebeur, bewys nié noodwendig wat in die menslike liggaam gebeur nie. Dit gee ons net aanduidings, waarop ’n hipotese gegrond word. Daarom sien ons nie in die praktyk dat matige suikergebruik kanker beïnvloed nie. 4 Dus: jy kan nie kanker van suiker kry nie? Armorel Fruktose/suiker veroorsaak nie kankerselle nie maar kan selle wat reeds daar is, help vermeerder. Die potensiaal is daar, aangesien suiker 50% fruktose is. Maar dit gaan ook oor hoevéél suiker jy gebruik. Mense wat min suiker gebruik, loop nie ’n risiko nie. Jou liggaam kan ’n beperkte hoeveelheid suiker/fruktose hanteer, net soos ’n bietjie bensien veilig is terwyl baie bensien ’n risiko inhou. Maar baie suiker/fruktose is ’n potensiële risiko. Onthou dat heuning, en veral hoëfruktosekoringstroop (HFCS) en vrugtesapkonsentraat selfs meer fruktose as suiker bevat. Maar behou perspektief: die feit dat jy suiker uitsny, gaan nie keer dat kankerselle ontstaan nie, want daar is ook ander redes vir kanker. Minder suiker gaan ook nie keer dat kankerselle groei nie: hulle gaan in elk geval op glukose groei en selfs vermeerder. Ons vermoed dat fruktose hulle wel vinniger laat vermeerder en beter laat floreer. Berna Suiker veroorsaak nie kanker nie. Swak voeding – juis omdat jy te veel suiker eet – en leefstylkeuses soos rook en drank is veel sterker aan kanker gekoppel. Geeneen van die betroubare organisasies, soos die Amerikaanse Kankervereniging gee suiker as ’n potensiële kankerwekker aan nie. “Suiker veroorsaak nie kanker nie. Swak voeding en leefstylkeuses soos rook en drank is veel sterker aan kanker gekoppel” 5 Kan jy suiker eet as jy reeds kanker het? Armorel Net om superveilig te wees, is van die jongste advies dat kankerlyers van suiker/fruktose afgeraai word. Maar dit beteken nie jy moet alle stysel uitsny omdat hulle ook na glukose kan afbreek en net op vleis, olies en laekoolhidraatgroente soos broccoli en spinasie moet leef nie. Aangesien glukose ons normale brandstof is, is glukose uit nie-suikerbronne veilig, soos uit stysel en groente. Trouens, jou liggaam se gesonde selle het ook voeding nodig om te kan funksioneer – en nou juis meer omdat die kankerselle met jou eie selle om kos meeding. Jy het dus ekstra glukose nodig. Aan die ander kant is baie van ons koolhidraatkosse juis propvol suiker en dus fruktose. Dink aan die suiker/fruktose in koekies, gebak, vrugtesappe, melkskommels, roomys, kitspappe, muesli en selfs in jogurt. Berna Dink so daaraan: gaan jy nou so eet dat jou liggaam so sterk moontlik is, of gaan jy jou liggaam knou omdat jy miskien – en nie eens vir seker nie – dalk die kankerselle knou? Dieetkundiges sal altyd ’n gesonde, matige benadering aanbeveel. Dus sal ek minder suiker gebruik – 4 teelepels suiker per dag, saam met die vyf-per-dag-eetpatroon van vyf groente en/of vrugte per dag sodat jy oorgenoeg van die antioksidante kry wat jy juis nou nodig het. “Oormatige gebruik van suiker (ses teelepels suiker in jou koffie …) is nóóit ’n goeie idee nie” 6 Is vrugte veilig vir mense met kanker? Armorel Vrugte bevat fruktose, en daarom wonder ’n mens daaroor. Maar die voedingstowwe in groente en vrugte is nou – en altyd, ook as jy gesond is – uiters belangrik. Gelukkig kan jy dieselfde voedingstowwe net uit groente kry, wat in die reël minder fruktose bevat. Onthou dat ander produkte selfs meer fruktose bevat as vrugte, soos hoëfruktosekoringstroop (jy sal dit op die kosetikette sien as HFCS of as corn syrup) en vrugtesapkonsentraat. Vermy hulle beslis. Berna Die algemene dieet-aanbeveling van twee tot drie vars vrugte per dag is veilig vir álmal. Vrugtesappe en ander verwerkte voedselbronne, veral HFCS, is nie baie gesond nie, en ons beveel aan dat jy minder daarvan inneem. 7 Kan jy suiker eet as jy net ’n kans op kanker het? Berna Dit is ’n irrelevante vraag, want suiker word nie aan kanker verbind nie – nie as jy minder suiker gebruik nie. Maar ouers moet hul kinders verstandige eetgewoontes aanleer. Jy wil juis nie hê dat hulle kos as die fokus van vakansies, kuier en vermaak beskou nie. Bederf hulle ’n bietjie maar leer hulle gesonde smake aan, sonder om fanaties te raak. • Hou die porsies van bederfkos klein Deel lekkergoed. Koop die kleinste formaat sjokolades. • Bied gesonde lekkernye aan Daar is soveel opsies as jy eers begin oplet: vrugte, neute, trail mix, gladdejantjies, jogurt, sorbet, en so aan. • Soek opsies met min suiker Dink aan kasies, ryskoekies en springmielies. Armorel Dit hang af hoe veilig jy wil wees. Ek sou myself afvra: Hoeveel suiker gebruik ek? Ons weet nog nie wat die veilige grense vir fruktose is nie. Dit kan ook van mens tot mens verskil. Maar alle aanduidings is dat ’n bietjie veilig is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê ’n maksimum van 4-5 teelepels per dag is reg maar hulle reken dat gewone mense sowat 80 g suiker – 16 teelepels – per dag gebruik. Die kosbedryf gebruik geweldig baie suiker in blikkieskos, souse soos blatjang, kitspap, jogurt, muffins, donuts, blikkies koeldrank, roomys en lekkergoed. Maak of koop ek kos? Gekoopte kositems, asook kitskosse en wegneemetes, bevat in die reël baie meer suiker, fruktose, HFCS en/of vrugtesapkonsentraat as tuisgemaakte kos. As voorbeeld: As jy hawermout tuis maak, versoet jy dit met een of twee teelepels suiker. As jy kitspap koop, bevat dit reeds 2-5 teelepels suiker per koppie. Baie mense roer nog ’n teelepel of twee in om die melk effe te versoet. Mense wat alles koop, het al klaar ’n “suikerlading” terwyl tuiskokke moontlik ’n bietjie speling het. Dit hang natuurlik van jou kookstyl af. Hoe oud is ek? Jonger mense het meestal ’n kleiner risiko as ouer mense, en kan vermoedelik met meer suiker wegkom, terwyl middeljariges waarskynliker veiliger is as hulle suiker beperk. Het ek al kanker gehad? Gestel jy het weer ’n kankerselletjie wat aan die groei is. Soos navorsing nou aandui, kan suiker – spesifiek die fruktose daarin – hierdie selle juis help om te vermeerder. As jy voorheen kanker gehad het, is die minimum suiker/fruktose die veiligste. Hoe lyk my gene? Bloedfamilie met kanker maak jou risiko hoër. Vir jou is minder suiker/fruktose waarskynlik beter. Jy vra, ons antwoord Fassineer – of pla – iets omtrent jou gesondheid jou? Stuur ’n e-pos met jou vraag na ons gesondheidsredakteur, Salomé Delport, by [email protected]. Ons kies elke maand die interessantste vraag en kry kundiges om jou te antwoord.
http://www.rooirose.co.za/suiker-en-kanker-wat-se-die-kenners/
2017-01-12 10:43:28
Terug skool toe
Sakke • Bepaal jou behoeftes. Kyk na die skool se verskafferslys (indien hulle een verskaf). Sekere skole is baie spesifiek oor die tipe skoolsak wat by die uniforms pas. Bepaal ook of ’n skootrekenaar gebruik gaan word. Al hierdie faktore bepaal die tipe en die grootte sak wat jy moet aanskaf. • Maak seker of rugsakke toegelaat word in die skool. Daar is ook dikwels spesifieke reëls oor die styl en die kleur van die skoolsak. • Hou rugprobleme ingedagte. Sakke wat oor die een skouer gedra word, kan later probleme veroorsaak. • Indien skootrekenaars gebruik word, maak seker dat die ingeboude afskorting in die skoolsak groot genoeg is vir die spesifieke skootrekenaar of tablet. • Kry ’n sak wat ingerig is om al jou toebehore netjies in te verpak. Soek ’n sak met genoeg sakkies, afskortings en kompartemente om by al jou kind se behoeftes te pas. Maak seker daar is ’n houer vir ’n waterbottel. Dieselfde geld vir ’n kosblik. • Kies ’n duursame sak. Dit sal meer kos, maar nie kort-kort vervang hoef te word nie. Verskaffers www.oldschoolsatchel.co.za www.crazystore.co.za www.cna.co.za www.takealot.com www.waltons.co.za www.superbalist.co.za Electric Rose-skoolsak (R1 750) Old School Satchel Kosblik met antieke voorkoms (R129) Superbalist Kosblikke vir die kleintjies (R19.99) Crazy Store Lee Cooper-rugsak (R99) takealot.com Kosblikkies (R29) Crazy Store Royal King blou skoolsak (R1 750 ) Old School Satchel Sportsak (R229) Superbalist Marco waterdigte rugsak (R59) takealot.com Lizzard Elowen-potloodsakkie (R124.99) Waltons Empre Zoo York-potloodsakkie (R90.99) Waltons Waterbottel vir sport (R64.90) CNA
http://www.rooirose.co.za/terug-skool-toe-2/
2017-01-09 05:00:04
Wipkar, hoofstuk 1
Hoofstuk 1 82 kg. Dis die swaarste wat Arien Cronjé nog geweeg het. Die gewig hang soos ’n marmerblok aan haar hart. Sy het ’n launch by Clarins vanoggend en sal weer een van haar verslankende swart nommertjies moet aantrek. Sug. Jos lê nog en snork. Die kamer ruik na laasnag se whisky en sweet. Hy het gisteraand weer oorboord gegaan. Sy lippe tril onder sy snor. Hy draai om in sy slaap en los ’n harde wind. Die man van haar drome … Sy klap die kasdeure moedswillig hard toe en gil die gang af dat die seuns moet opstaan. As hulle nie sesuur uit Allensnek ry nie, vang die verkeer oor die westelike verbypad hulle en dan is die seuns laat vir skool. Jos begin eers negeuur werk, maar is gesteld op sy oggendslapie. Dié hardwerkende makelaar het sy rus nodig. Terloops, Arien begin ook negeuur werk, maar dit is haar taak om die seuns by die skool te kry. Sy is mos die ma. Arien plaas haarself elke oggend in zombie-modus as sy die seuns moet regkry vir skool. Dis asof sy opstyg en uit die lug die spektakel in die huis in Waverleylaan aanskou. Asof sy nie die vrou en tienerseuns ken wat so tekere gaan nie. Sy sien hoe die vrou voor haar uitstaar as die verkeer opdam en die seuns aanhou stry, hoe die vrou die kinders by hul skool in Linden aflaai en met ’n koerant en ’n koppie koffie in ’n koffiewinkel gaan sit. Partykeer dink Arien dit is wat haar help om nie mal te word nie. Daardie uurtjie van saligheid alleen in die koffiewinkel voor sy Conrad Drive se verkeer pak na Sandton. Gepantser in ’n getroue swart nommertjie en pruimrooi lippe stap sy later die oggend by die launch in. Verskeie ander skoonheidsterapeute kom kus haar flussies op elke wang met ’n “Darling you look fabulous!” Sy kies dadelik koers na die tafel met canapés en stop haar kieste vol. Sy weet ’n paar van die dun brigade hou haar geskok dop want by skoonheids-launches is daar altyd elegante canapés, maar niemand eet dit nie. Net sy en Cari knibbel lustig. Cari, die wulpse Italianer is altyd soos ’n vars bries tussen al die pretensie. “Tyd vir ’n skelm siggie?” Cari se swart hare is super kort geskeer aan die kante. Die paar krulle wat op haar kop oor is, is styf gejel. Haar lippe is vlamrooi en haar swart oë perfek omlyn in ’n Oosterse styl. Arien gryp byna die sigaret by haar. “Jy het geen idee hoe nodig ek dit vanoggend het nie!” Cari het in Waterkloof grootgeword. Haar pa was Italië se ambassadeur en het besluit sy dogter sal Affies toe gaan om dissipline te kry. Dit maak haar ’n Italianer met ’n stewige skoot Boere-opvoeding. Dis hoekom sy en Arien sulke groot maats is. In die wedywering van die skoonheidsindustrie is Cari vir Arien ’n reddingsboei. “Ag Meisie, wat is fout? Het jy nog nie vir ou brombeer gelos nie?” Cari is baie reguit en soms wil Arien haar vererg as sy so met disrespek van Jos praat. Maar sy weet Cari het Jos lankal deurgekyk. Haar opsomming van Jos is gewoonlik: “Hy is ’n gemaksugtige luiaard. Hy drink te veel en waardeer jou nie.” Cari steek vir hulle elkeen nog ’n sigaret aan. Dit is sy wat Arien skelm leer rook het. Arien rook net as sy saam met Cari is en Jos kan haar daarom nie verdra nie. Arien was op skool en universiteit ’n stroopsoet kind. Toe trou sy met Jos en verander in die stroopsoet eggenoot. “Nee, Meisie, jy het bietjie opwinding in jou lewe nodig. Dis tyd dat jy ’n lover kry.” Arien trek lank aan die sigaret. Sy stik. As sy haar asem terugkry, gooi sy wal. “Ek is Afrikaans, onthou.” Sy verstom haar altyd aan die sensuele manier waarop Cari rook kan uitblaas. Als aan Cari is sensueel. Tot haar groot heupe. “Ek weeg nou 82 kg.” Arien spoeg die onthulling byna uit. Cari knip nie eens haar perfekte wimpers nie. “Ek sê weer, jy het ’n lover nodig. Jy sal gewig verloor en al jou stres ontlaai. Iemand moet jou lipstiek afsoen en jou tone laat krul. Dis wat jy nodig het.” Arien dink die hele dag aan Cari se opmerking, maar sy betig haarself oor die gedagtes. Hoe kry mens ’n lover? Dink sy by haarself. Vir Cari is dit maklik, sy trek mans aan soos bye om ’n blikkie Coke. Sy kan nie eens dink hoe teleurgesteld haar ma sal wees as sy uitvind sy is ontrou aan Jos nie! Dan betig sy haarself: “Jy het nog nie eens die lover nie en jy is al klaar ’n wrak oor wat jou ma gaan sê!” Sy kan nie op haar werk konsentreer nie. Wie sal ’n goeie lover wees? Sy het op skool net een kêrel gehad en sy het hom in matriek gelos oor sy hande op allerlei onbehoorlike plekke gevroetel het. Sy het ’n vrees gehad om swanger te raak en ’n vrees vir die sonde en ma se teleurstelling. Hendri, dit was sy naam. Hy was by verre die gewildste seun onder die meisies op skool en sy was gevlei toe hy haar uitkies. “Vir jou gaan ek my prinses maak.” Sy onthou dit so goed. Hy het dit dikwels gesê. Maar die druk wat hy op haar geplaas het om ten volle sy prinses te word, was te veel vir haar. Hendri is Stellenbosch toe en sy het jare laas aan hom gedink. Arien Google Hendri du Toit se naam. Hy is nie op Facebook nie, maar wel op LinkedIn. Sy foto laat haar verveelde are druis. Daardie blou oë het haar op skool laat smelt. Hy het aantreklike laglyne langs sy oë. Sy soek verder. Daar is verwysings na sake wat hy vir groot maatskappye gewen het. Selfs foto’s van hom saam met ’n paar vername sakemanne en politici. Hendri du Toit is suksesvol … en steeds gevaarlik aantreklik. Sy skrik byna toe sy sy e-posadres op ’n webtuiste vir prokureurs sien. Haar hand sweet toe sy dit neerskryf. Sy wens sy het nou een van Cari se sigarette gehad. Sy skryf die e-pos ’n paar keer voor sy dit stuur. “Goeiedag Hendri. Ek het dertig jaar gelede op skool ’n ruk met jou uitgegaan. Ek is besig om huis skoon te maak en ek het nog heelwat van jou skoolfoto’s. Ek sal dit graag aan jou wil terugbesorg. Gee asb. jou posadres dan stuur ek dit vir jou. Groete, Arien.” Haar ingewande ruk. Sy bel Cari bewend. “Ek het pas ’n verskriklike ding gedoen!”
http://www.rooirose.co.za/wipkar-hoofstuk-1/
2017-01-20 13:32:48
Kinders: kos wat slim maak
1 Proteïene Wat doen dit? Hy bou nuwe breinselle daarmee. Sy brein bou ook self spesifieke proteïene hieruit vir jou kind se langtermyngeheue sodat hy die feite wat hy nou leer oor ’n jaar of tien jaar steeds onthou. Wat sit jy voor? Die beste proteïene kom van diere af, soos eiers, vleis, hoender, volstruis en vis. Dit sluit produkte in wat daarvan gemaak is, soos visvingers, wors, biltong, frikkadelle, ham en die vleisdeel van pastei. Talle plante is ook ryk aan proteïene, soos lensies, bone, sousbone, grondboonbotter, neute, sonneblomsaad, pampoensaad, spinasie en broccoli. Hoeveel per dag? Seuns 4 eetlepels; dogters 3 eetlepels. 2 Vette Wat doen dit? Meer as die helfte van die brein (60%!) bestaan uit vette. Sy breintjie benodig ook vette om te funksioneer. Maar nie enige vette nie: dit gaan oor gehalte. Die beste vette is die omega-3’s wat veral help dat neuro-oordragstowwe op hul beste werk sodat hy op en wakker is, flink reageer en alles inneem. Vette maak ongelukkig ook vet. Jou kind mag maar min vette eet – nog ’n rede om te sorg vir topgehalte vette. Wat sit jy voor? Avokado’s, neute, grondboonbotter en sade soos sonneblom- en pampoensaad en omega-3-verrykte eiers is uitstekend. Alle olies, veral olyf-, kanola-, avokado- en sonneblomolie, en sagte margarien verryk met omega-3’s is goed. Margarien, botter, room en oliegebraaide kosse is minder goed omdat dit baie kilojoules byvoeg en die goeie komponente in die olie vernietig. Hoeveel per dag? Almal 2,5 teelepels per dag. 3 Vrugte en groente Wat doen dit? Dit is die hoofbron van vitamiene en anti-oksidante. Sy brein het veral B-vitamiene nodig om goed te werk. Vitamien C help yster opneem, wat op sy beurt help om suurstof na die brein te neem. Dit lyk selfs asof sekere vitamiene spesifieke breinvoordele gee: vitamien E en C (albei is anti-oksidante) help veral met verbale vaardighede. Wat sit jy voor? Avokado’s, appels, pere, lemoene, waatlemoen, spanspek, mango’s, nektariens, piesangs, droëvrugte, vrugtelekkers, vrugtestafies, kiwi, wortels, beet, spinasie, slaai, kool, komkommer, ertjies, boontjies, pampoen, rissies, skorsies, botterskorsies, murgpampoen, kool, blomkool, Brusselse spruite, broccoli, blaarslaai, uie, kruie. Hoeveel per dag? Almal 2,5 koppies. 4 Stysel Wat doen dit? Koolhidrate is die energiebrandstof van sy lyfie. Die brein word beskou as die energie-ondoeltreffendste orgaan in die hele liggaam – met ander woorde dit benodig verbasend baie energie. Growwe stysels verskaf ook vesel vir sy daaglikse gereeldheid, wat nodig is om toksiese stowwe wat ook vir die brein skadelik is, uit te werp. Wat sit jy voor? Die beste stysels is die growwe “bruin” stysels soos in heelgraanbrood, rogbrood, steenmeelbrood, hawermout, Pro-Vita, springmielies en styselgroentes soos patats, aartappels, mielies, bruinrys en stampmielies. Die minder goeie stysels bevat suiker en/of vet soos pizza, vetkoek, pannekoek, oliegebraaide toebroodjies, aartappelskyfies, beskuit, koek, lekkers, koeldranke, vrugtesappe, konfyt, stroop, sjokoladesous, sjokolade. Hoeveel per dag? Seuns ses snye brood of ses eetlepels van ander stysels. Dogters vyf snye brood of 5 eetlepels van ander stysels. 5 Suiwel Wat doen dit? Nuwe navorsing wys al sterker hoe belangrik melk vir die brein is. Melkdrinkers vaar tot vyf keer beter in geheuetoetse as nie-melkdrinkers, en dié wat minstens een glas melk per dag drink, vaar beter met alle breinfunksies as dié wat minder of niks drink nie. Melk sal sy brein in die geheel help. Wat sit jy voor? Melk, jogurt, kaas, smeerkaas, kaaswiggies, karringmelk, amaas, maaskaas, vla, roomys, ingedampte melk en selfs kondensmelk. Hoeveel per dag? Almal 3 porsies.
http://www.rooirose.co.za/kinders-kos-wat-slim-maak/
2017-01-26 13:14:40
Kosblik-idees week 2
Beplan vir elke week * Koop ook vars vrugte, groente en sappe saam met die bestanddele vir die week se middagetes en kosblikhappies * Maak van die geregte wat gevries kan word. ’n Mens het naweke meer tyd vir bak, laat die kinders help en bak sommer al Sondagaand die muffins of neutkoekies * Koop genoeg koeldrankbotteltjies en vries vyf sappies vir die komende week * Koop liefs volgraanbrood vir die toebroodjies LEES OOK: Kosblik-idees week 1 Maandag (middagete-idee) Gebakte aartappels met spek en sousboontjies – Genoeg vir 4 Bak die groot aartappels Sondag vir sowat ’n uur by 200 °C tot sag. Maak dit dan net Maandag vinnig in die mikrogolf of oond warm. • 4 x 250 g groot, gaar aartappels • 30 ml (2 e) olyfolie • 8 repies swoerdlose rugspek, in blokkies gesny • 1 x 400 g-blikkie sousboontjies in tamatiesous • sout • 60 ml (¼ k) gerasperde cheddarkaas • 60 ml (¼ k) suurroom • 60 ml (¼ k) gekapte sprietuie 1 Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit ’n middelslagpan en braai die spek tot bros. 2 Voeg die boontjies by en braai tot deurwarm. 3 Sny in die lengte ’n doppie van elke aartappel af. Skep versigtig ’n bietjie van die aartappel uit en meng dit deur die boontjiemengsel. Geur met sout indien nodig. 4 Skep die mengsel terug in die aartappels. 5 Strooi die kaas oor en bak die aartappels tot goudbruin en warm. 6 Sit voor saam met die suurroom en sprietuie. Nog idees met gebakte aartappels * Gebruik oorskietmaalvleis op dieselfde manier op gebakte aartappels (gebruik ons basiese maalvleissous van Maandag, Week 1). * Jy kan ook nét kaas gebruik. Vervang die spek en boontjies deur 60 ml (¼ k) ricotta en 60 ml (¼ k) gerasperde mozzarella. * Vervang die boontjiemengsel deur 400 g (±2 klein blikkies) geblikte tuna of salm. Dinsdag (kosblik-idee) Broodjies met maaskaas en aarbeikonfyt – genoeg vir 2 Gebruik liefs volgraanbrood vir die kinders se toebroodjies – hulle het die vesel in hul dieet nodig én dis gesonder. Sny met ’n stervormige koekiedrukker ’n patroontjie uit die boonste snytjie van elke toebroodjie om die broodjie mooier te laat lyk. • 4 snye volgraanbrood • margarien • geroomde maaskaas en aarbeikonfyt 1 Sny met ’n koekiedrukker ’n vormpie uit die boonste snytjie van elke toebroodjie. 2 Smeer genoeg margarien op die onderste broodjie gevolg deur maaskaas. 3 Smeer laastens ’n lagie aarbeikonfyt oor en sit die broodjie met die vormpie bo-op. Onthou wanneer jy toebroodjies maak * Gebruik ’n verskeidenheid brode soos rogbrood en ciabatta sodat die moeilike eters nie verveeld raak met die daaglikse broodjies nie. Pitabrode en tortillas is ’n lekker variasie op die gewone broodjie. * Smeer die broodjies met gegeurde botter: Maak die botter sag en geur dit met suurlemoenskil of ’n verskeidenheid gekapte kruie en rol dit in rolletjies in kleefplastiek toe. Gebruik wanneer nodig. * Fyn biltong gemeng met botter is heerlik, en ewe lekker as dit oor geroomde maaskaas gestrooi word. * Sit oorskiet soos boerewors, hoender, maalvleis of lamsvleis op die toebroodjies. Gerookte en geblikte vis soos forel, snoek, salm en tuna werk uitstekend. * Smeer die botter tot op die hoeke van die broodjies sodat die brood nie pap word of uitdroog nie. * Avokado is superkos vir kinders – gooi net suurlemoensap oor sodat dit nie verkleur nie. * Rasper aan die begin van die week genoeg kaas en hou dit in ’n digsluitende houer in die yskas om tyd te bespaar. Woensdag (kosblik-idee) Spingmielies met heuning en klapper – genoeg vir baie • sonneblomolie, genoeg om die boom van ’n middelslagkastrol te bedek • ½ k springmielies • 250 g (1 k) suiker • 100 ml (1/3 k + 2 e) water • 185 ml (3/4 k) heuning • 80 g (1 k) klapper • papierkegels 1 Gooi genoeg olie in ’n middelslagkastrol om die boom te bedek. 2 Gooi die mieliepitte in en skud die kastrol ’n bietjie sodat die pitte eweredig oor die boom versprei is en die pitjies met ’n bietjie olie bedek word. 3 Sit die deksel op en verhit die kastrol oor matige hitte. Hou die deksel op tot die pitte ophou skiet. 4 Smelt intussen die suiker in die water oor lae hitte. 5 Laat kook ná dit heeltemal gesmelt het. Hou die heuning ’n entjie bokant die mengsel en giet stadig by. Kook vir nog ’n minuut. 6 Giet die suikermengsel oor die springmielies en roer die klapper deur. (Ons het vierkantige velle papier in kegels gerol en die springmielies daarin geskep, maar jy kan dit ook in kleurryke papierkoppies of kolwyntjiepapiertjies gooi.) Donderdag (middagete-idee) Heuning-en-sesamsaad-hoenderboudjies – genoeg vir 6 kindertjies Dié boudjies is heerlik taai, en kan ook oor die kole gebraai word. • 60 ml (¼ k) heuning • 60 ml (¼ k) sojasous, verkieslik ligte soja wat minder sout bevat • 30 ml (2 e) olyfolie • 30 ml (2 e) sesamsaad • 12 hoenderboudjies 1 Meng al die bestanddele tot by die sesamsaad in ’n glas- of plastiekbak en laat lê die hoenderboudjies vir sowat ’n halfuur daarin in die yskas. 2 Verhit die oond tot 180 °C en bak die hoender vir ±20 min. tot gaar. Sit voor met kapokaartappels of aartappelslaai en soetmielies. Vrydag (snoephappie-idee) Droëvrugte-en-spesery-pankoekies – genoeg vir 6 Die kinders kan die koekies gou self maak. Dit hoef nie eens in ’n koekpan gebak te word nie, maar kan sommer in ’n pannetjie gedruk word. Maak net seker die pannetjie pas in die oond. Breek die koekies dan net in happiegrootte brokkies vir die kinders. • 100 g (½ k) botter • 125 ml (½ k) strooisuiker • 1 eiergeel • 250 ml (1 k) meel • 1,25 ml (¼ t) gemengde spesery • 125 ml (½ k) klapper • 30 ml (2 e) gekapte, gedroogde appelkose • 30 ml (2 e) gekapte, gedroogde appel • 30 ml (2 e) korente • 30 ml (2 e) sultanas 1 Voorverhit die oond tot 160 ºC. 2 Room die botter en die suiker saam tot lig en romerig. 3 Voeg die eiergeel by en klits goed. 4 Voeg die meel, gemengde spesery, klapper, appelkose, appel, korente en sultanas by en meng goed tot ’n deeg vorm. 5 Sit die deeg in ’n 21 cm-braaipan en strooi van die klapper oor. Bak vir ±15-20 min. tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom. 6 Laat in die pannetjie afkoel, en breek in stukke. Wees-slim-idee * Voeg soveel moontlik ekstra groente soos ertjies, gerasperde wortel en mielies by geregte soos die herderspastei. (Bevrore ertjies en mielies bevat net soveel voedingswaarde soos hul vars eweknieë.)
http://www.rooirose.co.za/kosblik-idees-week-2/
2017-01-18 12:06:02
Watter modes bly of gly in 2017?
Modetendense wat bly Skilderdoek-tema Die modewêreld kan net nie genoeg kry van dramatiese motiewe nie. In 2016 was tropiese blom- en blaarmotiewe groot op die loopplanke en hierdie jaar selfs meer met ’n verskeidenheid van groottes, kleure en vorms. Die gedrukte T-hemp Hoewel die klassieke wit T-hemp steeds ’n moet-hê item is, kan jy dit in 2017 met ’n helder drukpatroon opkikker. Enigiets van handelsname tot kunsmotiewe laat hierdie T-hemp saam met enige uitrusting aandag trek. Lae hakke Spykerhakke het reeds in 2016 ’n tree terug gegee en hierdie jaar is daar geen twyfel nie dat die lae spykerhak (“kitten heel”) die loopplanke (en strate) gaan platloop. Die effense hakkie gee jou bene steeds ’n slanke voorkoms, maar is gemaklik genoeg dat jy heeldag op jou beste lyk. Blinkers Blinkers het al in 2014 teruggekeer en in 2017 word hierdie tendens net nóg meer beklemtoon. Die aktrise, Ruth Negga, het met haar Louis Vuitton-rok tydens die Golden Globes presies gewys hoe om die blink kant bo te hou. As jy egter veilig wil speel, wissel die blinkers met ’n klassieke eenkleur-item. Minirok (R1599) Forever New Midirok (R674.25) Country Road Gedrukte T-hemp (R299) Foschini Pruimkleur Kitten heel (R899) H&M Swart Kitten Heel (R799) Nine West Pienk sequintop (R287.25) TopShop Blink swart minirok (R999) Mango Modetendense wat gly Kamisool Die kamisool het verlede jaar die strate oorgeneem, maar in 2017 moet hierdie item liefs in die slaapkamer bly. Hoewel die kamisool ’n moeitelose, tog elegante voorkoms skep met sagte satyn en kant-afrondings, is die ongewone en kleurryke tendense in 2017 gewild. Skinny jeans Almal van ons het ’n paar klassieke, noupassende denims wat ons op daardie besluitelose dae kan aantrek, maar “klassiek” word vir eers eenkant toe geskuif. Kêrelsnit-jeans, klokpype en geskeurde detail is wat jy in jou 2017-klerekas kan hang. Bypassende items Het jy ’n broek of bloes wat jy op die ingewing van die oomblik gekoop het en nou soos ’n wit olifant in jou klerekas hang? Stof daardie item af, want in 2017 gaan alles oor kleure, teksture en snitte, wat juis nié pas nie. Eenvoud Hoe meer drama, hoe beter. Eenkleurige items en afgeskaalde bykomstighede bly in 2016 agter. Belde is weer bonkig en oorbelle moet die koppe laat draai.
http://www.rooirose.co.za/watter-modes-bly-gly-2017/
2017-01-17 15:25:57
Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak
Sonette Donker, eienaar van skinid.co.za, sê wat die grootste foute is wat ons almal maak. 1 Jy maak nie jou botteltjies toe of draai nie jou doppies behoorlik vas nie. Dit kan veroorsaak dat aktiewe bestanddele (soos Retinol, vitamiene C, salielsuur, sonskerm en vitamiene E), onaktief word en jy sal nie die resultate sien waarvoor jy betaal het nie. Skadelike bakterieë kan ook in jou produkte groei wat vel-sensitiwiteit en irritasie kan veroorsaak. Dit kan selfs tot erge teen-reaksies lei, soveel so dat medikasie nodig raak. Só, maak jou potjies en botteltjies styf toe! 2 Jy los jou produkte in sonlig of in ’n warm, klam badkamer. Dit kan veroorsaak dat jou produkte af gaan en vreeslike vel-irritasie veroorsaak. 3 Jy los produkte in die warm stort wat nie behoorlik toegedraai is nie. Dit kan veroorsaak dat muf hierin groei en vel-irritasie veroorsaak. 4 Jy spandeer geld aan serums of rome met aktiewe bestanddele wat in potjies is. Produkte soos serums wat aktiewe bestanddele bevat, moet altyd in lug- en ligvrye verpakking wees. Met ander woorde, botteltjies wat donker is of wat nie lig deur laat nie. 5 Jy los borsels, van lyf- tot elektroniese gesigborsels, in die stort. Jy moet dit egter in die son los om te keer dat bakterieë daarop groei. Gebruik TCP-mondspoelmiddel waarmee jy jou borsels minstens een keer per maand kan steriliseer om dit te verhoed. 6 Jy gebruik te veel of te min produk. Dit kan verhoed dat jy resultate sien. Volg altyd die riglyne op die verpakking of luister wat jou terapeut sê. 7 Jy hou sonskerm vir langer as ’n jaar. Die bestanddele kan onaktief raak en jy kan brand. Kyk na die vervaldatum van die sonskerm. 8 Jy gebruik te min sonskerm. 9 Jy maak ’n produk oop, gebruik ’n bietjie en gebruik dit weer na twee jaar. Produkte moet gewoonlik binne twee jaar vandat dit gemaak is, gebruik word. Ou produkte kan tot vel-irritasie en allergieë lei. Hier is ’n paar produkte wat jy kan probeer: NeoStrata Skin Active Antioxidant Defence Serum (R846) Dermac Ceutic Tri Vita C30 (vanaf R1590) DermaFix Vitamin C Serum (R435 uitgesoekte velsorgklinieke en www.dermafix.co.za) REN Radiance Perfection Serum (R690 www.bestofbeauty.co.za) Coverderm Luminous Supreme Serum (R1119)
http://www.rooirose.co.za/skoonheidsprodukte-foute-wat-almal-maak/
2017-01-30 05:00:11
Beroepsbreuk: ja of nee?
Jy leef net een keer, sê die stemmetjie in jou agterkop. Maar wat van bestendigheid en werksgeleenthede? maan jou meer verantwoordelike kant. Ja, daar is ’n saak uit te maak vir albei kante, maar dis glad nie so onverantwoordelik om alles oorboord te gooi en vir ’n paar maande iets anders te gaan doen nie. Pak dit net reg aan, sê hulpbronbestuurders. Die marmotwieletjie van elke dag vroeg opstaan en tot donker swoeg, stomp jou soms so af dat jou kreatiwiteit die wyk neem en jy negatief raak. As jy dit reg beplan, kan reis ’n verdieping bring wat jou beroep en persoonlike lewe tot voordeel strek en aan voornemende werknemers wys dat jy ’n avontuurlike gees het en uit die vuis kan dink. Laat dit vir jou werk Onderhoudvoerders is op soek na geesdriftige en passievolle aansoekers. Die meeste mense wat om ’n posisie aansoek doen, gaan dieselfde kwalifikasies hê as dit ’n voorvereiste was. Die onderhoud is jou geleentheid om jou met iets unieks te onderskei. “Dis jou geleentheid om te wys hoe jou eksterne ervarings jou op ’n persoonlike vlak laat groei het en hoe jy waarde tot die maatskappy kan toevoeg,” sê Lesley Pedlar, wat leierskapkursusse vir maatskappye aanbied. Hier is haar wenke: Moenie ’n onderbreking uit jou CV laat nie, maar dink voor die tyd hoe jy die ervarings op jou reis kan gebruik ter illustrasie van lewenslesse en insigte. Verduidelik hoe dit jou uitkyk verander het en watter ervarings jou tot nuwe insigte gebring het. Laat jou passie en entoesiasme deurskemer sodat die onderhoudvoerder hierdie eienskappe kan sien. Lewenservaring is iets wat jy nie kan koop of bestudeer nie. Dis ’n waardevolle veer in jou hoed. Maar om te vertel dat jy ’n jaar in Korea Engels gegee het, die kos verfoei het, huis toe verlang het en jou doodverveel het, gaan jou niks in die sak bring nie. Dit beteken nie jy moet jok nie. Dink eerder vooraf aan ’n gebeurtenis waar jy iets oor jouself geleer het, of hoe die verblyf in ’n ander land jou geleer het hoe uiteenlopend mense is en dat jy nuwe waardering daarvoor het en meer geduld met mense se verskille het. Bly weg van vertellings van oppervlakkige ervarings. Verduidelik byvoorbeeld eerder dat jy besef het hoe belangrik dit is om positief te wees in ’n krisis, want dit het jou in ’n moeilike situasie gehelp. Deel die belewenis. Dit help ook as jy voor die reis dink wat jy daaruit wil kry en oopkop bly vir nuwe invloede en gewaarwordinge. Dink elke dag oor jou ervarings en kyk of jy iets daaruit kan leer. Hou ’n dagboek of skryf ’n blog spesifiek met die oogmerk om dit vir toekomstige werk te gebruik. (Met ander woorde, hou die jolyt en twyfelagtige dade hier uit!) Deur jouself in ander kulture te verdiep, kry jy nie net ’n kykie in ’n ander benadering tot die lewe nie, jy kan ook die positiewe dinge uit daardie kultuur joune maak. ’n Breuk kan jou tot ’n nuwe volwassenheid bring en jou leierseienskappe laat ontwikkel. Dink vooraf aan geleenthede waar jy leiding moes neem en vertel daarvan. In ’n see van vaal aansoekers gaan jy uitblink as jou avontuurlike gees, passie, geesdrif en deursettingsvermoë deurskemer. Dis alles waardevolle karaktereienskappe wat jou in enige beroep gaan help. Maak seker jy wys hierdie kant van jou persoonlikheid. Lewenservaring is iets wat jy nie kan koop of bestudeer nie Hoekom nie? Die meeste mense erken dat die vrees dat hulle nie weer ’n goeie werk kan kry nie, hulle van ’n beroepsblaaskans weerhou. ’n Vraelys vir mense wat ’n blaaskans geneem het, het die volgende verklap: Die onderbreking gee jou die kans om jou prioriteite te heroorweeg en te dink of jy werklik gelukkig is in jou huidige werk. Vir sommige is dit die katalisator om ’n heel ander rigting in te slaan. Vir ander is ’n kopskuif binne hul bestaande raamwerk nodig om weer die essensie en lewensblyheid in hul werkslewe te kry. Die meeste het ervaar dat hul reis meer voordele as nadele vir ’n toekomstige beroep ingehou het. Vaal kol op jou CV? Samantha Carter werk by ’n werkverskaffingsburo en sê ’n onderbreking in jou loopbaan hoef nie ’n vaal kol op jou CV te wees nie. “As jy dit reg bemark, kan dit juis iets wees wat waarde toevoeg. Die geheim is om jou storie op die regte manier aan te bied. Dink uit die oogpunt van jou toekomstige werkgewer. Watter ervarings sal as ’n pluspunt gesien word? Hoe het dit jou verryk en hoe kan dit tot jou posisie bydra?” Op reis vir nege maande Toe Jennifer Barkhuizen (33) se pa ná ’n kort siekbed aan kanker sterf, het sy besef dat die lewe kort is. “Vir hom was sy kinders sy grootste vreugde, maar sy diep berou was dat hy nooit gereis het nie. Ek en my kêrel het gespaar vir ’n deposito op ’n huis, maar het net daar besluit dat ons altyd weer kan spaar en dat ons eerder die geld vir reis wil gebruik.” In Januarie 2015 het hulle New York toe gevlieg en ná ’n kort vakansie daar het hulle nege maande lank tot in Brasilië gereis. Jennifer het ’n graad in sportwetenskap en was ’n spesialis fiksheidsafrigter wat soggens vyfuur begin het en meestal eers donkeraand klaargemaak het. “My lewe was ’n dolle gejaag en ek het nooit gestop om te dink of ek geniet wat ek doen nie. Toe ek afstand van my normale roetine kry, kon ek tot nuwe insigte oor my werk en myself kom. Ek het besef dat ek van die uitdagings van my beroep hou, soos om mense met rehabilitasie te help. Maar die teësinnige kliënt wat bloot wou probeer om gewig te verloor het vir my geen uitdagings gebied nie. Ek het besef dat my kliënte ’n groot uitwerking op my lewe en uitkyk het, en my energie kan gee of dit tap. Nou kies ek my kliënte met groter sorg en werk weer met nuwe ywer. “Ek het ook geleer om die spontaneïteit en opwinding van reis oor te dra na die strak struktuur van my beroep en so ’n goeie balans te kry. Solank ek oplossings vir my kliënte se probleme soek, is my werk opwindend. Die moeilikste is om nie weer in my ou patroon van voorspelbare eentonigheid te verval nie. Ek het geleer om geduldig te wees en werklik na mense te luister sodat ek kan agterkom wie en wat hulle is. En om te besef dat elkeen uniek is en dat jy hulle so moet aanvaar. Ek is nederiger ná ek besef het dat ek gewoon is, maar besonderse dinge in die regte omstandighede kan doen. En die bonus is dat ek ná taallesse en uit nood geleer het om heel goed Spaans te praat!”
http://www.rooirose.co.za/beroepsbreuk-ja-nee/
2017-01-20 11:05:51
Kinders wat verskil
Haar kinders verskil soos dag en nag, vertel ’n ma met ’n lang, diep sug. “‘Dag’ is nou derde jaar op universiteit en ‘Nag’ ploeter rond en sukkel om graad 11 deur te kom. En ons het hulle nie verskillend grootgemaak nie.” Maar, wonder ’n mens: Het dieselfde opvoeding en behandeling hulle werklik dieselfde geleenthede gegee? Verskillende kinders het verskillende brandstof nodig om te kan gedy. Nes jy nie ’n wingerdstok en ’n appelboom op dieselfde manier snoei nie, kan jy nie ’n uiters sensitiewe kind op dieselfde manier as ’n weerbarstige, eiewillige kind dissiplineer nie. Die lewe deel vir mense verskillende kaarte uit. En jy speel elke hand anders, al is daar universele beginsels van liefde, omgee en dissipline. Ouers én kinders verskil, want hul persoonlikhede, vaardighede, talente, voorkoms, geslag, ouderdom en posisie in die gesin verskil, en hulle is deur verskillende ervarings of omstandighede gevorm. Ouers besef dikwels al met kleuters dat die hantering en dissipline wat met een kind wondere verrig, glad nie met ’n volgende kind werk nie. Inteendeel, dit het dikwels presies die teenoorgestelde uitwerking. Ouers wil graag regverdig wees en hul kinders dieselfde behandel. En dan werk dit nie. Dit maak ouerskap dikwels baie moeilik, onseker en frustrerend. Ouers én kinders verskil, want hul persoonlikhede, vaardighede, talente, voorkoms, geslag, ouderdom en posisie in die gesin verskil, en hulle is deur verskillende ervarings of omstandighede gevorm Onvoorwaardelike aanvaarding Daar is dinge wat ’n mens met alle kinders dieselfde kan en móét doen: Alle kinders het behoefte aan tyd, aandag, liefde en onvoorwaardelike aanvaarding. Maar vir ’n sagte, sensitiewe en emosionele kind is dit meer as genoeg om jou afkeuring rustig en gematig te laat blyk. Sulke kinders voel gou sleg en sal dadelik aanpassings probeer maak. Op ’n ander kind het dieselfde optrede, of selfs ’n paar harde woorde en ’n raps op die boud, nie eens naastenby dieselfde gewenste uitwerking nie. Ekstroverte kinders kry hul energie uit mense en dinge, hulle wil heeltyd iets doen, aan baie aktiwiteite deelneem, aan die gang wees, praat, redeneer en sosiaal verkeer. Hulle deel makliker hul emosies. Hulle word gou verveeld en wil dinge doen, want dit stimuleer hulle en laat hulle blom. Kry hulle nie die stimulasie nie, kan hulle hul energie in eiewilligheid in kanaliseer. Vir rustige, introverte ouers kan dit te veel wees, en hulle probeer hulle dikwels beperk en net rustig kry. Introverte, rustige kinders ervaar te veel mense en aktiwiteite as dreinerend en oorweldigend. Hulle het behoefte aan meer alleentye, aan minder dinge, ’n rustiger tempo en hulle praat nie so maklik oor hul emosies nie. Ekstroverte ouers ervaar dikwels dat hulle dinge te stadig doen en nie wil praat of deel nie, en probeer dan om die kind met druk en dreigemente dinge te laat doen. Al die aktiwiteite, soos swemklasse, ballet, drama en ekstra wiskunde put die kinders uit en maak hulle moedeloos en lusteloos. So ’n kind voel dat sy nie goed genoeg is nie. Vir haar sou veel minder eintlik meer wees. Sy sou veel beter kon vaar as sy haar energie op minder dinge kon gebruik. Party kinders hou van voorspelbaarheid en is georden, gestruktureerd, betyds en beplan hul dinge. Vir ander kinders verg dit ’n bewustelike en moeilik aangeleerde poging om betyds en georden te wees. As hulle hulself is, het hulle nie ’n benul van tyd nie, kom laat en stel take uit, maar hulle hou van opwinding, verandering, gemaklikheid en buigbaarheid. Hulle vergeet maklik en is geneig om op die laaste nippertjie dinge met ’n hoop energie te doen, wat dikwels daartoe lei dat hulle werk afgeskeep en nie deeglik en georden is nie. Hulle moet leer om aanpassings te maak, maar om van hulle te verwag wat geordende kinders kan doen en hulle presies dieselfde terugvoering en leiding te gee, is problematies. Dit kan hulle moedeloos en weerbarstig maak. Kinders moet ook besef en geleer word dat verskillende mense in verskillende situasies verskillende optrede verg en verskillende dinge nodig het. Daarom kan boetie wat ’n landloper is nuwe hardloopskoene kry. Sy nie. En dis nie onregverdig nie. ’n Ander keer het sy iets nodig, en kry hy weer niks. Die posisie in die gesin kan ook ’n groot rol speel. Ouers is dikwels geneig om meer te identifiseer met die kind wat dieselfde posisie in die gesin het as wat hy/sy het. Die posisie in die gesin kan ook ’n groot rol speel. Ouers is dikwels geneig om meer te identifiseer met die kind wat dieselfde posisie in die gesin het as wat hy/sy het Oudste kinders • Is meestal gehoorsaam, verantwoordelik en hardwerkend; ambisieuse, suksesgedrewe presteerders; of hulle is op omgee, sorg en versorging van ander ingestel. • Voel dikwels of ander net van hulle vra en vra en baie verantwoordelikheid en werk op hulle stort, en hulle voel stilweg wrokkig hieroor. • Verwag respek van ander, maar kan soms selfsugtig en te doelgerig oorkom. • Is dikwels perfeksionisties en georganiseerd. • Gee om wat die mense dink; terugvoer van ander is belangrik. • Stres maklik en sit baie druk op hulself en ander. • Bly gewoonlik naby die ouerhuis. Die middelkind of tweede kind • Gaan dikwels in presies die teenoorgestelde rigting as die oudste kind. • Is gemakliker om en tussen mense; ’n natuurlike onderhandelaar en vredemaker; realisties en nie bederf nie; sal kompromieë aangaan. • Hou nie van konfrontasie en konflik nie; gee nie sommer hul werklike mening nie; wys minder gevoelens en vra nie sommer hulp nie. • Vriendskappe is vir hulle belangrik, hulle maak maklik vriende en hou hulle. • Gee minder om wat mense dink. • Is onafhanklik, wil dinge anders en op hul manier doen. • Verlaat dikwels die huis voor die oudste kind, en sal makliker verder van die ouers af woon. • Sal makliker ’n rebel word en kanse waag. Die jongste kind • Hulle het gewoonlik goeie mensvaardighede, is liefdevol, gaaf en oulik – waarmee hulle jou kan manipuleer as jy nie ligloop nie. • Hulle is dikwels redelik ongekompliseerd, maar soms ’n bietjie selfgesentreerd. • Hul behoefte aan aandag laat hulle dikwels dinge doen wat ander laat terugdeins. Hulle dóén dit net. • Hulle het uithouvermoë, maar kan ongeduldig en bederf wees en sukkel om “nee” te aanvaar. • Hulle is dikwels vermaaklik, vol humor en weet hoe om die aandag te kry. Marike sê haar twee seuns verskil hééltemal. “Dis so moeilik. Janco is ’n bietjie meer as twee jaar ouer as Pieter. Pieter verstaan nie dat Janco ouer is en dinge daarom beter as hy kan doen nie. As Janco ’n fiets kry, wil Pieter ook een hê, anders is daar oorlog in die huis en is ons onregverdig. Ons probeer so hard om regverdig te wees, maar Pieter bly net in Janco se skaduwee. “Alles kom so maklik vir Janco. Van kleins af is almal mal oor hom, hy het selfvertroue en praat met almal. Waaraan hy ook al raak, verander vir hom in goud. Hy is slim en presteer akademies, en word dikwels as leier of kaptein gekies. Hy tree met gemak voor mense op en is boonop goed in sport. “Vir Pieter is dit glad nie so nie. Hy is skugter en stil, het reeds in graad R ’n bril gekry en moes arbeidsterapie kry. Hy sukkel. Sukkel met maats, met leer, met sport en veral met sy boetie en homself. Dit breek ’n ma se hart. Ek vra ook hoekom? Vir my voel dit ook onregverdig. Weet jy hoe verskriklik is dit as die kinders rapporte kry? Janco mag nie syne oopmaak as Pieter by is nie. Ek kan nie onbevange saam met my oudste kind opgewonde wees oor sy prestasies nie. Ek sien nie kans om dit aan Pieter te doen nie. Ek weet ons doen eintlik ’n onreg aan Janco ook, maar die Vader weet, ons weet nie hoe anders nie.” Nadi* vertel: “Ons het ons kinders geleer hulle hou ’n kristalballetjie vertroue in hul hande vas. En as hy val, is hy stukkend. Ons pligsgetroue presteerder het hom gemaklik en veilig vasgehou. Maar ons moes leer dat die ander een ’n ander, meer kreatiewe maar riskante pad loop. By haar moes ons dikwels die balletjie vat, keer dat hy nie val nie en in haar hande terugsit. En in aanvaarding selfs ’n nuwe balletjie gee; aanhou wys dat ons in haar glo, dat sy in haarself kon glo. Ons kind glo en vertrou, want mense tree meestal op in ooreenstemming met die vertroue wat hulle beleef.” As ouers kinders nie werklik ken, aanvaar en verstaan nie, stel hulle maklik eise waaraan ’n kind nie kan voldoen nie. En dan kry die kind nie wat sy nodig het om intellektueel, emosioneel, spiri- tueel en selfs fisiek en sosiaal toereikend te ontwikkel nie. Dan kan ouers se goed bedoelde pogings om die kind te skaaf en in die regte rigting te buig, die kind skaad en selfs knak. En dit maak ’n goeie, oop verhouding met ’n kind gewoonlik baie moeilik. Kinders moet ook leer dat verskillende optrede teenoor verskillende kinders nie onregverdigheid is nie, maar die antwoord is op verskillende behoeftes. As daar in die gesin oop kommunikasie hieroor is en elkeen tog sy plekkie in die son het en kry wat hy fisiek en emosioneel nodig het, vertrou kinders hul ouers se ouerskap en besluite.
http://www.rooirose.co.za/kinders-wat-verskil/
2017-01-26 16:07:19
Lag ’n slag
Oefen jou lagspiere Klaarblyklik maak dit nie saak of die lag werklik of gedwongeis nie. • Dus: lag lank en lekker vir flou grappe, of sommer vir jouself en dikwels word dit dan ’n regte kraailag uit jou maag uit. • Vergeet van flieks waarin jy huil dat die trane spat, soek die komedies uit en nooi sommer ’n vriend of twee oor om saam met jou te skater. Lag is aansteeklik en groter pret as jy nie alleen is nie. • Kyk na ’n lawwe program op televisie al is dit nie heeltemal jou smaak nie en dwing jouself om te lag. • Leer om vir jouself te lag eerder as om gefrustreerd of vies te word as jy foute maak. • Gaan kyk na ’n komediant. 15 minute se lag verbrand 40 kalorieë en 10 minute se uit die maag lag, kan chroniese pyn verlig – Dr. Ramón Mora-Ripoll Hoekom voel jy beter? Volgens dr. Mora-Ripoll sneller lag veranderinge in die spiere, immuunstelsel en hormoonstelsel wat tot positiewe emosies lei en só lewensgehalte verbeter. Dit help ook om spanning te beheer en verbeter sosiale vaardighede. Boonop lyk dit of lag die vlakke van oksitosien, melatonien, serotonien en dopamien verhoog – alles hormone wat jou vrolik laat voel. Ha, ha, ha … Lag is toe die beste medisyne. * Dr. Ramón Mora-Ripoll skryf in die mediese joernaal Alternative Therapies in Health and Medicine dat lag as aanvullende medisyne gesien moet word in die voorkoming en behandeling van siektes en raai almal aan om elke dag lekker te lag.
http://www.rooirose.co.za/lag-n-slag/
2017-01-25 12:06:47
Knyp beursie toe teen swak diens
Die dame by die kasregister maak geensins oogkontak terwyl sy die foon tussen haar skouer en oor vasknyp en haar hand uitsteek om my kleingeld aan te gee nie. My kleingeld kletter kliphard op die toonbank en rol oor die winkelvloer toe sy los voor ek vat. Sy lyk ’n oomblik verbaas, maar sit dan luidkeels haar gesprek voort. Vies tel ek my muntstukke op en neem my voor om volgende keer eerder by dié winkel se kompetisie te koop. Want ’n gebrek aan diens en ordentlikheid is iets wat my telkens stom van verbasing laat. Ek verwag nie dat daar ’n rooi tapyt uitgerol word elke keer wat ek ’n brood en melk gaan koop nie, maar sover ek weet, beteken ’n werk agter ’n winkeltoonbank dat mens daar is om te werk – en so ’n werk behels diens aan mense wat die winkel besoek. As jy nie hou van mense en dienslewering nie, wat doen jy in daardie pos? By ’n ander geleentheid het ek op ’n bedrywige Saterdagoggend ’n kettingwinkel in die mall besoek. Die winkel was egter verbasend stil en nadat ek die rakke onsuksesvol deursoek het vir die regte grootte kledingstuk vir my dogtertjie, het ek by die winkeltoonbank gaan hulp vra. Die gesprek het min of meer só verloop: Ek: “Het julle dalk hierdie baadjie in ’n 8-9 ook?” Werknemer: “Hulle stop by 8-9.” Ek: “Ja, maar het julle dalk voorraad van ’n 8-9?” Werknemer: “Nee.” Ek: “Sal julle tak in die dorp dalk hê?” Werknemer: “Ja, dalk.” Ek: “Kan julle asseblief vir my op die stelsel kyk of hulle dalk het?” Werknemer: “Nee. Ons moet bel.” Stilte. Ek: “En, julle gaan nie bel nie …?” Werknemer: “Nee, hulle tel in elk geval nie hulle foon op nie.” Ek, na ’n oomblik se stille verbasing: “So, julle gaan my nie help om die baadjie wat ek soek te koop nie?” Werknemer trek skouers op. Ek: “Dan moet ek nou maar ’n baadjie hier oorkant gaan koop?” Werknemer: “Dis regso. Maak wat jy wil.” Dit alles terwyl die manlike winkelbestuurder agter haar staan en toeluister. *** Volgens ’n sosiale mediablad oor dienslewering word daar gereeld klagtes ontvang oor hierdie spesifieke winkel en werknemer se gedrag teenoor klante. Maar, dit blyk dat dit hulle min skeel. Die heersende houding is skynbaar: “Die winkel is oop, hier is klere om te koop – wat meer wil jy hê?” Hulle is nie die enigste onderneming nie – daar is talle. Dit verbyster my dat ’n mens so min kan omgee vir die winkel of onderneming waarvoor jy werk – of erger nog, wat aan jou behoort. Toe ek as student naweke en vakansietye in ’n boekwinkel gewerk het vir sakgeld, het ek reeds besef dit kos niks om vriendelik en hulpvaardig te wees nie. Dit is immers my werk – ek doen niemand ’n guns nie; dit is waarvoor ek betaal word. Ons as winkelassistente het nou en dan met arrogante mense te doen gekry, maar jy wéét dat die winkel se beeld van jou gedrag as werknemer afhang. Dit is só eenvoudig. My uitgangspunt was nog altyd dat mense en diens belangriker is as geldmaak. Goeie dienslewering en konstante verbetering behoort enige onderneming se hoofprioriteit te wees. Ongelukkig het nie almal daardie uitgangspunt nie. Geld het belangriker geword as verhoudings. In die worsmasjien van geldmaak, is dit dikwels nie eers meer vir iemand duidelik hoe hy die mense waaruit hy geldmaak, behandel nie. Die Kuga-debakel die afgelope tyd het die kwessie van dienslewering en hoe dit ’n handelsmerk kan knou, weer op die spits gedryf. Verskeie Kuga’s het aan die brand geslaan. Die grootbase van Ford is vanuit talle oorde daarvan beskuldig dat daar nie aan klagtes gehoor gegee is nie en dat die probleem onder die mat gevee is alvorens die media die omvang van die probleem uitgewys het. Daar moet dus nou heelwat vure doodgeslaan word om die handelsnaam in ere te herstel. Daar is ’n groot aantal mense wat ag slaan op klagtes en die leemtes in hulle onderneming probeer aanvul en regstel. Maar, daar is ook ’n hele paar wat eenvoudig ’n blinde oog gooi en arrogant staatmaak op hulle gewaande idee dat mense altyd sal terugkom vir nog, ongeag. Dalk is dit tyd dat ons ophou kla en ons beursies die praatwerk laat doen. Weier om vir vrot diens te betaal. Weier om onbeskof behandel te word en stap aan na die volgende winkel waar die kans goed is dat jy wel hoflike en vriendelike diens sal kry. Miskien skrik iemand wakker en besef dat ’n mislike houding en goor diens ’n onderneming niks in die sak bring nie. Dalk skrik so iemand nooit wakker nie. Maar, dit is altyd jou keuse of jy gaan toelaat dat jy deur swak diens geboelie word.
http://www.rooirose.co.za/knyp-beursie-toe-teen-swak-diens/
2017-01-24 09:06:47
Oeskoors-fees beloof iets vir almal
Teubes Familiewyne bied op Saterdag, 28 Januarie 2017 die derde Oeskoorsfees in Vredendal aan. Dit is ’n dag om saam met familie en vriende die jaar se oes te seën en die beste kos en wyne te geniet. Teubes Familiewyne het vier wynreekse, naamlik Teubes Family Wines, Lambertsbay’s Finest, Malkopbaai en Karoobossie. Die kelder is ook passievol oor die skep van ’n uistekende Sauvignon Blanc. Al hul wyne sal tydens die fees beskikbaar wees om te proe of saam te neem huistoe. Daar gaan genoeg aktiwiteite wees om die feestelikheid in elkeen uit te bring. Een van die fees se hoogtepunte die jaar is die oes-sport. Dit sluit aktiwiteite soos druiwe-trap, prop-spoeg en ander familiesporte in. Vir die meer waaghalsige jonger garde is daar ’n waterwurm wat hulle vir ure sal besig hou. Kleinboet en Sus hoef nie die pret mis te loop nie, want Pikkieland se aktiwiteite is net vir hulle bedoel. Tussendeur al die pret gaan ’n ontspanne atmosfeer deur talle kunstenaars geskep word. Oud en jonk kan verwag om verras te word deur ’n wye verskeidenheid geliefde sangers. Besoekers kan stalletjies met kos vir elke smaak verwag. Ou gunstelinge soos roosterkoek, pannekoeke en Chip ’n Dip gaan ’n verskyning maak. Verder gaan daar ook ’n Piping Hot Pizza en Spur-stalletjie wees. Om alles te kroon bied Teubes Familiewyne hul eie borde met warm en koue lekkernye aan – die perfekte pasmaats vir hul wyne! Kaartjies beloop R100 per persoon vir volwassenes en R10 per persoon vir kinders onder 12. ’n Gratis wynglas is ingesluit by die prys. Bespreek jou kaartjies by [email protected] of kontak +27 (0) 27 213 2377. Besoek gerus Teubes Wines op Facebook (Teubes Wines), Twitter (@TeubesWines) en Instagram (@teubeswines) vir meer inligting, of die webblad by www.teubeswines.co.za.
http://www.rooirose.co.za/oeskoors-fees-beloof-iets-vir-almal/
2017-01-10 13:50:19
Hoenderslaai met avokadohoemoes en krakerige antieke grane
Genoeg vir 4 Avokadohoemoes • hand vol kruisement • 50 g babaspinasie • 5 ml (1 t) komynsaad, liggies gerooster en gemaal • 2,5 ml (½ t) gerookte paprika • 1 knoffelhuisie, fyn gekap • 45 ml (3 e) suurlemoensap • 1 x 400 g-blikkie kekerertjies, gedreineer • 1 avokado, geskil • 15 ml (1 e) tahini • sout en swartpeper 1 Bring ’n kastrol met water tot kookpunt. 2 Dompel die kruisement en spinasie vir 15-30 sek. in die kookwater. Dreineer en laat lê vir 1 min. in yswater. 3 Druk al die vloeistof uit en hou eenkant. 4 Meng die kruisement, spinasie, komyn, paprika, knoffelhuisie, suurlemoensap, kekerertjies, avokado en tahini in ’n voedselverwerker tot glad. 5 Geur met sout. Krakerige antieke grane • Meng 125 ml (½ k) heel bokwiet, 125 ml (½ k) heel gars, 125 ml (½ k) okkerneute, 125 ml (½ k) pampoensaad, 30 ml (2 e) heuning, 30 ml (2 e) olyfolie, 2,5 ml (½ t) komynsaad, liggies gerooster, 2,5 ml (½ t) gerookte paprika en 1 fyn gekapte knoffelhuisie. • Verhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Versprei die mengsel eweredig oor die bakplaat. Bak vir 30-35 min. of tot goudkleurig en krakerig. LEES OOK: Beet-falafels met platbrode van antieke grane LEES OOK: Dadel-en-graan-beskuitjies met botterskorsie-hoemoes Slaai • 4 hoenderborsies (sonder vel en been), oopgevlek • 45 ml (3 e) olyfolie • gerasperde skil van 1 suurlemoen • 1 knoffelhuisie, gekap • 10 ml (2 t) heuning • 250 g kersietamaties • 4 eiers, sag gekook, afgedop en middeldeur gesny (ons het die eiers vir 4 min. in borrelende water gekook). 1 Verhit die oond tot 200 °C. 2 Sit die hoenderborsies in ’n mengbak met 30 ml van die olyfolie, suurlemoenskil, knoffel en heuning. Marineer vir 30 min. 3 Verhit ’n riffelpan oor matige hitte. Braai die hoender vir 5 min. aan elke kant of totdat riffelmerke verskyn. Geur met sout. 4 Sit die hoenderborsies en kersietamaties op ’n oondpan. Sprinkel die oorblywende olyfolie oor. 5 Rooster vir 15-20 min. of totdat die vleis gaar en die tamaties liggies gerooster is. 6 Sny die hoender in dun repies. Pak die slaai in bakkies uit met die avokadohoemoes, avokado, hoenderrepies, kersietamaties, eier en krakerige grane.
http://www.rooirose.co.za/hoenderslaai-met-avokadohoemoes-en-krakerige-antieke-grane/
2017-01-16 11:56:50
Tyd vir oefen!
3 groot gimsondes 1. Geen opwarming en strekoefeninge nie Jy spaar dalk tyd om nie voor die tyd op te warm en agterna te strek nie, maar die prys is hoog. Jou kanse op beserings is groter as jy met koue spiere begin oefen. Ná oefening is jou spiere in ’n verkorte toestand en is dit dus beter om te strek. Dit help ook om lang, soepel spiere te bou, eerder as kort bonkiges. 2. Swak tegniek As jy ’n oefening verkeerd doen, kry jy nie waarde uit die oefening nie en kan jy beserings opdoen. Vra ’n instrukteur se hulp as jy ’n nuwe oefening begin, en konsentreer wanneer jy dit doen. As jy te moeg is om dit reg te doen, is dit tyd vir ’n blaaskans. 3. Moenie op een spiergroep fokus nie Eerstens lyk dit koddig, maar veel belangriker skep dit wanbalans in jou spiere wat tot beserings kan lei. Moenie net op die trapklimmer werk om jou beenspiere te verbeter nie. Probeer elke week ’n ander masjien om ander spiere te oefen. Kopoefeninge ontlaai jou emosies Instrukteurs van joga en ander “kopoefeninge” soos pilates sien dat mense in die klas soms sonder rede aan die huil raak. Een van die verduidelikings is omdat die liggaam soms emosies “stoor”, hoewel die kop dit reeds verwerk het. Deur sekere spiere te ontspan, kan jy van die spanning ontslae raak. Die ander teorie is dat jy bloot meer op jou wese fokus as jy dié soort mediterende oefeninge doen en so meer onbewustelike spanning kan identifiseer.
http://www.rooirose.co.za/tyd-vir-oefen/
2017-01-24 12:00:00
Blink, bont en besonders by die 74ste Golden Globes
Blink, bont en besonders – dit was die 74ste Golden Globes op die rooi tapyt. Blink Van sagte sy, fluweel, tot dramatiese blinkers. Eenvoud word opgekikker met verskillende teksture soos hierdie rok van Jessica Biel. Hiermee bewys sy hóé mooi ’n swart fluweelrok kan wees. Blinkers was verlede jaar reeds hoogmode, maar sterre soos Nicole Kidman en Drew Barrymore het bewys dat díe tendens vanjaar nóg groter gaan wees. Jessica Biel in Elie Saab. Foto: REX/Shutterstock/Greatstock Drew Barrymore in Monique LHuillier. Foto: BEI/Shutterstock Bont Die blompatroon is beslis ’n tydlose modetendens, maar Olivia Culpo het die 1500’s-styl weer laat vlamvat met haar dramatiese kleurskakerings, krale en tekstuur deur die Lebanese ontwerper Zuhair Murad, wat ’n skilderdoek-effek skep met sy artistieke afrondings. Zoë Saldana het bewys dat pienk skakerings enige vrou komplimenteer en laat straal van vroulikheid. Verder word die sagte valle afgerond met ’n groot strik wat haar middellyf pragtig komplimenteer. Olivia Culpo in Zuhair Murad. Foto: REX/Shutterstock/Greatstock Zoe Saldana in Gucci. Foto: REX/Shutterstock/Greatstock Besonders Met kontrasterende skakerings van rooi en pienk het style soos Lily Collins se Zuhair Murad-rok en haar helder lippe alle modereëls oorskry. Alhoewel vanjaar se mode-inspirasies ongewoon was, was die klassieke halslyne soos die V-halslyn en die elegante oopskouerrok steeds ’n gunsteling. Snitte soos die noupassende lyfrokke was minder te sien en balrokke het teruggekeer, wat 2017 op ’n dramatiese noot afskop. Hoewel balrokke met die prinsesstyl geassosieer word, is die snit gemoderniseer met ’n hoë A-halslyn, oop skouers en afgewissel met moderne, blink bykomstighede. Die aktrise Octavia Spencer het die koppe laat draai met ’n klassieke broekpak. Met eenvoud in bykomstighede en materiale het beide Spencer en Evan Rachel Wood bewys dat ’n rok nie altyd die keuse vir ’n vroulike voorkoms hoef te wees nie. Die ongewone kleur, geel, was hierdie jaar ook ’n gunsteling. Sterre soos Natalie Portman, Emily Ratajkowski en Viola Davis het in hul skakerings van kannariegeel tot ’n sagte poeiergeel bewys dat ’n mens nie moet huiwer om geel te dra nie. Evan Rachel Wood in Altuzarra McQueen. Foto: BEI/Shutterstock/Greatstock Octavia Spencer in Laura Basci. Foto: REX/Shutterstock/Greatstock
http://www.rooirose.co.za/blink-bont-en-besonders-by-die-74ste-golden-globes/
2017-01-13 14:54:48
Slaai met bokmelkkaas, parmaham, mielies & bessies
Genoeg vir 6 Bokmelkkaasrolletjies • 15 ml (1 e) olyfolie • 5 ml (1 t) heuning • 30 ml (2 e) pistasieneute, gekap • 30 ml (2 e) sesamsaad • 30 ml (2 e) sonneblomsaad, gekap • 30 ml (2 e) hennepsaad • sout en swartpeper • 200 g bokmelkkaas 1 Verhit die olyfolie oor matige hitte. Braai die heuning, pistasieneute, sesam-, sonneblom- en hennepsaad vir 2-5 min. daarin, of tot liggies gerooster. 2 Geur en laat afkoel. 3 Rol die bokmelkkaas in klein balletjies. Sit die saadmengsel in ’n bakkie en rol die balletjies daarin tot hulle heeltemal bedek is. Mielieslaaisous • Verhit 15 ml (1 e) olyfolie in ’n pan oor matige hitte. Braai ’n klein gesnyde uitjie daarin tot sag. Voeg die pitte van 1 soetmielie by en braai vir nog 1-2 min. Trek van die hitte af en voeg 80 ml (⅓ k) olyfolie, 30 ml (2 e) witwynasyn, 10 ml (2 t) heuning en 5 ml (1 t) korrelmosterd by. Meng goed en geur met sout. Slaai • 1 spanspek, geskil en in agtstes gesny • 100 g parmahamlappies • 100 g basiliekruid • 100 g kruisement • 100 g slaaiblare • 250 g frambose • 250 g swartbessies 1 Draai ’n lappie parmaham om elke spanspekskyf. 2 Meng die basiliekruid, kruisement, slaaiblare, frambose, swartbessies, bokmelkrolletjies en mielieslaaisous saam op ’n mooi opdienbord. 3 Sit die spanspekskywe bo-op en sit voor.
http://www.rooirose.co.za/slaai-met-bokmelkkaas-parmaham-mielies-bessies/
2017-01-19 11:38:26
Angelina Jolie is die nuwe gesig van Guerlain-parfuum
Guerlian, die Franse skoonheidshuis wat in 1828 gestig is, het pas aangekondig Angelina Jolie is die ikoon van hul jongste fyngeur vir vroue, Mon Guerlain. “Ons skep parfuum vir die vroue wat ons bewonder,” het Jacques Guerlian, skepper van fyngeure soos Shalimar, L’Heure Bleue en Mitsouko, gesê. Thierry Wasser, Guerlian se meester parfuummaker, het sy inspirasie by Angelina Jolie gekry om ’n fyngeur te skep wat die idee van “notes of a woman” uitbeeld. Die keuses, emosies en drome wat moderne vroulikheid verpersoonlik. Die vennootskap tussen Angelina en Guerlian is reeds in Desember 2015 in Cambodia aangegaan, waar sy tydens die verfilming van die rolprent, First They Killed My Farther, as regisseur opgetree het. Die idee het egter sy oorsprong in Angelina se kinderjare-herinnering van haar ma se liefde vir ’n Guerlian-poeier. Angelina Jolie is ’n filmmaker, aktrise, spesiale gesant van die VN-vlugtelinge agentskap en ook die medestigter van die Preventing Sexual Violence Initiative. Sy het haar hele salaris van die Guerlian-veldtog aan liefdadigheid geskenk. Die nuwe geur, Mon Guerlian, word in Maart 2017 in Suid-Afrika bekendgestel. Jy sal ook hou van Parfuum vir ieder en elk
http://www.rooirose.co.za/angelina-jolie-die-nuwe-gesig-van-guerlain-parfuum/
2017-01-24 12:07:37
Jy kan koorsblare kortvat
As dit by koorsblare kom, voel ek asof ek wil uitroep: Jy ook, Koorsblaar? Presies soos Shakespeare se Julius Caesar teenoor sy beste vriend, Brutus, toe dié hom doodsteek. Want ’n koorsblaar ís ’n opperste rugsteker. As jy hom eers het, bly die koorsblaarvirus, Herpes Simplex 1, lewenslank in jou senuselknoppies waarvandaan hy toeslaan sodra dit sleg met jou gaan – soos wanneer jy reeds brongitis het, oormoeg is, of gespanne is oor ’n moeilike vergadering wat voorlê. 5 dinge wat jy van koorsblare moet weet 1 Álmal dra die koorsblaarvirus Teen sewentig dra 90% van ons hom. Hoekom kry jy dan nooit ’n koorsblaar nie? Omdat die geluk – eintlik die regte gene – aan jou kant is. 2 Koorsblare is ’n familieding Maar nie omdat julle mekaar aansteek nie. Met spesifieke gene op chromosoom 21, kan jy die geneigdheid tot koorsblare na jou kinders oordra. 3 Daar is agt soorte herpesvirusse Herpes 1 wat mondkoorsblare veroorsaak, Herpes 2 wat genitale herpes veroorsaak en Herpes zoster wat waterpokkies by kinders en gordelroos by ouer mense veroorsaak. Hodgkinsiekte, Kaposi se sarkoom en Burkittlimfoom het ook herpes as oorsaak. 4 Herpes is ongeneesbaar As jy hom het, het jy hom vir altyd. Die virus woon in die senu-knoppies waarvandaan die senuweeselle vertak. Wanneer jou gestel af is, hardloop dit as ’t ware langs die senuwees buite na die vel op jou lippe toe waar dit begin vermeerder. 5 Koorsblare is uiters aansteeklik Jy kan ander mense aansteek solank die koorsblaar sigbaar is. Moenie in die tyd mense op die mond soen, saam aan ’n toebroodjie hap, deur dieselfde strooitjie suig en eetgerei deel nie. Was jou hande ná jy jou koorsblaar versorg het. En moenie nou aan jou oë of geslags-dele vat nie, want die virus kan daarheen versprei … anders as wat voorheen gedink is. Die beste raad • Antivirussalf bly ou staatmakers wat die uitbraak darem met ’n dag of drie verkort. • Antiviruspille is net op voorskrif beskikbaar en net vir diegene wat werklik baie gereeld koorsblare kry. Sommige mense vind baat daarby om die blaar met ’n helende velsalf, soos sinksalf of vaseline klam te hou, terwyl ander die wond eerder laat uitdroog. Kyk maar wat vir jou die beste werk. • Belê in jou tye van koorsblaarsmart ook in aanvullers wat jou immuunstelsel opbou, soos vitamien C (tot ’n 1 000 mg per dag) en lisien (lysine).
http://www.rooirose.co.za/jy-kan-koorsblare-kortvat/
2017-01-26 14:51:55
Gulde reëls vir gesondheidstoetse
Een uit elke twee hartaanvalle word aan hoë cholesterolvlakke gekoppel, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie. As jy soos ek is, spoed die jaar/jare verby, sonder dat jy by daardie basiese toets uitkom. Stap nog dié week by jou naaste Clicks-apteek in en doen jou basiese toetse vir cholesterol, bloeddruk en diabetes op die bekostigbaarste manier beskikbaar. • Bang vir wat die toets gaan verklik? Moenie wees nie, want dit wys jou net hoe jy kan verbeter. Sien dit soos Thomas Edison, die vader van die gloeilamp: “Ek het nooit misluk nie. Ek het net nog ’n manier ontdek wat nie werk nie.” • Verstaan die toets. Stel vas wat die uitslag eintlik sê. Ons het die volgende vrae oor die HbA1c-toets gevra. Vra soortgelykes omtrent enige ander toets. • Wat sê dit? Die gewone glukosetoetse sê wat jou bloedsuiker op die oomblik is; die HbA1c sê wat jou gemiddelde bloedsuikervlakke die afgelope tien tot twaalf weke was en sê dus hoe goed jou diabetesplan vir jou werk. Jy wil hê dit moet goed met jou lewenstyl saamwerk om komplikasies lateraan te verminder. • Hoe werk dit? Glukose, die brandstof wat jou liggaam gebruik, heg aan die hemoglobien in jou rooibloedselle. ’n Rooibloedsel leef sowat drie maande. Die hoeveelheid glukose in jou rooibloedselle wys dus hoeveel glukose in jou bloed beskikbaar was. Hoe minder onbenutte glukose in jou bloed hoe beter vir jou diabetes. • Moet jy voorberei op die toets? Hoewel jy vir party toetse moet vas of op ander maniere moet voorberei, hoef jy vir hierdie een niks te doen nie. • Wat is “goed”? Vir die HbA1c is enigiets onder 5,7% uitstekend. Van 5,7 – 6,4% beteken jy het prediabetes. As jy jou leefstyl nóú aanpas, kan jy nog jou pankreas red. Jy het nog uitkomkans. Bo 6,5% beteken jy het reeds diabetes. Jy beheer jou diabetes baie suksesvol as jy jou HbA1c onder 7% kan hou. • Hoe gereeld moet jy die toets herhaal? Prediabete moet die HbA1c een keer per jaar doen; tipe 1- en tipe 2-diabete word 3-4 keer per jaar getoets. As jy op nuwe medikasie gaan, sal jy moontlik meer getoets word om te monitor hoe goed jy daarop vaar. Wees gemiddeld Ons is so gekondisioneer dat sukses beteken jy mik vir die meeste, hoogste, verste, vinnigste, laagste en so aan. By gesondheid werk dit net mooi andersom: jy vaar die heel beste as jy alles matig doen: matig oefen, matig slaap, matige porsies inskep, matig drink, matig in die son kom en so aan. Gebruik toetse vir sukses Sommige toetse is bedoel om probleme op te los, soos die Clear Blue- digitale ovulasietoets. Volgens die vervaardigers is vroue gemiddeld ’n skamele 26 dae per jaar optimaal vrugbaar. Mis hierdie paar kanse en nog ’n jaar sonder ’n baba op pad is verby. As jy bo dertig is en nie tyd het om te verspil nie, kan ’n ovulasietoetsstel die raaiwerk uit jul pogings haal. Pas aan by jou uitslag Die perfekte bloeddruklesing is laer as 120/80. As joune hoog is, kyk watter doodgewone dinge jy vir jouself kan doen. Volgens ’n ondersoek kan jy met net drie koppies doodgewone tee per dag jou bloeddruk met nege punte laat sak. Probeer ten minste en kyk of dit vir jou werk. Hou jou rekords Jou uitslae skets jou geskiedenis, wat later belangrik kan wees. En bewaar jou toetsuitslae en verslae sélf. (Vra vir afskrifte.) Dokters, patoloë en apteke skuif, sluit en/of vernietig uitslae na verloop van tyd.
http://www.rooirose.co.za/gulde-reels-vir-gesondheidstoetse/
2017-01-25 11:59:29
Boek van die maand: Lugkasteel
Lugkasteel – Annelie Botes (Penguin) In 2004 het Annelie Botes op die vliegtuig geklim Engeland toe om ’n ouma te gaan soek wat sy kan oppas. Dit was haar “boete-reis vir agterweë skuld” en die boek se naam was Sabbatsreis. Sy het toe haar Granny gekry en die ervaring was hels en hemels. Dié keer is haar reis terug Engeland toe effe anders. Sy word die oppasser van vier onhebbelike, ongemanierde en bedorwe seuns uit die adelstand. Maar tot haar skok bevind sy haar eerder in ’n Aspoester-posisie: skoonmaker, bediende, onderling. Sy kry koud, sy ly honger. Sy kry skuiling in ’n ou Merc wat verlate in ’n plaat onkruid op die landgoed staan en maak dit haar toevlugsoord; ’n plek waar sy droom en dink. Tien jaar later sit sy by haar ou lessenaar en dink weer oor daardie tyd. En leer: ondanks ons stukkende vlerke is dit moontlik om weer te leer vlieg. Botes se vermoë met die woord is lieflik, soos in al haar boeke bewys. Uitgewersprys R220 rooi rose R200
http://www.rooirose.co.za/boek-van-die-maand-lugkasteel/
2017-01-16 05:00:33
Wen dubbelkaartjies na die premiére van 'Hoener met die Rooi Skoene'
Dis nie ‘n kinderstorie of ‘n feëverhaal nie. Ook nie ‘n drama nie. Nee, die nuwe fliek, ‘Hoener Met Die Rooi Skoene’, is ’n riller-komedie deur die bekende filmmaker, Koos Roets. En hy gaan kykers laat regopsit, ril en skater van die lag. Bonnie is ’n ontvangsdame van die internasionaal bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand weer lustig voorklets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle, maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal (Deon Lotz). Sy tref hom aan met ’n dolk in sy rug op die kantoortafel agter haar en skakel dan die polisie. Maar by nadere aanskoue van die bloeiende baas, word sy oudergewoonte flou. As sy met die flitslig van Konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld … Jy kan een van vyf dubbelkaartjies na die premiére van Hoener met die Rooi Skoene in Johannesburg op 19 Januarie wen! Voltooi die onderstaande vorm om in te skryf. Sluitdatum: 11 Januarie 2017 Bepalings en voorwaardes geld. Vraag: Deur watter bekende filmmaker is 'Hoener met die Rooi Skoene' gemaak? * Naam * Van * Kontaknommer * E-posadres * Posadres * Het jy die reëls en voorwaardes gelees? * Ja Nee Mag rooi rose jou van enige spesiale aanbiedinge laat weet? * Ja Nee
http://www.rooirose.co.za/wen-dubbelkaartjies-na-die-premiere-van-hoener-met-die-rooi-skoene/
2017-01-14 00:00:00
Die Beckhams hernu hul troubeloftes
David en Victoria het na 18 jaar se getroude lewe besluit om hul troubeloftes te hernu. Daar was slegs ses gaste by dié private seremonie. David het aan BBC Radio 4 gesê dat sy huwelik aan die voormalige Spice Girl Victoria Beckham, is vir hom ’n groot prioriteit. “We’re a strong family unit. We’ve got strong parents. We were brought up with the right values. Of course you make mistakes over the years, and we all know marriage is difficult at times. It’s about working through it.” Hy het verder gesê die rede waarom hulle nog bymekaar is, is omdat hulle mekaar liefhet en vier wonderlike kinders grootmaak. Victoria het ook dié foto op haar Instagram-blad gesit waar David en hul kinders baie gelukkig lyk: I think they love him! We 💜 you @davidbeckham X VB 🙏🏻 A photo posted by Victoria Beckham (@victoriabeckham) on Jan 30, 2017 at 12:06am PST rooi rose gesels ook in die Februarie 2017-uitgawe met drie paartjies (insluitend Heinz en Aletté-Johanni Winckler), oor wat die simboliese daad van die hernuwing van troubeloftes vir hulle beteken. Lees die volledige artikel op bl. 40.
http://www.rooirose.co.za/die-beckhams-hernu-hul-troubeloftes/
2017-01-30 11:29:26
Wees sonbril-slim
Wie kan net nie ’n mooi sonbril weerstaan nie, ten spyte daarvan dat jy reeds vier sonbrille êrens in jou kas laat rondlê? Baie sonbrille beskerm jou oë egter nie teen sonstrale nie. ’n Amerikaanse studie het bewys dat anders as jou vel wat haartjies bevat, is jou oë die enigste orgaan wat direk aan ultraviolet (UVA & UVB)- sonstrale blootgestel word. En dít kan tot katarakte, gedeeltelike of selfs permanente blindheid lei, omdat die oog se retina geen beskerming teen die son se strale het nie. Lees ook: Sonbril-modes Daarom is sonbrille vandag nie net ’n bykomstigheid nie, maar ’n noodsaaklikheid. Daar is gelukkig so baie ontwerpe dat jy seker kan wees om jou pasmaatbril te vind. 6 wenke om in gedagte te hou tydens jou sonbrilsoektog Die belangrikste is om in ’n sonbril te belê wat jou teen UVA- en UVB-strale beskerm. Die meeste sonbrille absorbeer reeds UVB-strale omdat die lens van glas of plastiek gemaak is, maar UVA-strale is gevaarliker en dit is belangrik dat jou sonbril jou oë teen albei moet beskerm. Kies ’n bril wat gemaklik sit – nie te smal nie, maar wat ook nie afval wanneer jy vinnig kant toe kyk nie. ’n Sonbril word nie verniet jou tweede paar oë genoem nie, jy moet amper vergeet dat jy een dra. Soek ’n sonbril wat die beste by jou leefstyl pas – as jy gedurig jou sonbril op jou kop ronddra, moet jy liefs nie een met aanskroef-neuskussings kies nie. Só sal jy vermy dat jou hare om die fyn skroefies bo-op jou kop koek. As jy hardhandig met jou bril werk, kies ’n sterk raam wat effens dikker is om alle aktiwiteite en hantering te weerstaan. Die vel onder jou oog is ’n baie sensitiewe deel, daarom is dit belangrik om ’n bril te kies wat jou oogbanke beskerm, sonder om jou soos ’n vrugtevlieg te laat lyk. As jy onseker is, kies eerder ’n klassieke, tydlose styl. ’n Vierkantige raam met ’n effense katoog is ’n gunsteling en pas by amper enige gesigvorm. Hou die raam eenvoudig om dit by enige uitrusting te dra. Kies ’n sonbril wat by jou gesigvorm pas. As jy fyn gelaatstrekke het, is dit beter om ’n dunner raam met kleiner lense te kies.
http://www.rooirose.co.za/wees-sonbril-slim/
2017-01-02 05:00:56
Aspirien: wondermiddels, mits …
Dr. Oz sê dat as hy net één soort pil vir almal bo 40 mag voorskryf, sal dit aspirien wees omdat dit ’n ontsaglike spektrum van toestande kan verlig, genees of voorkom. Van borskanker tot kolonkanker, artritis en migraine. Noem maar op. Daarby is dit spotgoedkoop. En jy kan dit sommer maklik, sonder voorskrif of sê van jou dokter, by die supermark saam met jou brood en melk kry. En mense wêreldwyd doen dit, want mense koop 1 200 miljoen dollar se aspirien elke jaar, of minstens 12 000 000 000 pille. Daarom sluk baie van ons, veral wanneer ons ouers bloeddrukprobleme of hartkwale of artritis het, elke dag ’n halwe een as ons eie boereraat teen die skete wat dalk eendag kan uitslaan. Tog knaag die kommer aan jou. Dit kan immers jou maagwand wegvreet; dit kan jou laat bloei; jy moet voor operasies niks met aspirien daarin drink nie; dis nie vir kinders nie … Hoe veilig is dit regtig? Farmakoloog Carine Marx, direkteur van Tygerberg-hospitaal se gifinligtingsentrum, het die feite verskaf. 1 Help aspirien regtig vir alles? Ons weet aspirien verdun bloed en dit werk inflammasie teë. Dit help ook vir pyn en koors. Daarom werk dit vir talle toestande wat hiermee verband hou, onder meer talle hart- en bloedtoestande (soos angina, hartfibrillasie, hartvatsiektes, alle soorte beroertes, trombose, aarontsteking en meer); vele toestande wat met inflammasie verband hou, soos jig, artritis, gewrigsontsteking en pyn (soos vir griep, verkoue en selfs migraine). Aspirien werk op ander onbekende maniere ook: ons verstaan nie hoekom nie, maar dit is waar dat vroue wat aspirien gebruik minder geneig tot borskanker is. Aspirien verminder ook jou kanse op kolon-, slukderm- en prostaatkanker. Dit lyk asof gebruikers minder geneig is tot demensie maar dit maak geen verskil aan Alzheimersiekte nie. Dit is dus waar: langtermyn-gebruik van aspirien kan vir baie mense help. Maar – en dit is baie belangrik – ons beveel nie aspirien voor die voet aan nie. Dit kan nadelig óók wees. Terloops: onthou dat aspirien onder ’n klomp name bemark word en in talle verkouemiddels ingesluit is. Jy ken dit dalk as Disprin, Dristan, Grandpa, Ecotrin, Tenston, Coryx, Doloxene, Med-Lemon of Robaxisal. 2 Kan ék elke dag aspirien gebruik? • Dit hang van jou persoonlike gesondheidsprofiel af wat bepaal word deur die ander medisyne wat jy drink. Aspiriene kan op ander medikasie reageer, soos kortisoon, metotreksaat (Methotrexate) en bloedverdunners soos Warfarin en Clopidogrel, Seroquel en so aan. Wees veral versigtig wanneer jy medikasie vir diabetes of hartkwale drink. As jy dus daagliks aspirien wil gebruik terwyl jy ook enigiets anders – of dit nou voorskrif-, langtermyn-, of sommer net kruie- of verkoue-medisyne is wat jy oor die toonbank kan koop – moet jy ten minste by die apteker seker maak dat dit veilig is om die twee saam te drink. Terloops: wanneer jy chronies aspirien gebruik, moet jy vooruit beplan wat jy vir pyn, koors, griep, verkoues en hoofpyn gaan gebruik, want die meeste hiervan is mengsels wat ook aspiriene bevat. • Nog ’n aspek: is jou maagwand sterk genoeg? Wanneer jy dikwels sooibrand kry, of ’n maagseer het, moet jy eers met jou dokter gesels. Spesiale voorsorg, soos om “coated” aspirien te gebruik, kan dalk veilig genoeg wees vir jou. • Is dit veilig in geval van ’n operasie? Sommige chirurge beveel aan dat jy aspirien 48 uur voor ’n operasie staak maar ons stel voor dat jy dit met die chirurg moet bespreek en nie ’n veralgemening maak nie. Jy moet ook in ag neem aan watter toestande jy ly – en selfs hoeveel alkohol jy drink. • Die regte dosis is nog ’n kwessie. Met te veel kan jy jouself vergiftig; met te min hou dit vir jou geen voordele in nie. Boonop reageer een uit elke drie mense nie op aspirien nie. As jy een van hulle is, gaan dit min help! • Kinders onder een jaar mag nie aspirien kry nie – nie eens baba-aspirien nie. Ons beveel dit nie meer aan vir kinders en tieners met verkoue, koors, hoofpyn, waterpokkies, griep of wanneer ’n virusinfeksie vermoed word nie. Jou dokter is die regte beginpunt. Laat sy jou evalueer en help om die soort en die hoeveelheid aspirien te kies wat vir jou die beste is. Maar indien jy jouself gaan help, neem ten minste kennis van die volgende: In die reël is daar dié wat dit maar kan gebruik – en selfs moet gebruik. Dan is daar dié wat alles met aspirien heeltemal moet vermy en dié wat aspirien versigtig en net onder toesig kan gebruik. Vermy aspirien • wanneer jy hipersensitief, onsensitief of allergies is vir die NSAIDs, die groep middels met aspirien daarin • onder kinders en tieners met virusinfeksies, griep, waterpokkies of verkoue • wanneer jy ’n aktiewe maagseer het • wanneer jy medikasie vir bloedverdunning gebruik • jy ’n asmalyer is en jou neus dikwels loop. Moenie sommer net aspirien gebruik indien jy • gereeld meer as drie drankies per dag drink • swanger is of borsvoed • ’n bloedingsiekte het • al vantevore ’n maagseer gehad het • ulseratiewe kolitis het • aan Crohn se siekte ly of • nier- of lewerprobleme het nie. Maak eers by jou dokter seker of jy kan en wat jou maksimumdosis is. 3 Hoeveel pilletjies waarvoor? Die aanbevole dosis vir die daaglikse gebruik van aspirien wissel baie en hang af van die siektetoestand wat behandel word. Jy moet dus mooi uitwerk hoeveel jy nodig het – nog ’n rede hoekom jy liewer alles eers met jou dokter moet bespreek. In beginsel is daar drie sterktes: die ligte soorte (voorheen baba-aspirien genoem) met 80-100 g van die aktiewe bestanddeel; die volle sterkte of gewone soorte met sowat 300 g en die ekstrasterk soorte met 500 mg. Vergelyk die pilsterktes so 1 gewone aspirien = 4 baba-aspiriene = 1/2 ekstrasterk aspirien. Gebruik dit so – mits jou dokter instem: • Hoofpyn, koors 1-2 elke vier uur • Pynlike menstruasie 3 baba-aspiriene elke vier uur • Swaar menstruasie vermy aspiriene, wat dit sal vererger • Voorkom beroerte en/of hartaanval gewone aspirien • Kankervoorkoming daar is geen amptelike aanbevelings nie, maar 1/4 gewone asprien op die meeste • Op die Pil, HT of vir die menopouse 1/4 gewone asprien • Tuisnoodhulp met ’n hartaanval of beroerte 2-4 baba-aspiriene of 1/2-1 gewone aspirien of ’n 1/2 ekstrasterk aspirien
http://www.rooirose.co.za/aspirien-wondermiddels-mits/
2017-01-26 15:38:57
Die groot Olimpiese droom
Cameron van der Burgh Die swemmer Cameron van der Burgh het in 2010 by die Statebondspele Suid-Afrikaners se harte aangegryp. Nie net oor die twee goue medaljes wat hy in die 50 m- en 100 m-borsslag losgeswem het nie, maar ook oor die woorde “Ke nako” wat met ’n swart pen op sy handpalms geskryf was. Toe hy sy medalje op die podium ontvang, het hy sy hande triomfantelik gelig met die woorde duidelik sigbaar: “Die tyd is hier!” Cameron was op skool ’n veelsydige sportman wat in atletiek, krieket en sokker uitgeblink het en hom eers op 16 werklik op swem toegelê het. Hy is ook die eerste Suid-Afrikaanse swemmer wat plaaslik afgerig is en daarin kon slaag om ’n wêreldrekord op te stel – dit boonop op ’n jeugdige twintig jaar. Vir hom was Ryk Neethling ’n rolmodel, en hy waardeer die ambassadeurswerk wat mense soos Ryk en Roland Schoeman vir Suid-Afrikaanse swem gedoen het. Danksy die groep swemmers was daar skielik meer borgskappe vir swemmers beskikbaar. Die 2012 Olimpiese Spele was die tweede waaraan Cameron deelgeneem het. Ons kyk terug na sy voorbereiding vir daai Spele: “Ek dink hierdie gaan die Spele van my lewe wees en dis waar die kaf van die koring geskei word. Al was ek teleurgesteld met my vertoning in Beijing, was dit ’n wonderlike ondervinding en Londen gaan anders wees. Hierdie keer weet ek presies wat om te verwag. Ek is op die oomblik baie gelukkig met my prestasie in die swembad, ek dink al die harde werk wat ons die afgelope paar jaar gedoen het, is besig om vrugte af te werp. Ek dink die swemmer wat dit gaan regkry om koel en kalm te bly, en op die presiese oomblik die regte ding te doen, is die een wat met die medalje sal huis toe gaan.” Cameron het baie waardering vir sy mense wat hom al die jare ondersteun het. Veral sy ma, Beverley, wat al die rondrywerk moes doen, verdien beslis ’n groot dankie, sê hy. Sy was ook die een wat altyd nagelees het en seker gemaak het hy kry die regte voeding. Hy sê swem verg baie harde werk, toewyding, vasbyt en ure alleen in die swembad. Maar, sê hy laggend, dit is nie so ’n slegte plek om te wees nie. Hy is ook ’n finansiële beplanner, maar vanjaar het hy so ’n bietjie afgevat en net op sy swemloopbaan gekonsentreer. Ná die Spele sal hy kyk hoe hy in die swembad gevaar het, en dan sal hy oor die toekoms besluit. “’n Mens leer gewoonlik net uit jou foute, jy leer nie wanneer jy alles regkry nie.” Wanneer ek misluk, besluit ek altyd ek sal die mense verkeerd bewys. Dan pas ek aan en sorg dat dit nie weer gebeur nie. Dit is daardie veggees wat ’n mens motiveer om harder te werk en so te keer dat jy weer dieselfde foute begaan.” “’n Olimpiese medalje is elke jong sportster se droom. Sonder daardie droom sal jy nooit iets bereik nie, want dit motiveer jou om hard te werk. Sommige mense se drome word waar, ander s’n nie. Ek is gelukkig dat my droom om aan die Olimpiese Spele deel te neem waar geword het.” *Cameron het by die 2012 Olimpiese Spele in Londen die wêreldrekord in die 100 m-vryslag gebreek in ’n tyd van 58.46 sekondes. Khotso Mokoena In 2008 het die verspringer Khotso Mokoena ons hele land trots gemaak toe hy met die enigste Suid-Afrikaanse Olimpiese medalje van Beijing teruggekeer het. Khotso se verhaal is ’n merkwaardige een. Hy het op Heidelberg, Gauteng, grootgeword en het sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Shalimar Ridge in Ratanda, die township buite Heidelberg, voltooi. Hy het kleintyd aan verskeie sportsoorte deelgeneem: gimnastiek, basketbal, landloop, 1000 m, hoogspring en verspring. Hy was selfs ’n kranige baldanser. In sy hoërskooldae aan Nigel High, het Elna de Beer sy verspringtalent raakgesien en hom intensief vir die item, asook die driesprong, afgerig. Alle oë was op Khotso toe hy in 2004 die wêreld se junior driesprongkampioen geword het. By dié kampioenskap het hy ook ’n silwer medalje vir verspring gewen. Hy het in 2004 in Athene aan die Olimpiese Spele deelgeneem, maar was nog jonk en onervare. Ná die Olimpiese Spele in 2008 het hy in Julie 2009 ’n nuwe Afrika-rekord opgestel met ’n sprong van 8,50 m op ’n byeenkoms in Madrid. Khotso sê hy het reeds op 17 besluit hy wil eendag sy land op die Olimpiese Spele verteenwoordig. “Dis seker maar baie jongmense se kleintyddroom, maar ek het nie opgehou om die droom na te jaag totdat dit werklikheid geword het nie. Wanneer ’n mens die geleentheid kry om aan hierdie prestigeryke kompetisie deel te neem, weet jy alles was die moeite werd. Baie mense besef nie dit verg jare se toewyding en harde werk om uiteindelik daar deel te neem nie. Net om lid van die span te wees is reeds ’n groot prestasie.” Vir Khotso is die silwermedalje wat hy in Beijing verower het, iets om op trots te wees. Hy sê dit was vir hom die regmerkie om te weet dat ’n mens maar vir jouself doelwitte kan stel. Indien jy reg voorberei, en hard werk, gaan daar ’n tyd kom dat jou droom bewaarheid word. Vir hom is dit belangrik om nederig te bly. Hy sê baie mense raak verlore in hul eie sukses. Sommige atlete bou hulself op, maar breek hulself weer af deur hoogmoedig te word, of grootkop te kry. “Ek is dankbaar teenoor God dat ek my gedagtes reg kon hou. Ek fokus op dit wat ek moet doen en niks anders nie.” Khotso sê sy ma, Sonto, was deur al die jare vir hom ’n steunpilaar. Khotso is ook dankbaar vir die manier waarop sy familie hom bystaan. “God het my geseën met ’n wonderlike familie wat my nog altyd in my loopbaan bygestaan het. Hulle het van die begin af verstaan wat my drome is en watter visie ek het. Om daardie begrip van jou familie te kry is ’n groot seën. Ander jongmense se ouers sou dalk wou hê hulle moet gaan studeer, maar ek het ’n ander pad gekies en my familie het my bygestaan.” Een ding waaroor hy soms spyt is, is dat atletiek in Suid-Afrika nie soveel erkenning soos sokker, krieket en rugby kry nie. Uiteindelik is dit moeiliker om met individuele deelname sukses te behaal. Wanneer jy aan ’n spansport deelneem, het jy immers jou spanmaats wat kan instaan wanneer jy ’n slegte dag beleef. Maar atlete wat droogmaak, moet maar druipstert huis toe gaan. “Kleintyd het ek altyd gekyk na atlete wat die voorreg het om op die podium te staan terwyl die landsvlag gehys word. Ek het lank daaroor gedroom. Toe dit uiteindelik met my gebeur, was dit ’n oorweldigende oomblik. Meteens besef jy al die jare se harde werk was nie tevergeefs nie.”
http://www.rooirose.co.za/die-groot-olimpiese-droom/
2016-07-25 06:00:08
Leandie du Randt in nuwe aksiefilm
Jagveld is die tipe rolprent wat ons lanklaas in Afrikaans gesien het … ’n aksiefilm met ’n heldin. kykNET beskryf dit as volg: “Jagveld pak ’n genre aan wat dekades laas in Suid-Afrika, en spesifiek in Afrikaans, gesien is, naamlik die “aksieriller”. Met hierdie rolprent het die span agter Jagveld baanbrekerswerk gedoen en nuwe moontlikhede geskep vir die Suid-Afrikaanse filmbedryf, en in die besonder vir die aksieriller. Een van die uitstaande elemente van die prent en iets wat Suid-Afrikaanse gehore behoort op te val, is die keuses wat ten opsigte van die rolverdeling gemaak is, en hoe Jagveld die publiek se verwagtinge en persepsies van hierdie talentvolle akteurs heeltemal op hul kop gaan draai. Leandie du Randt, Suid-Afrika se liefling wat gewoonlik die beeldskone romantiese leading lady speel, en meer onlangs ook haar opwagting in ’n sepie gemaak het, word ’n aksieheldin met wie jy beslis nie wil skoorsoek nie en wat nie bang is om haar hande vuil te maak nie.” Lees meer hier en kyk ook na die lokprent onder:
http://www.rooirose.co.za/leandie-du-randt-nuwe-aksiefilm/
2017-01-30 13:59:06
Kankerversorgingsgids
Volgens ons Nasionale Kanker-register se jongste syfers (2012) is Suid-Afrika se leeftydrisiko 1/15 vir wit vroue, 1/21 vir bruin vroue en 1/20 vir Indiërvroue. Vir swart vroue is dit 1/53. Dus sal 94 tot 95 uit elke 100 van ons tipiese lesers nóóit borskanker kry nie. • 89% van vroue wat borskanker kry, is vyf jaar later steeds met ons. Dus: jy kán oorleef. • Byna net soveel – 83% – haal die tienjaarmylpaal. • Meer as drie kwart (78%) is 15 jaar later nog hier, met ’n normale lewe. • 84% van vroue met herseptien-positiewe kanker oorleef tien jaar. • Wat as dit sleg gaan? Selfs al het jy stadium 4-borskanker, is jou kans om meer as vyf jaar te leef een uit vier. • Maar jy kan keer dat jy in so ’n situasie kom. Hoe vroeër jy borskanker opspoor, hoe meer kersies op die koek vir jou vorentoe: 90% van vroue wat op stadium 2 is en 72% van vroue wat op stadium 3 is, oorleef. • Ás borskanker hervat, gebeur dit gewoonlik binne vyf jaar. As jy ná vyf jaar nog kankervry is, is jou kanse op permanente remissie uitstekend. Al wat jy moet vrees, is om jou borsondersoek te vergeet Die goeie syfers Soms moet jy net die gegewens onderstebo bekyk om te sien hoe volop die goeie nuus is. Pak dit iewers uit Jy is ook net ’n mens. Soms het jy ’n goeie huilsessie nodig. Soms wil jy sommer net uitdruk hoe jy voel, sonder raad of antwoorde. Party van ons het selfkoestertyd in ons eie warm grotjie nodig terwyl ander groot troos op facebook of ’n blog kry. Dit is nie beter of slegter nie. Al wat saak maak, is dat dit jou ondersteun. 1 uit 3 000: die getal swanger vroue wat borskanker kry Skaars soos dit is, gebeur dit sowaar én meer as tevore. Dr Justus Apffelstaedt, Kaapse borskankerspesialis, sê dit is omdat ons swangerskap uitstel na die tyd wanneer borskanker begin toeneem. Daar is ook goeie nuus: swangerskap vererger nie borskanker nie. Jou kanse op herstel is net so goed soos ander vroue s’n. Wat jy moet weet van knoppies tydens swangerskap • Dit is báie belangrik dat ’n knoppie in die bors tydens swangerskap nie as sommer net swangerskapveranderings afgemaak word nie. • As jy ’n knoppie vermoed, gaan dadelik vir ’n borssonar. Die risiko weens die bestraling van ’n mammogram is nou klein maar nietemin dáár. Omdat jou borsweefsel nou digter is, kan ’n mammogram tot 40% van kankers mis, teenoor net 5% – 10% by nie-swanger vroue. • As daar ’n knoppie is, móét jy vir ’n diknaaldbiopsie gaan. Nog drie dinge om jouself te beskerm • Doen jou maandelikse borsondersoek elke maand van jou swangerskap. • Dit is selfs belangriker as jy ouer en swanger is, want borskanker slaan meer dikwels toe by swanger vroue van 32 tot 38. • Probeer om jou gesin voor 32 te voltooi. Wat vir my gehelp het ‘Oefening het my positief laat voel’ – Anet Schoeman, ses jaar later. Chemoterapie en bestraling tap jou energie. Maar te veel rus laat jou nie uitgerus voel nie. Jou spiere en bloedsomloop verswak, wat jou nóg moeër maak. Wat jy nodig het, is gereelde, matige oefening, wys navorsing. Oefening maak ook jou kop skoon van al die ander spanning en emosionele wroeging wat komplimentêr saam met die diagnose kom. Watter soort oefening? Stap, joga en swem is goed vir almal. Swem is laeimpakoefening en jou liggaam word deur die water ondersteun as jou gewrigte seer is. Kry vir jou ’n poelnoedel om jou te help dryf as jy nie ’n watwonderse swemmer is nie. Bestraling kan jou vel te sensitief maak vir chloorwater. • Kyk hierdie video vir idees vir oefeninge in die swembad • Jy kan selfs in die bed oefen met hierdie video • En hier is ’n video vir strekoefeninge in die bed Hoe begin jy? • Gesels met jou dokter of onkoloog voor jy wegspring. • Begin stadig – al is dit net tien minute se ligte oefening per dag. • Hou dit prettig en probeer dit saam met ander mense doen. Sosiale kontak is net so belangrik soos oefening. • Hou by matige oefening. Moenie so oefen dat dit jou tam maak nie. Ligloop hiervoor • As jou witbloedselle laag is, is jou immuniteit laag en moet jy groepe mense (soos by ’n gim of besige park) vermy. • Moenie oefen as jy erge pyn het, naar is of vomeer nie. • As jy senuweeskade, gevoelloosheid in jou voete en probleme met balans het, kan jy makliker val. Oefen dan liewer op ’n agteroorsitfiets as die trapmeul. • Laat jou dokter dadelik weet as jy ongewone simptome soos geswelde enkels, duiseligheid, onduidelike sig en kortasemrigheid ontwikkel. Trek die aandag weg van jou borste met aksente soos ’n hoedjie, sterk bril-raam of ’n bypassende serp om jou skouers Wat vir my gehelp het ‘Tepelrestourasie het my weer bekend vir myself laat voel’ – Jo-Lize Groenewald, ’n jaar ná diagnose. As daar iets soos ‘lekker’ aan ’n mastektomie is, is dit die helende ervaring dat jy weer tepels en areolas het. Tuitjies. So noem André Brink tepels in Vlam in die Sneeu, die versameling van sy en Ingrid Jonker se liefdesbriewe. Poëties en soveel mooier. Mooi vóél is juis so belangrik vir ons ná al die trauma en verwonding van borskanker op soveel vlakke van vrou-wees. “Die diepste, gelukkigste oomblikke van my lewe is die heelheid wat oor ’n vrou se gesig kom as sy haar nuwe tatoeëertepels het. Sy glimlag ánders. Tevrede. Dalk is dit net ek wat so dink?” Tanya Swiegers-Loots se oë blink van passie vir haar nuwe werk. Sy is ’n suksesvolle kunstenaar met werke in bekende galerye. Of wás, want sy het dit verruil vir tepeltatoeëring. Of tepel/areola-restourasie deur middel van dermapigmentasie, soos dit medies genoem word. “Ek kon nie nee sê vir die Here nie. Hy berei my al vyftien jaar lank vir hierdie werk voor. My Godsgawe is superrealisme. As daar iemand is wat ’n tepel driedimensioneel kan teken, is dit ek. Ek is gebóre vir hierdie werk.” Haar storie begin met haar eie mastektomie: “Ek dra die kankermutasie van die BRCA 1-geen en moes my borste drie jaar gelede laat verwyder. Albei. “Toe ek in die teater ingestoot word, hoor ek die een suster in die verbygaan vir die ander een sê ‘ons amputasiepasiënt is hier’. Jou kop weet jy het nie borste ná jou babajare nodig nie en jy laat die woord verbygaan en druk deur met die ‘mastektomie’, soos jou dokter dit noem. “Maar jou psige verras jou. Eendag, agt maande ná my mastektomie, lê ek op my maag en besef hoe intens ek my warm, sagte borstehobbeltjies mis. Daardie woord ‘amputasie’ slaan toe eers in. Diep. “Ek is ’n nugter soort mens en gaan dus vir ’n rekonstruksie. Ek het dit so positief en hoopvol aangepak en gedink nou gaan alles reg wees. Dit was nie, want my rekonstruksie kon my nie tepels gee nie. In die spieël het my lyf vreemd bly lyk. Bot. Stomp. Herstel is ’n héle bors met tepels en areolas. Ek het hulle óók gemis. “Dit is hoe ek begin nalees en op dermapigmentasie vir tepelrestourasie afgekom het. Toe ek rondvra, besef ek gou wat ek wil hê, is nie beskikbaar nie. In elk geval nie plaaslik nie. Oorsee is dit ’n gevestigde deel van jou reis na herstel maar nog nie by ons nie. Dit wat ek op die web gesien het, was pragtig. Plaaslike pogings was kosmetiese tatoeëring. Die meeste het gewissel van blote velpigmentering tot ’n hoogstens tweedimensionele effek. Dit het my laat besef dat ek uniek bekwaam is hiervoor.” Tanya het aan die werk gespring en webfoto’s bestudeer. “Tepels is méér as net kleurpigment. Die ‘doek’ waarop jy werk, is nie plat nie. Die borste is ná chirurgie meestal onegalig en vol klein tot groter littekens. Jy moet kyk hoe jy die beskikbare kan inpas.” Met ’n idee van wat sy wil doen, het sy eers met doodgewone grimering op haarself geëksperimenteer tot sy tevrede was dat sy ’n werklik realistiese tepel met sy areola kan skep. Gewapen met foto’s daarvan is sy terug na dr. Christiaan Gildenhuys, haar dokter by Tygerberg- hospitaal in die Kaap, en teen dié tyd haar vertroueling. Hulle was verruk met haar idee, wat haar op die pad van behoorlike opleiding in paramediese tatoeëring geplaas het. Ná baie kursusse en baie meer ure se oefen op varkvel het sy gekwalifiseer en op pasiënte van Tygerberg-hospitaal begin werk. Vandag het sy haar eie praktyk in Worcester, met die beste medies goedgekeurde toerusting en tatoeëer-ink van mediese gehalte. “Dit kom vir my natuurlik. My nuwe doeke is nou vel en my verf is ink. Net soos met my skilderye is ek broeis oor elkeen van ‘my’ mensewerke. Ek was ook daar en ek weet hoe sy voel. Elkeen wat ek help, voel soos ’n stukkie genesing vir myself. Al klink dit dramaties om dit so te stel is dit ’n ervaring soos om jou doodskleed uit te trek en in ’n nuwe blommerokkie-van-die-lewe in te glip. • Kontak Tanya op www.breastrestore.co.za Wat vir my gehelp het Klere wat nie wys dat my borste verskil nie – Nadia Viljoen, ses maande ná diagnose. Verbloem met slim style Is jou borste ná chirurgie oneweredig? Toppies met detail soos strikke en plooitjies versag jou kurwes en steek dit weg. Wat vir my gehelp het ‘Ek kon my dogter gerusstel’ – Nerine van Wyk (48) twee jaar ná diagnose. ’n Mens vergeet dat as jy borskanker kry, jou dogter ook angstig word oor haar eie, geïmpliseerde risiko. Jy voel ’n bietjie aandadig. Maar kennis is mag, sê hulle. Ons het by prof. Justus Apffelstaedt, Kaapse borskankerspesialis, gaan hoor wat jou borskanker vir jou dogter impliseer. Jou kanker is ER+ Wat dit beteken • Jy het estrogeenreseptor-positiewe kanker. Dit word soms estrogeensensitiewe of hormoonsensitiewe borskanker genoem. • Dit beteken estrogeen stimuleer kankerselle om te groei. • Estrogeen is een van jou liggaam se eie hormone, en dit is saam met ander hormone verantwoordelik vir jou vroulike eienskappe soos borste en kurwes, menstruasie en vrugbaarheid. Jy kan ook estrogeen van buite af kry, soos uit die Pil, planthormone, hormoonterapie vir die menopouse en uit kos soos soja. Om een of ander onbekende rede stimuleer jou eie en/of eksterne estrogeen kankergroei by jou. • Uit elke vier vroue het drie ER+ borskanker en een het ER- borskanker. Voordele, nadele en dinge om te onthou • Jy het tyd aan jou kant, want ER+ kankers groei stadiger as ER- kankers. • ER+ kankers reageer baie goed op hormoononderdrukkers, soos tamoxifen. • ER- kankers is skaarser en het minder behandelingsopsies maar chirurgie en chemoterapie werk baie suksesvol as hierdie kankers vroeg opgespoor word. • As jy ER+ is, moet jy jou nie weer aan estrogeen in enige vorm blootstel nie. Vermy dus die Pil, hormoonvervanging, alternatiewe middels vir die menopouse wat planthormone bevat – enige iets met hormone, al is dit van plante of natuurlik. • Daar is ’n hewige debat oor soja: party navorsing koppel soja aan borskanker, terwyl ander glo dat die Oosterlinge wat selde borskanker kry juis deur soja beskerm word. Maar die Oosterlinge gebruik gefermenteerde soja, soos tofu, terwyl ons dit as ’n verwerkte plantproteïen gebruik – meestal in kitskosse, gesondheidskosse en dieetprodukte. Miskien is jy tog veiliger as jy soja vermy. Kyk op die etikette vir “soy”. Wat impliseer dit vir jou dogter? Dit hang af van wanneer jy borskanker ontwikkel het. As dit voor jou menopouse was, moet sy liewer nie hormonale voor-behoeding soos die Pil of Mirena gebruik nie. As dit daarna was, behoort hormone vir haar veilig te wees. Dit is vermoedelik beter as sy haar gesin op ’n jonger ouderdom begin, en as sy langer eerder as korter borsvoed. Sy moet van veertig af elke jaar vir ’n mammogram of mammosonar gaan. Soos jy, is sy waarskynlik veiliger sonder soja. Jy het HER2+ borskanker Wat dit beteken Selle van hierdie kankers het baie HER2-reseptors en neem dus ’n spesifieke proteïen baie goed op en daarom groei die kanker baie suksesvol. Dit word ook HER2-positiewe kanker genoem. Een uit vyf tot een uit drie kankers is HER2-positief. Maar die meerderheid is HER-negatief, of kortweg HER-. Voordele, nadele en dinge om te onthou • Die slegte nuus is dat HER2+ kankers aggressiewer is, met ’n groter kans dat dit sal terugkom. Maar die goeie nuus is fantasties: die kankerterapie, Herceptin, sorg dat 84% vroue met HER2+ kanker herstel. • Wat as jy nie herseptien kan bekostig nie? Die oorlewingsyfer is 75%, wat nie sleg vergelyk nie. • As jy HER2+ is, moet jy ekstra bedag wees op tekens van kanker van die longe, maag, eierstokke, pankreas en speekselkliere. Wat impliseer dit vir jou dogter? Dit lyk asof estrogeen help keer dat ’n oormaat HER2-proteïen gemaak word. Die Pil is dus redelik veilig vir haar. Maar sy moet dit met haar dokter bespreek. Net soos jy behoort sy elke maand haar borste te ondersoek en van veertig af aan elke jaar vir ’n mammogram en mammasonar gaan. Jy het ’n sist Wat dit beteken ’n Sist voel soos ’n kankerknoppie maar dit is net ’n sakkie vol vloeistof. Voordele, nadele en dinge om te onthou • Dit is gewoonlik onskadelik. Maar jy sal eers weet nadat dit ondersoek is. • Siste kan terugkeer maar moenie “mak” raak en dit as net nog ’n sist afmaak nie. Énige en elke knoppie kan kanker wees. Laat alle soort knoppies ondersoek. Wat impliseer dit vir jou dogter? Dit het niks met kanker te doen nie. Maar sy moet steeds haar borsondersoek elke maand doen. Wat vir my gehelp het ‘Beheer oor my hare’ – Melanie Matthee, elf jaar ná diagnose. Berei jou voor en maak ’n besluit oor hoe jy jou haarverlies gaan hanteer. Trikoloog Trevenen Bam gee raad oor wat om te verwag. As jou behandeling haarverlies veroorsaak, sal jou hare én lyfhare twee tot vier weke ná behandeling begin uitval. Dit kan vinnig of geleidelik gebeur. Jou kopvel kan ook teer voel. Jy kan niks daaraan doen nie maar jy kan jou daarop voorberei, en frustrasie en angs daaroor beperk. Voor jy met terapie begin Behandel jou hare sagkens • Moenie jou hare permanent golf, kleur of bleik nie; dit beskadig jou hare. Laat jou hare self droog word en vermy warm stileertoe-stelle soos haarysters, krultange en warm rollers. • Oorweeg dit om jou hare te sny. Kort hare lyk voller as lang hare, en haarverlies wys minder. Dit maak oor die oorgang na geen hare minder ingrypend. As jou hare begin uitval, sal dit minder sigbaar wees as jou hare kort is. Beplan hoe jy jou kop gaan bedek • Dit is een ding waaroor jy beheer het. Besluit of jy ’n pruik gaan dra, ’n serp gaan ombind, of niks gaan doen nie. Vra jou dokter om vir jou ’n voorskrif vir ’n pruik te gee, want sommige mediese fondse kan help om die koste te dek. Tydens terapie • Werk saggies met jou oorblywende hare • Gebruik ’n sagte borsel • Was jou hare slegs wanneer nodig • Gebruik sagte sjampoes soos Philip Kingsley No Scent No Colour Shampoo & Conditioner. Hy het die produkte ontwikkel toe sy vrou chemoterapie gekry het. Dit bevat geen kleur, parfuum of sulfate nie. • Oorweeg dit om jou hare te skeer as jou kopvel geïrriteerd of seer is. Dit kan jou minder verleë laat voel oor haarverlies. As jy geen hare oorhet nie • Beskerm jou kopvel. Uitermatige hitte of koue kan jou sensitiewe kopvel irriteer, en met min of geen hare sal jy gouer koud kry. Daarby kan jou kopvel sonbrand, selfs in die winter. Gebruik elke dag sonroom. • As jy ’n pruik dra, haal dit snags en selfs deur die dag af sodat jou kopvel kan asemhaal. • ’n Sykussingsloop is sag en gemaklik as jou kopvel teer is. • Wig Library by Wyatt Hairdresser and Barber leen ’n pruik vir mense wat behandeling vir kanker kry. Hulle help jou ook pruike kies. Dit is ’n gratis diens en jy hoef nie ’n klant by hul salon te wees nie. Bel hulle by 011 482 6111. • As jy jou haarwasroetine mis, probeer probeer Charmain van Schalkwyk, nasionale werkswinkelkoördineerder van Look Good Feel Better (LGBF) se raad: • Masseer jou kop met natuurlike olies; dit sal nie net jou kopvel beter laat voel nie, maar kan ook help om ’n gesonde omgewing te skep vir die groei van nuwe hare. • Was jou kopvel met ’n sagte gesigwas. Vermy produkte vir aknee, want hulle is te skerp vir ’n teer kopvel. Ná terapie Wees geduldig. Jou nuwe hare sal waarskynlik stadig teruggroei. Hulle kan anders as voorheen lyk; dalk krullerig of grys, maar namate jou haarselle herstel, kan hulle weer verander. Jou eerste nuwe hare sal baie maklik breek. Vermy voorlopig stileerprodukte, hittetoestelle en kleur- en bleikmiddel, tot jou hare behoorlik en sterk uitgegroei het. • Die Look Good Feel Better-organisasie verskaf gratis werkswinkels en produkte aan kankerpasiënte. Besoek lgfb.co.za vir nuttige wenke en om te sien hoe jy kan inskakel. Lyk mooi, voel goed Om beter te lyk, kan jou beter laat voel en jou selfvertroue ’n hupstoot gee. Grimeerwenke Donker kringe onder die oë • Bevogtig die dele om jou oë met ’n oogroom en laat dit goed intrek voordat jy ’n verbloemer aansmeer. Onthou, minder is meer as dit by verbloemer kom. Fokus op jou lippe • Chemoterapie kan jou lippe droog maak. Chris Williams, Estée Lauder se nasionale grimeerkunstenaar, beveel aan dat jy ’n vogryke en parfuumvrye lipsalf aan jou lippe smeer voordat jy jou lipstiffie aanwend. Kies ’n hoëvog lipstiffie-formule en vermy langblywende lipstiffies, wat ook jou lippe kan uitdroog. Met ’n helder lipskakering gee jy maklik kleur aan jou gesig, en skep ’n alternatiewe fokuspunt, veral as jy jou wimpers verloor het en nie te veel aandag op jou oë wil vestig nie. Wenkbroue wat yler word • As dit met jou gebeur, kan jy jou wenkbroue mooi invul. Wat vir my gehelp het Iemand om my perspektief te gee oor risiko, ná my niggie se borskanker – Elsabé du Plessis (49) borskankervry. My niggie het agt jaar gelede op 46 borskanker gekry. Skielik was dit werklik moontlik dat ek as niggie ook borskanker kan kry, as daar ’n geen in die familie loop. Sy was die enigste een van my drie tannies en sewe niggies en twee oumas. Sy rook van skooldae af maar drink min, was altyd redelik fiks en nooit oorgewig nie. Dr. George Gericke van Ampath antwoord Ons sal eerstens uitvra oor wie almal in haar familie borskanker én ander kankers het. “As borskanker oor twee of drie geslagte soos by ’n ouma of niggie bevestig is, kan ’n mens dink aan ’n fout op die BRCA-geen. Ons sal ook wil weet wie in haar familie – vroue en mans – sekere ander kankers gekry het, spesifiek ovariële kanker, breinkanker, leukemie, limfoom, pankreaskanker en sekere sarkome. As van hierdie kankers ook in die familie voorkom, is daar ’n klein kans op ’n draergeen, waarna ons dan kan soek. “In hierdie geval klink dit asof die kans op ’n draergeen in die familie klein is, aangesien daar net een geval van borskanker is. Onthou, rook op sy eie is ’n kankerwekker.” Die jongste oor kankergene Min mense besef dit maar die millenniumjaar 2000 was ook die jaar waarin die menslike genoom volledig bepaal is. Genetiese wetenskappe het daarmee saam ontplof, met byna daagliks meer nuus oor die implikasies van gene vir siektes. Ons het nog nie ’n oorhoofse prentjie nie maar volgens dr. Gericke weet ons: 1 Daar is reeds meer as 20 gene wat aan borskanker gekoppel word, soos die bekende BRCA1- en BRCA2-gene wat in sekere Afrikaanse families voorkom, asook ’n rits ander gene soos ATM, CHEK2, FANCM, PALB2, PTEN, RAD50, RAD51C, STK11 en TP53 gene. Die gene is almal redelik skaars en vermoedelik verantwoordelik vir minder as 5% – 15% van borskankers. 2 Ons verstaan weinig van die interaksie tussen gene. Ons weet byvoorbeeld jou kans op borskanker is tot 85% as jy sekere variante van die BRCA-gene dra, maar ons weet ook dat as jy daarmee saam sekere ander gene dra, sak jou risiko tot so laag soos 50%. Met ander woorde jou amper-seker borskankerrisko halveer letterlik omdat ander gene jou weer beskerm. Ons weet ook dat omgewing ’n groot rol speel om gene aan en af te skakel. Ons weet dat estrogeenblootstelling soos in die Pil en hormoon-vervanging jou risiko opstoot. So ook alkohol en ’n gebrek aan oefening. 3 Penetrasie tel “’Penetrasie’ is die term wat ons gebruik om te beskryf hoe waarskynlik dit is dat ’n geen ’n siekte gaan veroorsaak. Ons praat van hoë, medium en lae penetrasiegene. Die BRCA-gene, TP53 en PTEN is hoë penetrasiegene. Met ander woorde as jy hulle dra, is jou kans op borskanker 30% – 90%. “ATM, CHEK2, BRIP1, PALB2 en RAD51C is medium penetrasiegene wat by minder as 30% van draers kanker veroorsaak. Jou kans op kanker weens ’n lae penetrasiekanker is 10% – 20%. 4 Toets en klop jou kanse “Kyk na die variasie in voorkoms van kanker by hoë penetrasiegene: dit kan tot drie keer groter wees. Ons weet nog nie wat alles gene aan- en afskakel nie maar ons weet dat leefstyl ’n groot uitwerking het. Toetsing wys jou waar jou risiko’s lê. So kry jy die vooraf kennis om jou leefstyl aan te pas. Vir jou is ’n jaarlikse mammogram of mammasonar noodsaaklik om verdagte vroeë kankerselle op te spoor voordat hulle vastrapplek kry.” 5 Waar moet jy toets? Vra jou dokter. Die patologiepraktyke soos Ampath en genetoetslaboratoriums soos DNAlysis en Gknowmix bied verskillende opsies. Die toetse is duur en nie altyd sinvol nie. Laat jou dokter met hulle gesels sodat jy vooraf kan vasstel of jy regtig daarby gaan baat vind. Maak seker dat die toets ook berading insluit, want dit is byna onmoontlik om die uitslae te interpreteer vir mense wat nie in genetika spesialiseer nie. 6 Wat as toetse te duur is? Die raad is dieselfde vir vroue wat toets en wat nie toets nie. Daar is in elke geval nie terapie wat die geen verwyder of afskakel nie. Die mediese advies is vir almal dat hulle gesond leef, min wyn drink, gereeld matig oefen en van vroeg af elke jaar ’n mammogram én mammasonar laat doen. As ’n hoë risiko vermoed word, begin in jou middeltwintigs met ’n jaarlikse sonar. Wat vir my gehelp het ‘Jogurt wat ek op allerhande maniere gegeur het. Roomys ook’ – Ria Malherbe (54) twee jaar ná diagnose. Idees vir kos wat voedsaam is, maklik is om te maak, en maklik geëet word. Wat is die beste? Veral oor hierdie twee koskwessies word baie gepraat: Voed suiker kanker? Dit is ’n feit dat kanker met ’n duidelike toename in glukoseverbruik gepaardgaan. Maar beteken dit suiker veroorsaak kanker en dat jy jou kanker kan genees deur suiker uit te sny? Dit is nie so eenvoudig nie … Die kleur van wyn tel nie Daar sal nog seker jare lank geglo word dat rooiwyn gesond is omdat dit die antioksidant resveratrol bevat. Maar die navorsingskonsensus is dat drank jou kanse op borskanker en ander kankers verhoog, vermoedelik omdat alkohol jou estrogeenvlak opstoot. Groensap • Groen groentes soos spinasie, broccoli, roketblare en krul-kool is propvol antioksidante, vitamiene en minerale wat jy nodig het om kanker te beveg. Verpulp die groente saam met ’n appel en een geurende krui soos seldery, kruisement, tiemie of basilie in ’n voedselverwerker en verdun met sodawater. Drink die groentevesels met die sap as jy met hardlywigheid sukkel. As jou terapie jou na diarree laat neig, gooi die versapte groente deur ’n sif om die vesel en sap te skei. Klik hier vir ons gatskop-groensap resep. Smoothies • Gebruik suikervrye, ongegeurde jogurt of amandelmelk. Drink as maaltydvervanger of tussen maaltye om gewig aan te sit. Meng 250 ml (1 k) volroomjogurt met 1 avokado, ’n hand vol bessies en ’n hand vol spinasieblare. Verdun met water. Voeg 15-30 ml weiproteïen en/of koringkiem en/of organiese, suikervrye grondboontjie- of neutbotter by om dit meer vullend en voedsaam te maak. Vir ’n droë mond • Suig aan ysblokkies of lollies wat ’n bietjie suur bevat omdat dit die afskeiding van speeksel aanmoedig. Gemmer help vir naarheid, as dit jou nie brand nie. Meng 875 ml (3½ k) water, 2 cm gekapte gemmer en 15 ml (1 e) xilitol met die gerasperde skil van 1 suurlemoen. Laat prut vir 2 min. in ’n kastrolletjie. Syg deur ’n sif en voeg 90 ml vars uitgedrukte suurlemoensap by. Gooi in ysblokkiebakkies en sit ook 125 g vars gemengde rooi bessies (opsioneel) in elke holte. Vries oornag. Kragsoppe • Dié soppe word gemaak van bene soos murgbene en groente en is bekend vir hul helende krag. Dit is vitamienryk en versterk die immuunstelsel. Klik hier vir heilsame resepte.
http://www.rooirose.co.za/kankerversorgingsgids/
2017-01-24 13:56:00
Suid-Afrikaanse wynmaker aangewys as Wêreld Wynmaker van die Jaar
Mullineux en haar man, Chris, het Mullineux Familie Wyne in 2007 begin en is die eienaars en bestuurders daarvan. Dié wynplaas, wat in Riebeeck Kasteel geleë is, het vinnig bekend geword as een van die bestes in Suid-Afrika. Voordat Chris en Andrea hul wynplaas in Riebeeck Kasteel begin het, het hulle vir verskeie wynlande gewerk in Frankryk en Kalifornië. Dit is veilig om te sê hul skuif na Suid-Afrika was sowaar ’n goeie besluit. Mullineux Familie Wyne het reeds 17 vyfster-graderings by Platter se Suid-Afrikaanse Wyngids ontvang. Hulle het die toekenning van Beste Rooiwyn van die Jaar in 2013 en 2016, sowel as Wynplaas van die Jaar in 2014 en 2016 ontvang. Andrea kan nou ook uiteindelik spog met die Wêreld Wynmaker van die Jaar-toekenning in 2017. Nadat ’n deel van die wynplaas in 2013 aan Analjit Singh verkoop is, is die wynplaas hernoem na Mullineux en Leeu Familie Wyne.
http://www.rooirose.co.za/suid-afrikaanse-wynmaker-aangewys-wereld-wynmaker-van-die-jaar/
2017-01-09 09:56:03
Jy kan jou kinders aan die lees kry
“Ouers wat moeite doen om ’n liefde vir lees by hul kinders te kweek, sal vir die res van hul lewe die vrugte daarvan pluk, want lees bevorder ’n kind se selfbeeld, kreatiwiteit, woordeskat, empatie, spelling en verbeelding.” Dis die mening van Keina Swart, koerantredakteur en skrywer met twee jeugboeke en ’n bundel essays op haar kerfstok. Sy het drie leesgierige kinders. Hoe het sy dit reggekry om sulke ywerige lesers groot te maak? Sy glo storietyd is veronderstel om vir kinders die lekkerste tyd te wees. “Lees is nie leertyd nie, dis speeltyd. Kinders sal gou agterkom as dit werk eerder as pret is.” Keina beklemtoon ook dat die liefde vir lees en boeke tuis gekweek moet word. “Die skool of ’n juffrou kan wel ’n kind leer lees, maar daar is ’n reuse-verskil tussen kán lees, en lief wees vir lees.” Keina se beproefde wenke • My kinders het van babadae af boeke gehad. Plastiekboeke vir die bad, kartonboeke wat hulle maar kon kou, tydskrifte om uit te skeur (hulle het veral van dié met diere gehou) en prenteboeke, waarin hulle self kon blaai. Die spesiale boeke het ek saans voor slaaptyd voorgelees. • Ek dink werklik Afrikaanse kinders lees te min, want Afrikaanse ouers lees te min. Dis belangrik dat jou kinders sien jy lees nie net vir werk nie, maar ook vir ontspanning. Vandag is dit een van my grootste lekkertes om op ’n koue dag die kaggel aan te steek en almal onder komberse met boeke of e-lesers te sien. • Lank nadat my kinders self kon lees, het ek nog vir hulle voorgelees. Ons gesin reis baie en op ver paaie het ek kort-kort ’n hoofstuk gelees. (Kies die regte boek, anders gaan die pa naderhand iets oorkom!) Ons gunsteling-langpadboeke was die Pippie Langkous-reeks deur Astrid Lindgren en Droomoog Diepgrawer deur Leon de Villiers. Selfs my man het naderhand geskree: “Lees nog! Lees nog!” • Uitstappies na boekwinkels was van jongs af vir my kinders ’n groot bederf. Daar is deesdae wonderlike boekwinkels wat allerhande interaktiewe programme vir kinders aanbied. Dis goed om die kinders aan te moedig om rustig in ’n hoekie van die boekwinkel te sit en lees of deurblaai, en ná ’n uur of wat kan elkeen een boek kies. Ek wou hê my kinders moet besef lees is ’n rustige affêre. Jy nael nie ’n boekwinkel in, gryp iets van die rak af en hol weer uit op pad na die volgende winkel toe nie. • Ek sou baiekeer in voorleessessies ophou lees en vra wat húlle dink volgende gaan gebeur. Dit moedig kinders se kreatiwiteit aan en skep sommer ’n goeie geleentheid om oor die lewe te gesels. • Ons het ure lank letterspeletjies in die motor gespeel. Ek sou vra vir woorde wat met sekere klanke begin, woorde wat rym, teenoorgesteldes en daardie ou bekende: name, vanne, diere en dorpe. • Ek glo as ’n kind nie van lees hou nie, het hy of sy nog net nie die regte boek gekry nie. Stel vas waarvan jou kind hou (ballet, rugby, vliegtuie) en soek boeke daaroor. Dis veral soms ’n uitdaging om seuntjies aan die lees te kry. Navorsing toon dat die meeste seuns nie daarvan hou om van hoogs onwaarskynlike situasies te lees nie. Hulle hou daarvan om iets “nuttigs” te lees wat hulle in die alledaagse lewe kan toepas. My seun het byvoorbeeld van kleins af van feiteboeke gehou. Dan kon hy my ure lank vermaak met hoe hoog, hoe swaar of hoe vinnig alles op aarde is. • Die eintlike doel is dat ons tog wil hê ons kinders moet léés, nie dat hulle noodwendig ’n bóék moet lees nie. Ouers moet dalk effens meer ontspan en hulp aanbied as kinders goed op die internet (of in ’n tydskrif) wil lees oor dinge waarin hulle belang stel. • In ons huis is daar ’n groot okkasie gemaak van die dag waarop die kind “groot genoeg” was om ’n leeslampie te kry. Dit was gewoonlik hier rondom die tweede verjaarsdag. Ons het die lampie gaan uitsoek, en dan mag die kind saans ná storietyd vir ’n rukkie nog “lê en lees” en dan self die lampie afskakel. Dit was eintlik niks meer as boeke deurblaai nie, maar het wonderlik gewerk en was iets waarna hulle baie uitgesien het. Keina meen ook kinders wat baie lees, is meer geneig om empatie met ander mense te hê. “Ek sien dit so baie. Lees leer hulle van ander mense se omstandighede, ander kulture, ander gebruike. Deur te lees, ervaar hulle byvoorbeeld hoe dit is as daar oorlog in jou land is, hoe jy voel as jou ouers geskei is, as jy geboelie word, as jy nie wen nie … Kinders wat nie lees nie, se wêreldjies sluit baie keer net hulself in. Lees leer kinders wat in die wêreld om hulle aangaan, hoe ander mense dink en wat in ander se harte en gedagtes aangaan. ’n Kind wat van boeke hou, sukkel ook minder met akademiese druk. “Van die waardevolste leesraad wat ek nog gekry het, kom van my suster Zanne Kriek, ’n kindersielkundige van Pretoria. Zanne meen ouers besef nie hoe stresvol graad een vir ’n kind is nie. Alles is nuut en Ma en Pa is nie meer daar om te help met alles nie. Die allerlaaste ding wat ’n graadeentjie moet ervaar, is akademiese stres. Dis hoegenaamd nie nodig dat ’n voorskoolse kind al moet kan lees nie, maar dit help ontsettend baie as die kind reeds letters en klanke kan herken, en as hulle miskien drieletterwoordjies soos ‘pot’ en ‘kas’ kan herken as jy dit vir hom uitpak of neerskryf. As kinders dít onder die knie het, volg lees sommer baie maklik.” “Lees bevorder taalvaardigheid, akademiese prestasie en beter begrip, spraak en die herkenning van klank, beter kommunikasievaardighede, logiese denke, beter konsentrasie, dissipline en geheue, empatie en respek vir ander” Wat sê navorsers? Nuwe navorsing onder leiding van dr. John Hutton van die Cincinnati-kinderhospitaal in die VSA het bevind dat lees in die belangrike fase voor kleuterskool ’n “betekenisvolle en meetbare uitwerking het op hoe ’n kind se brein stories verwerk”, berig die Britse Daily Mail van 25 April 2015. Die kinders het MRI-skanderings ondergaan wat hul brein-aktiwiteit gemeet het terwyl hulle deur oorfone na stories geluister het. Volgens Hutton is daar meetbare aktiwiteit in die dele van die brein wat ’n kind help om die storie in sy kop te “sien” afspeel. “Dit bevestig die onmisbare rol van verbeelding.” Leesfeite • Deur daagliks vir jou kind te lees, gee jy hom ’n voorsprong van ’n jaar bo kinders vir wie daar nie gelees word nie. • 15 minute per dag se lees kan van jou kleuter ’n leser maak. • Net 1 uit 8 kinders wat aan die einde van graad een nog nie goed lees nie, sal sonder duur klasse op hierdie vaardigheid kan inhaal. • 50% van tieners met verslawingsprobleme het leesprobleme. • 500 boeke in die huis gee ’n kind ’n voorsprong van twee jaar teenoor kinders met minder as tien boeke in die huis as dit by taalvaardigheid kom. (Bron: The International Publishers Association) Nog goeie raad Jaco Jacobs is een van die gewildste kinder- en jeugboekskrywers in die land. Hy het meer as honderd boeke geskryf en vertaal en het ook verskeie ATKV-kinderboektoekennings gewen (jong lesers landswyd stem vir hul gunstelingboeke). Jaco is pa van twee kleuters en weet wat ’n jong leser laat tiek. Hier is sy raad: • Ouers wat vir plesier lees, is die beste voorbeeld wat ’n kind kan kry. Een van die redes waarom baie kinders nie lees nie, is omdat hulle grootword in ’n huis waar nie ’n leeskultuur bestaan nie. Moenie bloot verwag die skool moet van jou kind ’n boekwurm maak nie – raak aktief betrokke by sy leeswêreld. Bly op die hoogte van nuwe kinderboeke wat verskyn en leer jou kind se leessmaak ken. • Maak seker jou kind het toegang tot boeke. Dit klink dalk voor die hand liggend, maar nog ’n rede waarom soveel kinders trae lesers is, is omdat hulle nie boeke in die huis het nie en nooit na ’n biblioteek geneem word nie. As jy jou kind wil laat lees, maak seker hy/sy het ’n boekrak met genoeg eietydse, opwindende leesstof daarin. • Gee kinders die geleentheid om boeke te kies oor onderwerpe waarin hulle belang stel. • Moenie ’n boeksnob wees nie. Kinders en jongmense is geneig om deur fases te gaan wat hul leessmaak betref. Moenie neerhalende opmerkings maak as jou tiener in ’n stadium net strokiesboeke of liefdesromans wil lees, of as jou kind vassteek by grillers of reeksboeke nie – wees dankbaar dat hy/sy lees!
http://www.rooirose.co.za/jy-kan-jou-kinders-aan-die-lees-kry/
2017-01-12 12:31:52
Laat jou grimering langer hou
Vyf wenke wat sal help dat jou grimering langer hou 1. Gebruik ’n voorbereidingslagie (primer) “’n Voorbereidingslagie gee jou onderlaag iets om aan vas te klou,” sê Lucoh Mhlongo, Elizabeth Arden se bekende grimeerkunstenaar. Trevor Rothwell, Dior se nasionale grimeerkunstenaar, sê ’n voorbereidingslagie help ook dat jou onderlaag nie van kleur verander nie, veral vir vroue met ’n olierige of kombinasievel. Dit help ook om jou vel se kleur te korrigeer. Kies die volgende kleure vir die volgende probleme: • Rooiheid: kies ’n groenkleureige voorbereidingslagie • Donker kringe onder jou oë met ’n ligte vel: kies geel • Donker kolle en verkleuring: kies appelkoos. Smeer eers jou vogroom aan, en dan ’n voorbereidingslagie oor jou hele gesig (ook oor jou ooglede). Probeer die volgende: Smashbox Finish 24H Shadow Primer (R300) Lancôme Makeup Primer La Base Pro Fluid (R450) Urban Decay Brightening complexion primer (R450) Elizabeth Arden Flawless Start Instant Perfecting Primer (R365) 2. Kies ’n onderlaag wat lank hou “Kies een wat weerstand bied. As dit SPF-beskerming ook bevat, sal dit beter beskerming teen die son bied,” sê Lucoh. Probeer die volgende: Estée Lauder Double wear Nude Cushion Stick (R480) Elizabeth Arden Flawless Finish Perfectly Satin 24H Make-up SPF15 (R450) 3. Werk sagkens “Moenie rof werk as jy jou grimering deur die loop van die dag heraanwend nie, anders sal jy jou grimering en onderlaag verwyder. Gebruik ’n ligte sneesdoekie en klad liggies op jou gesig om olie en sweet te verwyder, en wend ’n ligte lagie gepersde poeier aan,” sê Lukoh. 4. Sproei jou gesig “’n Gesigsproei is perfek vir ’n warm somersdag. Dit hou jou koel, hidreer jou vel en gee jou vel ’n mooi glans. Hou die botteljie omtrent 15 cm weg van jou gesig wanneer jy dit aanwend,” sê Lukoh. Probeer die volgende: Elizabeth Arden eight Hour Miracle Hydration Mist (R350) Clarins Fix Make Up Spray Estée Lauder Set + Refresh Perfecting Make Up mist (R395) 5. Bly koel “Drink koue water om jou liggaam af te koel en te hidreer, en bly so veel as moontlik in die skaduwee. Dra ligte kleure, ’n hoed en sonbrille,” sê Lukoh.
http://www.rooirose.co.za/laat-jou-grimering-langer-hou/
2017-01-23 05:00:42
Kosblik-idees week 1
Beplan vir elke week * Koop ook vars vrugte, groente en sappe saam met die bestanddele vir die week se middagetes en kosblikhappies * Maak van die geregte wat gevries kan word. ’n Mens het naweke meer tyd vir bak, laat die kinders help en bak sommer al Sondagaand die muffins of neutkoekies * Koop genoeg koeldrankbotteltjies en vries vyf sappies vir die komende week * Koop liefs volgraanbrood vir die toebroodjies Maandag (middagete-idee) Herderspastei met basiese maalvleissous – Genoeg vir 4 Gebruik die basiese maalvleissous vir pastas, gebakte aartappelvulsels en toebroodjies. Maak dit dubbel aan oor ’n naweek, of wanneer jy tyd het, en verdeel dit dan in twee dele: Een is vir die herderspasteitjies en een vir die aartappels en toebroodjies. Vries porsiegroottes in vriessakkies. Ek verdriedubbel die resep en maak dit in een groot bak vir aandete en skep dan vier bakkies uit vir die volgende dag se middagete. • 15 ml (1 e) sonneblomolie • 1 klein ui, fyn gekap • 600 g maalvleis • 1 wortel, gerasper • 375 ml (1½ k) tamaties, gekap • 30 ml (2 e) tamatiepuree • 15 ml (1 e) Worcestershire-sous • 125 ml (½ k) hoenderaftreksel • 250 ml (1 k) bevrore ertjies • ’n hand vol gekapte pietersielie Kapokaartappelbolaag • 3 aartappels, geskil en in blokkies gesny • 80 ml melk • 30 g (3 e) botter • 250 ml (1 k) gerasperde cheddarkaas • gerasperde neutmuskaat 1 Verhit die olie in ’n middelslagkastrol oor hoë hitte. 2 Voeg die ui by en soteer vir 1-2 min. of tot sag. 3 Voeg die maalvleis by en soteer vir 5 min. of tot die vleis bruin is en breek moontlike klonte met ’n houtlepel. 4 Voeg die wortel, tamaties, puree, Worcestershire-sous en hoenderaftreksel by. Bring tot kookpunt en verlaag die hitte. Laat prut vir 10 min. of tot die mengsel effens begin verdik. 5 Kook intussen die aartappels sag en geur met sout. Roer die ertjies en pietersielie by. Haal van die hitte af en hou eenkant. Kapokaartappelbolaag 1 Dreineer die aartappels en sit terug in die kastrol. 2 Voeg die melk, botter en 2/3 van die kaas by en druk fyn. 3 Geur met neutmuskaat. Verhit die oondrooster. 4 Sit die maalvleis in 4 oondvaste bakkies met ’n inhoudsmaat van ±250 ml (1 k), skep die kapokaartappels bo-oor en strooi die oorblywende kaas oor. 5 Sit die bakkies op ’n bakplaat en sit vir 4-5 min. in die oond of tot die kaas gesmelt en goudkleurig is. Dinsdag (snoephappie-idee) Mout-en-jogurt-doopsous met vrugte – Genoeg vir 6 ’n Heerlike en heilsame snoephappie vir kinders. Dit hou hulle ook sommer op ’n prettige, “morsige” manier lekker besig. • 250 ml (1 k) volroom- Griekse jogurt • 5 ml (1 t) vanieljegeursel • 15 ml (1 e) heuning • 30 ml (2 e) moutmelkpoeier (Horlicks) • 125 ml (½ k) gekapte neute • 125 ml (½ k) klapper • verskeidenheid vrugte om te doop, soos aarbeie, dik skywe piesang en appelkwarte. • stokkies of vurkies om in die vrugte te druk om die doopslag te vergemaklik 1 Meng al die bestanddele tot voor die neute in ’n bakkie. 2 Sit die neute en klapper in twee afsonderlike bakkies. 3 Pak die gesnyde vrugte uit op bordjies. Die kinders doop eers die vrugte in die jogurtsous en rol dit dan in die neute en/of klapper. Nog idees * Maak ’n vinnige doopsous vir allerlei groente soos selderystokkies en worteltjies: Meng gelyke hoeveelhede gladde maaskaas met volroom- Griekse jogurt, geur met sout en peper en gekapte kruie soos pietersielie of vinkel. Woensdag (kosblik-idee) Geroosterde maalvleis-en-kaas-broodjie – Genoeg vir 4 Maak die broodjies in ’n japtrap met die maalvleis wat jy vroeër ekstra gemaak het vir die herderspastei. • 8 snye witbrood • margarien om die brood te smeer • 250 ml (1 k) basiese maalvleis soos vir Maandag se herderspasteitjies berei • 125 ml (½ k) gerasperde cheddarkaas 1 Verhit ’n Snackwich. 2 Smeer die brood deeglik met margarien. Sit 2 snye met die margarienkant na onder in die voorverhitte Snackwich. 3 Verdeel die maalvleis tussen die 2 snye brood, strooi die kaas oor en sit die ander sny brood bo-op met die margarienkant na bo. 4 Bak vir 3 min. of totdat die kaas gesmelt is en die brood goudbruin en lekker warm is. Nog idees met roosterbroodjies * Kaas-mielie-en-ham-broodjie: Vervang die maalvleis deur sowat 60 ml (¼ k) geroomde mielies en twee skywe toebroodjie- of piekniekham. Strooi laastens kaas oor. Donderdag (kosblik-idee) Grondboontjiebottermuffins – Genoeg vir 12 Ons het dié resep uit die Savvy Kids-kookboek gekry. Sit die muffins net so voor, of saam met lekker dik mascarpone en gesnyde piesang vir ’n nagereggie. Ek laat my kinders gewoonlik op Sondagaande self die muffins bak (as dit nie te rof gaan nie). • 250 g (½ k) meel • 100 g bruinsuiker • 5 ml (1 t) bakpoeier • 200 g grondboontjiebotter • 225 ml (1 k + 2½ t) melk • 30 ml (2 e) olyfolie • 2 eiers, geklits • 45 ml (2 e) grondboontjies, gekap 1 Voorverhit die oond tot 200 ºC. Spuit ’n muffinpan met kleefwerende kossproei. 2 Meng die meel, bruinsuiker en bakpoeier in ’n mengbak. 3 Voeg die grondboontjiebotter by en meng die bestanddele tot dit soos broodkrummels lyk. 4 Voeg die melk, olie en eiers by en roer tot ’n gladde deeg. 5 Maak elke holte twee derde vol met die deeg en strooi die gekapte grondbone oor. Bak vir 20-25 min. of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat effens afkoel. Nog idees met muffins * Pak bakkies met neute, sade en droëvrugte soos pitlose rosyntjies uit sodat die kinders daarvan kan byvoeg volgens hul smaak. * ’n Gerasperde appel, of twee gerasperde wortels, is ’n lekker toevoeging. * Druk twee piesangs fyn en meng deur die basiese beslag. Vrydag (snoephappie-idee) Piesangroomys – Genoeg vir 4 • 4 piesangs • 4 balletjies goeie vanieljeroomys • klaarbereide karamelsous • 60 ml (¼ k) gekapte neute 1 Sny die piesangs in die lengte middeldeur. 2 Plaas albei helftes in 4 afsonderlike bakkies. 3 Skep ’n balletjie roomys op die piesangs en gooi lekker baie karamelstroop bo-oor. 4 Strooi die neute oor en smul. ’n Heilsame variasie * Vervang die roomys deur volroom-Griekse jogurt en die karamelstroop deur heuning. Goeie snoephappie-idee * Vars vrugte soos aarbeie (eintlik alle bessies), druiwe, geskilde nartjies of lemoene is ideaal omdat dit nie soos appels verkleur nie en klein handjies dit maklik kan vat.
http://www.rooirose.co.za/kosblik-idees-week-1/
2017-01-13 12:34:43
Verhoudings: swaai uit vir die slaggate
In die verliefde waas van daardie eerste wonderlike dae van ’n romantiese verhouding sou julle nie kon glo dat jul verhouding ook maar soms in ’n stormsee van probleme en verskille sou beland nie. Maar dit gebeur. En hoe julle mekaar en die storms hanteer, bepaal dikwels die rigting, gehalte en geluk van die verhouding. Om die emosionele uitdagings van verhoudings te hanteer, is ’n kunsvorm en nie ’n wetenskap nie. Daarom berus dit op aanvoeling en sekere emosionele beginsels en nié op vaste reëls nie. Mense en situasies verskil, en elke situasie verg ’n fyn aanvoeling en eiesoortige hantering. Prof. John Gottman van die Amerikaanse Relationship Institute, het stewige verhoudings en ook dié wat skipbreuk ly, oor baie jare bestudeer en tot interessante gevolgtrekkings gekom. Dié sielkundige sê hy kan in gesprek met ’n paartjie binne minute met 91% akkuraatheid bepaal of die verhouding sal hou of nie. Die vier tekens wat volgens prof. Gottman op ’n voorspelde breuk dui, is: • Kritiek, sê hy, is méér as klagtes oor ’n bepaalde optrede, of iemand se gedrag, want dit is betreklik normaal in ’n verhouding. Met kritiek val jy die ander mens se karakter aan en dit lei dikwels tot die volgende optrede: minagting. • Minagting, sê prof. Gottman, is dié duidelikste teken dat ’n verhouding in ernstige moeilikheid is. Dan word verwerping, afkeer, selfs afgryse in die maat, deur sarkasme, sinisme, vernederende name, spot, smalende en vyandige opmerkings, geluide, of rol van die oë gekommunikeer. • Blamering of verdediging is gewoonlik ’n normale reaksie op kritiek, maar dit bring ’n paartjie nie nader aan ’n oplossing nie. Dit sê eerder: Jy is die probleem, nie ek nie, en dit verhoog die konflik. • Ignorering of onttrekking is dikwels ’n reaksie op kritiek, minagting en blaam. En as die gesprek boonop hard en rigied begin het, draai een maat die rug na die ander en reageer net nie. Dit laat mense magteloos voel en maak hulle net kwater. Mans is meer geneig om dit te doen, terwyl vroue eerder kritiseer. Vir ’n suksesvolle langtermynverhouding het jy veel meer as liefde nodig. Jy het dinge nodig soos respek, goeie kommunikasie, vertroue, positiwiteit en die wysheid om te besef dat die meeste goed waaroor mense baklei nie die geveg werd is nie. Jy kan so maklik ’n geveg wen, maar die mens en die verhouding verloor. ’n Gelukkige verhouding gaan daaroor om die regte dinge te doen en te sê! Trap die volgende slaggate so mis: 1 Die mooi dinge bly agterweë Wanneer die verliefdheid taan, hou mense soms op om die liefdevolle en spesiale dinge te doen wat hulle juis na mekaar aangetrek het, en wat die boodskap “jy is vir my spesiaal” uitgestuur het. • Doen weer die dinge wat julle gedoen het toe julle gelukkig en verlief was: gaan eet uit, fliek, dans, koop sjokolade, stuur liefdevolle SMS’e … • Maak meer tyd vir mekaar en gesels ure lank; deel weer met mekaar die stories van jul dag, jul drome, herkoms, vrese en mislukkings. • Praat op ’n liefdevolle manier met mekaar. Gebruik weer liefdestaal en troetelnaampies. ’n Mens kry verskillende taalregisters: liefdevolle taal, neutrale taal en afbrekende seermaaktaal. Wanneer ’n mens kwaad word, skuif jy na ’n volgende register om jou woede en standpunt sterker uit te druk. Wanneer julle meestal liefdevol met mekaar praat, skuif jy in ’n verskil of geveg na neutrale taal, wat beteken dat ’n mens dit grootliks kan vermy om afbrekende seermaakgoed te sê. Leer om ou wrokke te laat gaan; om vergifnis te vra en ander te vergewe 2 Ek is reg. Jy is verkeerd! Wanneer een persoon glo hy is reg en die ander een is verkeerd, is hulle geneig om mekaar nie werklik te hoor en te verstaan nie. Dan gaan die hele gesprek daaroor om jou brose ego te beskerm en jouself as reg en die ander een as verkeerd te bewys. Die hartseer is dat daar in so ’n benadering meestal net verloorders is. Jy kan dalk die argument wen, maar jou maat en die verhouding is dan verloorders. • Doen afstand van reg en verkeerd. Verander dit na: Ek het ’n ander mening as jy; ons is verskillend en sien en beleef dinge verskillend en het verskillende behoeftes. Dan is dit makliker om mekaar te hoor en kompromieë aan te gaan en oplossings te kry. • Fokus daarop om jou maat te verstaan en ’n oplossing te kry, eerder as op wie reg of verkeerd is. • Hou op verdedig. • Wees bereid om te verander en moenie die dinge doen wat jou maat dwars in die krop steek nie – ter wille van jul verhouding, jul liefde vir me- kaar én die vrede! 3 Baklei jy vuil? Wees emosioneel volwasse en gelykmatig om die dinge te vermy waarteen prof. Gottman waarsku: • Staak jou kritiek: “Jy is nie ’n man se agterent werd as jy nie eens ons huweliksherdenking kan onthou nie.” Maar jy kan en móét jou teleurstelling en ongelukkigheid uitspreek: “Ek is so hartseer en voel onbelangrik wanneer jy ons huweliksherdenking vergeet.” Fokus op jou gevoel en ervaring en op die ander persoon se optrede, en bly weg van veralgemenings oor iemand se karakter. • Stel jou behoefte eerder as om te kritiseer: “Is dit nou tyd om by die huis te kom? Jy gee jy nie ’n duit vir my om nie, dis net jou werk wat vir jou tel!” teenoor: “Ek mis jou en het behoefte aan meer tyd saam met jou.” Albei benaderings sê in wese dieselfde ding, maar die tweede benadering sal ’n gunstiger reaksie uitlok. • Vermy minagting en kies skoon en neutrale taal om ongelukkigheid uit te druk: Weerhou jou van skeldname, vloekery, kras, afbrekende en minagtende woorde en uitsprake. • Kommunikeer oop en eerlik: Antwoord jou maat as sy met jou praat, al is dit om te sê: “Ek dink ons moet die gesprek nou hier stop, want ons is ontsteld en kwaad en gaan dalk dinge sê wat seermaak. Kom ons praat weer wanneer ons albei kalm is.” En dan moet julle wel later die gesprek bedaard hervat en die probleem uitpluis. Maar moenie jou maat ignoreer en wegstap nie, of nog erger, vir dae met stilstuipe straf nie. • Erken jou foute ruiterlik en weerhou jou daarvan om jou maat vir al jul probleme te blameer. Slagoffers blameer altyd iets of iemand anders vir hul probleme. • Hanteer jul probleme in privaatheid. Moenie wasgoed in die openbaar was en jou maat voor mense verkleineer of aanvat nie. • Maak seker dat jy baie meer waardering, liefde en dankbaarheid as klagtes of kritiek uitspreek en wys. Dit bring sagtheid, intimiteit en toegeeflikheid in ’n verhouding. 4 Familie en vriende Bloed is dikker as water. Jou maat se ma is haar ma. As jy negatief oor haar ouers voel en hulle kritiseer, raak jy aan ’n baie sensitiewe stukkie van haar, en verwerp jy ’n fundamentele deel van haar menswees en herkoms. Moeilike skoonfamilie is dikwels deel van die pakkie wat jy saam met jou geliefde gekies het en sy mense moet maar met deernis, liefde en respek behandel word. Vermy konflik met sy familie en vriende. Vertrou hom liewer om die konfliksituasies sonder jou inmenging te hanteer. Bepaal saam met jou maat sinvolle grense vir familie en vriende se betrokkenheid en aansprake op jul lewe. 5 Ou koeie • Kry oplossings vir jul probleme. Moenie keer op keer oor dieselfde ou koeie baklei of jou maat oor ou kwessies verwyt nie. • Moenie aanhou kla en teem oor dinge waaraan jy niks kan doen nie. Verander wat jy kan en moenie onnodig sukkel nie. • Aanvaar wat jy nie kan verander nie; dit kan vra om te leer om met dikwels moeilike omstandighede saam te leef; om ou wrokke te laat gaan; om vergifnis te vra en ander te vergewe. 6 Geld wat stom is • Geld is een van die grootste oorsake van konflik in verhoudings en ’n middel waarmee ander beheer en gemanipuleer word. Manipulasie en beheer is gevaarlike speletjies, want dis moeilik om ander te beheer sonder om hul behoeftes te verwerp. • Neem medeverantwoordelikheid en bepaal saam ’n begroting. • Kry praktiese oplossings vir finansiële verskille: As haar telefoonrekening te hoog is, laat sy dit uit haar deel van die begroting betaal. • Daar moet in albei se finansiële, sosiale en emosionele behoeftes voorsien word, daarom moet albei toegang tot geld en vryheid hê. • Dieselfde reëls moet vir albei partye geld. • Moenie jou wil aan jou maat opdwing nie, en sy doen en late, wat hy mag doen, eet, aantrek of waarheen hy wanneer mag gaan, probeer beheer nie – al glo jy dis beter. Dis nie goed vir sy selfbeeld nie, en beslis nie vir jul verhouding nie. 7 Sonder haakplek Wanneer jy ’n motor koop, moet jy bereid wees om petrol in te gooi en te laat versien. Wanneer jy ’n baba kry, maak jy stink doeke skoon. Alles in die lewe wat die moeite werd is, vra onderhoud, insette en moeite om te groei en tot iets spesiaals te ontwikkel. Verhoudings ook. • Bring saam tyd deur en wend ’n poging aan om die verhouding te laat groei. • Lees boeke en artikels oor verhoudingsake. Woon verhoudingskursusse of lewensverrykingseminare by om jul kommunikasie te verbeter. • Gaan spreek ’n deskundige om leiding en raad en om nuwe vaardighede aan te leer wanneer gevaarligte flikker. • Gaan ’n slag sonder die kinders met vakansie. 8 Seks Seks is die taal van intimiteit, en intimiteit gaan oor meer as seks. • Moenie seks weerhou, of as ’n wapen of ruilmiddel gebruik nie. • Gesels openlik met mekaar oor jul emosionele en intieme behoeftes, seksuele voorkeure en fantasieë sodat julle mekaar ken en verstaan. • Doen moeite om vir jou maat seksueel te gee waaraan sy behoefte het. Wat ’n mens vir ander gee, gee jy ook vir jouself. • Doen moeite om die vonk en opwinding in jul fisieke verhouding te hou. ’n Bietjie eksperimentering, waagmoed en afwisseling verrig wondere, want verandering van spyse gee mos eetlus. Dit sluit nie ’n derde persoon in nie. 8 Wantroue en ontrouheid Wedersydse vertroue is een van die basiese boustene van ’n gesonde verhouding. • Vertrou jou maat. Wantroue en om onder gedurige kruisverhoor te wees en beheer te word, breek verhoudings en kommunikasie. • Doen wat jy belowe, en hou by die datums en ooreenkomste. • Wees openlik en moenie dinge wegsteek, of skelm agter jou maat se rug doen nie, dit skaad vertroue. • Skelm verhoudings of flirtasies is nooit ’n opsie nie. • Moenie skelm na pornografie kyk nie, of webtuistes besoek om mense te ontmoet om mee uit te gaan nie. 9 Prioriteite? Dikwels is kinders ’n bron van konflik, veral in hersaamgestelde gesinne. Balanseer julle tyd vir mekaar met jul ouerlike en werkspligte. • Staan saam, al stem julle nie saam nie. Moenie toelaat dat kinders julle teen mekaar afspeel nie. Besluit saam oor dinge rakende die kinders, soos aktiwiteite, reëls, verantwoordelikhede en dissipline. • Stel mekaar se behoeftes eerste – bo die ander eise in jul lewe. • Probleme in verhoudings moet aandag kry, anders ly jy en die verhouding ernstig skade.
http://www.rooirose.co.za/verhoudings-swaai-uit-vir-die-slaggate/
2017-01-30 12:57:54
WEN luukse velsorgprodukte van R39 600
Soos die vel verouder, ondergaan dit verskeie strukturele veranderinge wat oor tyd heen ’n tekort aan elastisiteit en fermheid kan veroorsaak, terwyl dit ook die vel verdof. Gelukkig kan jy met Eucerin® se Elasticity + Fillerreeks jou vel weer ’n hupstoot gee en terugsit wat ouderdom uithaal. Danksy die hoogs innoverende kombinasie van teenverouderingprodukte is dié reeks wetenskaplik bewys om die vel se struktuur te versterk, terwyl dit elastisiteit verbeter en plooie verminder. Meer spesifiek is die Arctiin-komponent daargestel om kollageen vinniger in die velselle te hernu, terwyl die Silimarien die vel beskerm en Hialuroonsuur enige diep plooie wegneem. Skryf in en jy kan een van 36 Eucerin® Elasticity + Filler-geskenkpakke ter waarde van R1 099,97 wen. Elk van dié geskenkpakke bevat ’n Eucerin® Elasticity + Filler dag en nagroom (ter waarde van R349,99 elk), asook hul jongste toevoeging tot die reeks: die Eucerin® Elasticity + Filler gesigolie met Argan-olie (ter waarde van R399.99). Besoek www.eucerin.co.za vir meer inligting. Beantwoord die vraag en SMS jou antwoord, volle naam, adres en ID-nommer na 48409. Vraag: Watter olie word in die Eucerin® Elasticity + Filler gesigolie gebruik? SMS’e kos R1,50 elk, gratis sms’e geld nie. Reëls en voorwaardes geld. Sluitdatum 28 Februarie 2017
http://www.rooirose.co.za/wen-luukse-velsorgprodukte-van-r39-600/
2017-01-17 13:32:30
Plan B
Klottervry Ná Marie Kondo se ikoniese boek, The Life-changing Magic of Tidying Up, is “klottervry” op almal se lippe. Enigiets wat jy langer as ’n jaar laas gedra het en alles wat onnodig plek opneem, moet waai. Ai, jy weet jy moet minder maak en organiseer, maar die berg voel veels te hoog om aan te durf. Plan B As jy angstig raak by die blote gedagte daaraan dat jy die Moedersdagkaartjies moet weggooi wat die kinders 25 jaar gelede vir jou gegee het, is daar ’n wonderlike tweede opsie: organiseer. Wanneer jy organiseer, skep jy orde en wanneer jy ontklotter maak jy minder. Maar wanneer jy ’n klomp goed weggooi, is jy nie noodwendig ook georganiseerd nie. Die geheim is om te weet wat jy het, waar jy dit kan kry, en dat elke ding ’n bêreplek moet hê. Klerekaste is gewoonlik die probleem. Pleks van wroeg of jy al jou klere nodig het en gebruik, begin eerder organiseer deur alle hemde op een plek te hang, alle broeke bymekaar, en so aan. Sommige mense hou daarvan om klere volgens kleure te groepeer. Dink aan enigiets wat dit makliker maak om te weet waar alles is. Hegte gesinsbande Jy vertrek soggens vroeg werk toe en kom laat tuis en daar is bitter min tyd om werklik met gesinslede te kommunikeer. Jy sou graag alle sportwedstryde wou bywoon, alleentyd met elkeen van die kinders deurbring en ’n naweek saam met jou liefie weggaan, maar die wrede werklikheid is maar eenmaal anders. Plan B As jy verhoudings by die huis op geoliede wiele wil laat rol, is die geheim om saans saam te eet. Dit is die geheim van hegte gesinne, sê sielkundiges. Selfs al kry julle dit net elke tweede aand reg, is dit steeds ’n hoeksteen. Die Universiteit van Oklahoma en Oklahoma State-universiteit in Amerika het die eetgewoontes van 24 000 kinders, asook hul gedrag, sosiale vaardighede en akademiese prestasies ontleed. Uit die studie het dit geblyk dat wanneer gesinne gereeld saam eet die kinders 10% meer betrokke was by skoolaktiwiteite en die moontlikheid van swak gedrag het met 8% afgeneem. Volgens ’n verslag wat in die Journal of Family Psychology gepubliseer is, gee etes weerlose kinders bestendigheid en ’n geleentheid om kontak te maak. Maak dit jou geheime wapen vir hierdie jaar. Gee jou verhouding borrels Jy en jou geliefde se verhouding is vaal en julle seil soos skepe in die nag by mekaar verby sonder om kontak te maak. Jy sou graag iets besonders wou doen, soos om een keer per week weg te glip vir ’n romantiese ete en oor dieper dinge as jul begroting en die kinders se skoolroetine te praat. Maar die tyd en begroting vir grootse, romantiese gebare ontbreek. Plan B Maak Vrydagaande spesiaal, trek netjies aan gaan drink ’n drankie by ’n deftige hotel of eetplek. Boonop is dit makliker om iemand te kry om twee uur lank na die kinders te kyk pleks van ’n hele aand. Maak dit ’n speletjie en maak beurte om ’n oulike plek te kies – dan wag daar die opwinding van ’n verrassing. Dis ook nie te duur nie, want julle eet agterna by die huis – of gaan eet by ’n goedkoop eetplek. Skoonheidsroetine Die badkamerkassie staan gepak met roompies en doepa wat jou jonger en varser sal laat lyk. Al wat jy moet doen, is om elke aand jou gesig ordentlik skoon te maak en die res van die skoonheidsroetine te volg. Helaas, dit gebeur nie altyd nie. Plan B Suzanne Kotzé, rooi rose se skoonheidsredakteur, gee haar wenke: Velsorg Te moeg (lui) om jou aandroetine ordentlik te volg? Suzanne sê sy hou die aand se skoonmaakmiddels en roompies langs haar bed en doen wat gedoen moet word terwyl sy in die bed lê. • Hou ’n pakkie reinigingslappies byderhand om ordentlik te reinig. • Of volg die Franse vroue se voorbeeld en gebruik Micellar-water. Dit lyk soos water maar het mikroskopiese oliedeeltjies wat aan die onsuiwerhede in jou vel bind sonder om jou vel uit te droog. Hou dié produk en watteskyfies langs jou bed. Dis ideaal om maskara en ooggrime-ring af te haal en reinig jou gesig sagkens. Boonop spaar jy water! Probeer Bioderma se Sensibio H2O. • Serums en nagrome moet gewoonlik in die regte volgorde aangewend word en soms moet jy ’n tydjie wag voor jy die volgende een kan aanwend. Dan is dit ideaal as jy in die bed kan sit en ontspan. Hare ’n Mens het altyd goeie voornemens om nooit met onver-sorgde hare rond te loop nie, maar … en soms is daar meer goor-haar-dae as goeies in ’n week. • Kry gekleurde haarpoeier wat jy by die wortels aanwend om nuwe uitgroei te verbloem. Dit lyk soos ooggrimering en werk vir alle haarkleure. • Droë sjampoe is op baie vlakke ’n staatmaker. “Ek gebruik dit selfs op skoon hare om meer volheid te kry, en dit werk veral goed as my hare op die tweede dag plat lê. Dit gee lekker tekstuur en laat jou hare skoon ruik as daar dalk van die vorige aand se kosreuke of rook aan jou hare kleef.” • Moroccanoil se droë sjampoe vir blonde hare het ’n bonus: dit het ’n pers ondertoon wat ook die geel in platinum blonde hare demp. • As jy desperaat is en nie droë sjampoe het nie, kan jy babapoeier gebruik. Maar net as jy blond is. Vryf die poeier liggies met jou vingerpunte deur jou haarwortels eerder as om die poeier op jou kopvel te stuif. • Wees kreatief met vlegsels, skewe poniesterte en bollas as jou hare nie so skoon is nie, en gebruik kopbande en serpies as die grys by die wortels wys. Oefen Dis geen geheim dat oefening jou beter laat voel en lyk nie. Die gulde reël is ’n halfuur se oefening vyf keer per week, maar daar is ook kortpaaie sodat jy sonder ure se bloedsweet vele voordele uit korter oefensessies kan trek. Plan B • Oefen kort (10 min.) maar baie intens: Navorsers het vasgestel dat kort, intense sessies dieselfde resultate as tradisionele langer sessies kan hê. Kanadese navorsers het twee oefenroetines vir jonger mans vergelyk: ’n intense oefensessie van 10 min. drie keer per week waarvan net 1 min. hard geoefen word. Die ander groep het die tradisionele matige intensiteit oefening vir langer tydperke gedoen. Die gesondheidsvoordele vir die eerste groep was meer as vir die tweede groep. Hul insuliensensitiwiteit het met 53% verbeter (34% vir die matige groep) en hul spiere het suurstof doeltreffender opgeneem (48% vs 27%). Navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat 30 min. se oefening per week net soveel en meer gesondheidsvoordele kan inhou as 150 min. se oefening per week. *As jy ouer is, moet jy eers met jou dokter praat oor die wenslikheid van kort, intense sessies omdat die studie op mans met ’n gemiddelde ouderdom van 27 gedoen is. Die studie het oor drie maande gestrek en gee geen aanduiding wat op die lange duur gebeur nie. • Probeer Tabata: Prof. Izumi Tabata het dié oefenmetode ontwikkel om Olimpiese snelskaatsers af te rig. Twee groepe atlete is oor ses weke op verskillende maniere afgerig. Die een groep het vyf dae per week vir ’n uur teen ’n gemiddelde intensiteit geoefen. Die Tabata-groep het vier dae per week vir 4 min. 20 sek. (met 10 sek. rus tussen elke sessie) teen hoë intensiteit geoefen. Die resultaat: Die eerste groep het hul kardiovaskulêre fiksheid (aërobiese meganisme) verbeter, maar het min resultate vir spierbou (anaërobiese meganisme) gewys. Die Tabata-groep se aërobiese fiksheid het beduidend verbeter en hul anaërobiese fiksheid het met 28% toegeneem. Soek onder “tabata workout” vir oefeninge om te doen. Zzzzzzz Jy het sewe tot agt uur slaap nodig om jou volle potensiaal te bereik, maar soms is dit bloot onmoontlik. Of dit ’n baba is wat jou wakker hou, spertye, of slaaploosheid, op die lange duur is dit uitmergelend. Plan B Dr. Dominique Stott, uitvoerende beampte van mediese standaarde en dienste by PPS, sê ’n gebrek aan slaap kan keer dat jy inligting prosesseer en dit kan tot swak oordeel, insig en geheue lei. “Die funksie van slaap is om jou brein af te skakel sodat die gebeure van die dag kan insink en geheue en insig kan skep.” Sewe tot agt uur is genoeg, maar oppas as jy oor die naweek verlore slaap probeer inhaal. As jy sukkel om te slaap, kan dit jou slaappatroon net verder versteur. • As jy werklik moeg is, kan jy iewers deur die dag ’n uiltjie knip. Dit sal jou brein help herstel en jou verfris laat voel. Die geheim is om nie langer as 20 min. te slaap nie, want daarna gaan jy in ’n dieper slaap en word jy deur die blare wakker. • Slaappille kan op kort termyn help om jou roetine te herstel, maar op die lange duur is dit nie volhoubaar om kunsmatige maniere te gebruik om jou aan die slaap te sus nie. As jy langer as ’n maand slaappille drink, raak dit minder doeltreffend, en jy kan nog meer sukkel as jy die medikasie staak. • Probeer ander maniere om jou brein deur die dag te ontspan, soos meditasie, joga of enige aktiwiteit waar jy jou brein bewus-telik stadiger dwing. • Geen alkohol, kafeïen en sigarette drie uur voor slapenstyd nie. • Geen skermtyd ’n halfuur voor slapenstyd nie. Die blou lig van skerms het ’n hoër konsentrasie kort golflengtes wat die produk-sie van die slaaphormoon, melatonien, benadeel. • Probeer vasstel hoekom jy sleg slaap en stel dit reg. Daar is landwyd verskeie slaapklinieke waar jy om raad kan aanklop.
http://www.rooirose.co.za/plan-b/
2017-01-12 14:19:06
ATKV Oesfees vier vanjaar 10 jaar
Die ATKV-Oesfees het in 2008 as ’n klein plaasbyeenkoms begin en het oor die jare ’n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse kulturele kalender geword wat selfs internasionale belangstelling lok, in die “Roots Revival’’ beweging. Die musiekprogram verseker ’n variasie van die eg inheemse, ongekunstelde talent van die Franschhoek-vallei, asook optredes deur van ons land se bekendste en geliefde kunstenaars. Die Music van de Caab-projek, geborg deur Solms-Delta en Boschendal Landgoed, streef daarna om die uiteenlopende, musikale erfenis van die landelike Kaap te bewaar, deur onder meer die aanmoediging van plaaslike musikante. Hierdie projek word gelei deur die briljante Adriaan Brand van Springbok Nude Girls. Die Music van de Caab -groepe en -orkeste wat vanjaar by die ATKV-Oesfees gaan optree, sluit in: Delta-Langbroeke Klein Handjies-Kinderkoor Delta Valley Entertainers Die Soetstemme Lekker Lekker Delta. Dan is daar ook optredes deur Die Papier Familie Orkes en die gewilde Hannes Coetzee. Bekende groepe en topmusikante wat vanjaar op die verhoog gaan wees is die Radio Kalahari Orkes, Manouche, Brain Cloete, Churchil Naudé, Die Wasgoedlyn, Akkedis, Hemelbesem en Yoma, Les Javan, Riku Lätti, Bacchus Nel, Jackie Lätti, Nick Turner en Tribal Echo. ’n Spesiale hoogtepunt vir die10de herdenkingsfees is ’n optrede deur die wêreldbekende African Jazz Pioneers. Kyk ook uit vir die ATKV-Rieldanskampioene (hooffoto), wat elke jaar vastrap dat die stof so staan en die gehoor aan hul voete het. Tradisionele Kaapse geregte soos Waterblommetjiebredie, Braaivleis, Kaapse kerrie afval en Koeksisters sal op die dag gekoop kan word, asook ’n verskeidenheid van Solms-Delta se wyne.\ Kom geniet die dag saam met jou hele gesin. ’n Fees sonder tierlantyntjies saam met gelukkige mense op ’n besonderse plaas. Toegang • Spesiale prys indien kaartjies voor 14 Februarie gekoop word: R99 • Kaartjiepryse vanaf 14 Februarie tot 24 Maart: R120 • Kaartjies by die hek op dag van die fees: R150 • Kinders, twee tot 12 jaar: R40 • Kinders onder twee jaar: R1. Elke kind kry ’n feesbandjie sodat die organiseerders weet presies hoeveel mense en kinders op die perseel is. Koop jou kaartjies hier • Aanlyn: plankton.mobi • Computicket: online.computicket.com • Solms-Delta-proe-lokaal Deli • Shoprite Checkers Webtuiste en sosiale media • Facebook: @DieOesfees • Twitter: @DieOesfees • Instagram: atkvoesfees • Webtuiste: www.oesfees.co.za en www.solms-delta.co.za Feesnavrae: 021-874 3937
http://www.rooirose.co.za/atkv-oesfees-vier-vanjaar-10-jaar/
2017-01-24 11:02:43
Ons onthou vir Marga van Rooy
Marga van Rooy was beslis ’n veteraanaktrise na sowat 52 jaar se ondervinding in die bedryf. Sy sal altyd onthou word. Marga, wat aan kanker oorlede is, was veral bekend vir haar rolle in Vetkoekpaleis, Molly en Wors, Egoli asook films soos Die Windpomp. Marga het in 2008 haar liefde vir haar kleinkinders uitgespreek in ’n onderhoud met rooi rose. Ons kyk terug en onthou haar mooi woorde met ’n glimlag: “Ek het ’n volle ses kleinkinders: Ester, Daniël, Tine, Francis, Olge en klein Anja wat nou agt maande oud is. Dit is vir my heerlik om ’n ouma te wees. Ek gaan onvoorwaardelik op in dié rol. En ja, ek loop soms met my fotoalbum rond en spog, al vermoed ek my pelle daar by Egoli raak ’n bietjie moeg daarvoor. “Ek sou graag vir my kleinkinders wil leer dat hulle hulself moet wees” Marga van Rooy Die afgelope klompie jare is hulle die rede waarom ek op die vliegtuig sal klim en vinnig Kaap toe gaan. Ek voel dis nou die tyd wat my kleinkinders regtig hul ouma nodig het en wil hê. As hulle eers tieners is, wil hulle hul eie lewe lei. Ek sou graag vir my kleinkinders wil leer dat hulle hulself moet wees. En ek hoop hulle kom gou daarby uit om uit te vind wie en wat hulle is. Ek en my man is albei gek na boeke en dis vir my lekker dat die kinders net so van stories hou. Hulle teken vreeslik mooi, hulle is baie kreatief. My ander wens vir hulle is dat hulle altyd positief moet bly, veral in ons land. Ondanks alles wat hier aangaan, bly dit ’n voorreg om hier te kan grootword. Ek weet om diensbaar te wees, is bietjie van ’n ouma-woord, maar as jy vir iemand anders lief kan wees, is jy ’n gelukkige mens. Ek leer hulle graag dat hulle Liewe Jesus moet help met sy goeie werk hier op aarde. ’n Kind moet met selfvertroue grootgemaak word. Hy verdien al die liefde wat hy kan kry. En hy moet seker wees van sy plekkie hier op aarde.”
http://www.rooirose.co.za/ons-onthou-vir-marga-van-rooy/
2017-01-16 13:09:32
Kanaal 7
Kanaal 7 Visie en Missie Kanaal 7 streef daarna om ‘n hoë gehalte uitsending deur professionele goedingeligte en toegewyde omroepers aan te bied. Visie: Om siele vir Christus te wen deur die moderne media. Missie: Kanaal 7 is ‘n betroubare, toonaangewende Christelike uitsaaidiens wat in die soeke na die Koninkryk van God die boodskap van hoop deur Jesus Christus uitdra na gelowiges en nie-gelowiges oral in die wêreld via interaktiewe media.
http://www.k7.com.na/
2016-11-03 00:00:00
Samaritaan - Kanaal 7
Die Samaritaan. ‘n Ontwerp met kunswerk moet die blad vergesel. Dalk iets wat direk verwys na die Bybelse Samaritaan. Enige Voorstelle? Luk 10:27 En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Luk 10:28 Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe. Luk 10:29 Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste? Luk 10:30 En Jesus antwoord en sê: ‘n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê. Luk 10:31 En bygeval het ‘n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. Luk 10:32 En net so het ook ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan. Luk 10:33 Maar ‘n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel, Luk 10:34 en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg. Luk 10:35 En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom. Luk 10:36 Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het? Luk 10:37 En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so. Die doel van hierdie blad “Die Samaritaan” is om die opdrag van Jesus aan die wetsgeleerde wat hom probeer vasvra het uit te voer. Deur die radio en ander sosiale media het ons die geleentheid om ʼn baie spesifieke boodskap by ons luisteraars en lesers uit te kry en hulle die geleentheid onder die leiding van die Heilige Gees te gee om betrokke te raak in mense se lewens. Daar is egter soveel versoeke met net soveel verskillende behoeftes dat dit bykans onmoontlik is om alles oor die radio en selfs sosiale media te hanteer en effektief onder luisteraars en lesers se aandag te bring. Die blad “Die Samaritaan” lê binne Kanaal 7 se webblad en kan bykans onbeperk gebruik word om behoeftes te stel en te getuig van uitkoms wat ontvang is. Op hierdie blad is daar foto’s briewe en watter ondersteunings dokumente ook al benodig mag word. “Die Samaritaan” sal gereeld op datum gehou word en spesifieke riglyne bepaal die tydsduur en tipes inligting wat geplaas word. ‘n Plasing sal bv. net een maand op die blad bly. Indien daar nie n spesifieke versoek ontvang word om dit langer te laat opbly of weer geplaas te word nie sal dit permanent verwyder word. Alle behoeftes moet aan ʼn erkende organisasie of geregistreerde trust gekoppel wees. Individue wat bloot hulp nodig het sal nie op hierdie blad verskyn. Kanaal 7 sal op al die verskillende platvorms ʼn vaste advertensie dra wat die blad promoveer met verwysings na nuwe items en terugvoer wat ontvangs word. Voorbeeld: Hallo Stefan Gert Engelbrecht, het ‘n rugoperasie op 18 Maart 2016 in ‘n Mediclinic in Durbanville gehad. Dit was die 7de rugoperasie en hierdie keer was dit ‘n sukses, maar op 8 April is hy in intensief opgeem as gevolg van infeksie. Die longe het plat geval, die hart het 4 keer gaan staan en hy is nou verlam. Hy kan net sy kop draai. Hy is op 31 Augustus oorgeplaas na Windhoek se Lady Pohamba hospitaal se intensiewe eenheid. Die Bankmed mediese skema waaraan Gert se vrou Ina behoort het N$ 2 miljoen se onkostes gedek maar Bankmed was so tegemoetkomend dat hulle tot by N$ 3 miljoen se onkostes betaal het. Daar is egter nog N$ 1.5 miljoen se rekeninge uitstaande en die bedrag word daagliks groter met 10 duisend dollar vir die intensiewe sorg. As gevolg van die baie operasies tot dusver is Gert se pensioen- en spaargeld al uitgeput. Ina se ma en ek het al N$ 150 duisend uit ons eie sakke betaal net om die daaglikse holspitaalfooie te betaal, maar die uitstaande rekeninge van N$ 1.5 miljoen staan nog. Flip Nortje, die Streeksbestuurder van die Suide se FNB banke, is gesetel in Mariental se FNB bank en ken vir Ina en Gert. Ina het 19 jaar in die Marientaltak gewerk en Flip wil hulle finansieel bystaan deur ‘n hulpfonds te stig en funksies te reël in Mariental om geld in te samel. Flip sal self ook ‘n brief aan julle skryf in hierdie verband om die saak amptelik te bevestig vir julle raad. Groetnis Frikkie Engelbrecht Tel 23 2387 Sel 081 329 1317 Foto’s en ander relevante inligting.
http://www.k7.com.na/2016/11/03/samaritaan/
2016-11-03 18:13:21
Strydom Galery herleef in nuwe boek
Hierdie steelfoto van Matthys Strydom is deur sy seun Johan geneem. SUID-KAAP NUUS - Vir talle mense - en dit sluit in kunsliefhebbers van dwarsoor die land - wat steeds met groot heimwee terugdink aan die voormalige Strydom Galery in George, is daar uitstekende nuus. Die stigter en voormalige eienaar van die Strydom Galery, Matthys Strydom het 'n wonderlike boek die lig laat sien waarmee hy die galery, die kunstenaars en kunswerke laat herleef. In Stories teen my muur verweef Strydom staaltjies oor hoe hy sekere van sy gunstelingkuns-werke bekom het met sy ontmoetings met die kunstenaars - en sonder dat hy daarmee te koop loop, deel hy in die proses baie van sy kunskennis met die leser. Strydom is een van Suid-Afrika se bekendste kunskenners en -versamelaars en sy kennis en heerlike skryfstyl maak Stories teen my muur 'n moet vir alle Suid-Afrikaners wat die Strydom Galery in Markstraat besoek het en dit steeds mis. Strydom, 'n voormalige dokter en steeds 'n kranige beesboer, se lekker, eerlike, dog deernisvolle vertellinge maak dat jy die boek moeilik neersit. Afdrukke van sy 'stories teen die muur' word by elke vertelling in die boek ingesluit en 'n kort CV van elke kunstenaar verskyn aan die einde van elke hoofstuk. Die 26 kunstenaars in die boek sluit in Gregoire Boonzaier, Irma Stern, Christo Coetzee, Carl Büchner en Tim Morris. Een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde kortverhaalskrywers, Abraham H. de Vries skryf oor die boek: "Dit gebeur soms dat 'n mens 'n boek nog in manuskripvorm te lese kry waarvan jy weet hierdie boek gaan baie mense nog baie plesier besorg. Nie net oor die inhoud nie, nie net omdat dit uitstekend geskryf is nie, nie net vir nuwe inligting daarin nie, dis al dié eienskappe wat saamwerk. Stories teen my muur is 'n uniekie biografie in die vorm van 'n versameling uitstekend vertelde stories." Strydom het in 1968 sy laaste pasiënt in Heidelberg behandel na hy sy pa se meubelbesigheid, Strydom en Jordaan in George gekoop het. Hy het die meubelsaak met hom en sy argitekvrou, Helene, se groot liefde gekoppel. Só het die Strydom Galery ontstaan en die skrywer erken - met meer as 'n tikkie trots - dat hy sy eie beste kliënt was. Die laaste uitstalling by Strydom Galery was in Desember 2013. Bestel jou kopie van Stories teen my muur by [email protected] . Die verkoopprys is R298 plus R30 posgeld (binnelands). Plaaslike kopers wat die posgeld wil spaar, sou dit op afspraak by Matthys Stydom kan afhaal. Kontak hom by 083 627 6773. Koop die boek. Jy sal baie bly wees jy het. ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GEORGE HERALD-REDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/179497/Strydom-Galery-herleef-in-nuwe-boek
2017-01-05 15:00:00
Pacaltsdorpers vies oor staanplek buite hub
Argitek, Brian Stokes (links) en George-burgemeester, Melvin Naik, tydens die opening van die George Transport hub. GEORGE NUUSFLITS - ‘n Hoop klagtes het onlangs van Pacaltsdorp se GO GEORGE passasiers ingestroom, omdat hulle in wind en reën langs die hub in Cradockstraat vir hul bus moes wag. Die ontevrede passasiers reken hulle moet in die nat en koue vir ‘n bus wag terwyl daar reeds ‘n terminus vir Thembalethu in die hub is - alhoewel die roete nog nie aktief is nie. Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag bevestig dat alle passasiers welkom is en aangemoedig word om die fasiliteite van die Hub te gebruik. Dit sluit in geriewe soos die toilette en onderdaksitplekke wanneer hulle tyd moet verwyl in die middedorp terwyl hulle wag vir die aankoms van hul busse. Op 'n navraag oor die passasiers wat in die reën gewag het, was die antwoord as volg: "Hulle was baie welkom om in die hub te wag tot dit tyd is om te gaan aantree vir hulle verwagte busse, hoewel daar reeds tydelike skuilings by die drie Mispel-bushaltes waar die Pacaltsdorp-busse stop, aangebring is. ‘n Groter tipe permanente skuiling is deel van die beplanning vir al die bushaltes in die omgewing van die Hub, sodat alle passasiers skuiling teen die son, reën en wind kan geniet terwyl hulle wag." Lees meer in môre se George Herald, asook aanlyn. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/180115/Pacaltsdorpers-vies-oor-staanplek-buite-hub
2017-01-18 07:00:00
Toe koning Nebukadnesar vir Sadrag, Mesag en Abednego in die vlammende oond gegooi het, het God hulle daar uitgebring, sonder dat hulle hare verskroei was of dat hulle selfs bietjie na rook geruik het. Ons het al almal mense teëgekom wat 'bietjie na rook ruik.' Hulle houding sê, 'Ek is deur 'n moeilike tyd, en ek is nog steeds ontsteld daaroor.' Wat van jou? Het jou ervarings jou hart verhard of versag? Wanneer jy praat, klink jy positief of negatief? Word jy deur die herinneringe van jou verlede gevange gehou? Praat jy met enigeen wat sal luister oor jou pyn? Sien jy nie wat jy besig is om te doen nie - jy ketting jouself aan die verlede vas! Wanneer sirkus olifante jonk is en nie bewus is van hulle eie krag nie, word hulle aan 'n pen in die grond vasgemaak om hulle bewegings te beperk. Later wanneer hulle volgroeid is en die krag het om die ketting te breek, bly hulle daaraan vasgemaak. Hoekom? Omdat hulle hierdie beperking as permanent aanvaar het! Dit is egter nie die ketting wat hulle vashou nie, dis die herinnering! As jy deur pynlike herinneringe vasgeketting word, is die woord vir jou vandag: 'Here ons God, ander het oor ons regeer, maar ons aanbid U alleen. Dié wat ons gedien het, is nou dood en weg. Hulle sal nooit weer terugkom nie! U het hulle aangeval en hulle vernietig, en hulle is lankal vergete' (Jesaja 26:13-14). Jy moet jouself vrymaak van die herinneringe wat jou vashou. Deur op God se Woord te staan, aktiveer jy die krag daarvan om jou vry van jou herinneringe te maak.
http://www.georgeherald.com/viewblog/1730/Wanneer-jy-iemand-waarlik-vergewe-het
Wanneer jou gedagtes, aksies en planne deur God goedgekeur word, sal Hy dit bevestig deur jou 'n innerlike 'wete' te gee (sien 1 Johannes 2:20). Die Bybel sê: 'Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees. As lede van een liggaam is julle tot vrede geroep...' (Kolossense 3:15 NLV). Wanneer jy deur God gelei word, sal jy selfs in moeilike omstandighede 'n gevoel van vrede hê. Wees egter waaksaam teen valse vrede. Soms is jou begeerte om 'n sekere ding te doen so sterk dat dit 'n valse gevoel van vrede sal skep, wat deur jou opgewondenheid oor die idee veroorsaak word. Soos die tyd verbygaan sal hierdie valse vrede verdwyn, en sal God se ware wil te voorskyn kom. Wag dus daarvoor. As 'n reël moet jy nooit te vinnig met belangrike besluite beweeg nie. Die Bybel sê, '...as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede.' Moet dus nie voortgaan as jou innerlike vrede nie kan byhou by dit wat jy dink of hoor nie. Jy hoef nie aan ander te verduidelik hoekom jy nie vrede daaroor het nie; inteendeel, soms sal jy self nie weet hoekom nie. Sê net, 'Ek voel nie dat dit raadsaam vir my is om hierdie op hierdie tydstip te doen nie, want ek het nie vrede daaroor nie.' Daar is krag daarin om vrede te hê. Nog een ding: Sodra jy weet dat jy duidelik van God gehoor het, doen alles in jou mag om jou vrede te behou, en moenie angstig word nie.
http://www.georgeherald.com/viewblog/1722/Moenie-sonder-vrede-voortgaan-nie
In standerd 3 het my maatjie se huis afgebrand. Die skool het pas uitgekom. Pikswart rookwolke het soos 'n verhongerde draak bokant hulle huis se dak gehang. Dit was enkele minute, toe is alles verslind. Ons was verpletter. Nie so seer oor hulle verlies nie, maar omdat hulle van die min mense was wat 'n swembad gehad het. Vir maande lank was ons pret bederf. Kort voor lank was ons almal ewe opgewonde oor hulle "hele huis wat oorgedoen sou word". Maar die tannie se gesig het 'n ander storie vertel. Een van verlies waarvoor nuwe matte, teels en huisraad nie sou vergoed nie. Haar somme het uitgewerk op 'n heelwat gewigtiger bottom line as waarvoor die assessor voorsiening gemaak het. Desember 2016 en Januarie 2017 sal in die annale opgeteken bly as die tyd waartydens groot dele van die mooiste Kaap in ligte laaie was. In Mosselbaai en omstreke was daar benoude oomblikke in veral Danabaai, terwyl boere in Ruiterbos en Brandwag eweneens swaar geleef het. Die gesmeul het skaars bedaar, of dit was Somerset-Wes en Paarl se beurt om deur te loop. In die Paarl, is wynplase en ander geskiedkundige geboue, soos die Afrikaanse digter Totius se huis, in puin gelê. En steeds was dit het einde niet. Die vuur se aptyt was teen Woensdag steeds nie geblus nie, met brandbestryders wat in Kaapstad moes bontstaan om by tye op 11 verskillende plekke tegelyk die vlamme se strooptog te stuit. 'n Tientalle mense moes hulle huise ontruim. Wat probeer jy red as die vlamme so aan jou lewe kom lek? In 'n onderhoud met 'n brandweerman van by die 40 jaar, het ek hierdie vraag gevra. Sy antwoord was prakties. Onemosioneel. "Hou jou dokumente, jy weet ID's, paspoorte, geboortesertifikate êrens byderhand waar dit vinnig bereikbaar is. Dit maak die herbou van jou lewe net soveel makliker." Ofskoon dit 'n sobere antwoord op my brandende vraag was, was ek onvergenoegd. Jare nadat my maatjie-hulle se swembad sy aantrekkingskrag verloor het, het haar ma eenkeer glo aan 'n vriendin beken - "my trou-album... ek wens ek het my trou-album gegryp ... en foto's van die kinders toe hulle klein was ..." In die fliek Heat sê Robert de Niro met berekende kalmte: "Don't let yourself get attached to anything you are not willing to walk out on in 30 seconds flat if you feel the heat around the corner." Makliker gesê as gedaan. Baie makliker. DEUR CORNELLE CARSTENS
http://www.georgeherald.com/viewblog/1720/Vuurdoop
Jean lei SA Jongspan
Jean du Plessis, krieketkaptein van die SWD o.18-skolespan, is ná afloop van die Coca Cola Khaya Majola nasionale krieketweek in Bloemfontein as kaptein van die SA Jongspan aangewys. Foto; Sydney Seshibedi/Gallo Images SUID-KAAP NUUS - Jean du Plessis, krieketkaptein van die SWD o.18-skolespan, is ná afloop van die Coca Cola Khaya Majola nasionale krieketweek in Bloemfontein as kaptein van die SA Jongspan aangewys. 'n Onoorwonne honderdtal vir Du Plessis (104*) in SWD se wedstryd teen Noord-Kaap het sy plek in die span verseker. Du Plessis, 'n leerling aan Glenwood House op George, wat ook verlede jaar lid van die SA Jongspan was, het dié span aangevoer teen die SA Skolespan in die wedstryd wat tradisioneel ná afloop van die toernooi beslis is. In dié wedstryd, wat verlede Woensdag op die Mangaung Ovaal in Bloemfontein beslis is, het die SA Skolespan maklik met 6 paaltjies koning gekraai nadat hulle die Jongspan vir slegs 85 lopies uitgeboul het. Du Plessis (19) was sy span se beste kolwer. 'n Blink toekoms word vir hom voorspel. Hy het reeds vroeër die seisoen vir die SWD se senior span in die Afrika Twintig20-reeks gespeel en hy presteer ook op die hokkieveld as lid van die SA 0.19-hokkiespan wat Australië vroeër vanjaar in 'n reeks verslaan het. Sy jonger broer, Arnaud, was vanjaar die kaptein van die SWD o.13 skolespan. Volgens Rudy Claassen, president van SWD-krieket, onderstreep Du Plessis se prestasie die sukses van dié unie se hoëprestasie- en ontwikkelingsprogramme. "Sedert Waldo Lategan in 2007 het SWD daarna nog elke jaar spelers in òf die SWD Skolespan òf die SWD Jongspan opgelewer. Ander provinsiale spelers wat hierdie prestasie vermag het, sluit Brendon Louw en Marcello Piedt in. Albei spelers is tans deel van die SWD se senior provinsiale span. Albertus Kennedy, bestuurshoof van SWD-krieket, sê daar is seker gemaak dat Du Plessis nie vir die provinsie verlore sal wees nie. "Jean sal in 2017 'n graadkursus by die George-kampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit volg en hy sal ook deel wees van die 2017-inname van die SWD-krieketakademie. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Cricket/179381/Jean-lei-SA-Jongspan
2017-01-05 09:00:00
Die afgelope paar jare is die Zuma en Nkandla-debat goed deurgetrap in die media en deur landsburgers. Ek het die afgelope vakansie my hartsland, Namibië besoek en was dit opvallend hoe dié Afrika-land uitstaan bo ander. Met die verbyry by die ampswoning van Hage Geingob, president van Namibië in Windhoek het die vraag by my ontstaan wat die verskil is tussen dié woning en Suid-Afrika se omstrede Nkandla. Terwyl Suid-Afrikaners se sakke geskud is vir Nkandla, het die Staatshuis Namibiërs nie 'n sent gekos nie. Dit is tussen September 2000 en Maart 2008 gebou deur die Sjinese regering as geskenk aan die Namibiese volk teen 'n bedrag van N$400 miljoen. Geingob se woning met woonplek vir personeel en sekuriteitspersoneel beslaan 25ha wat omring is met 'n twee kilometer staalheining. Daar is landingsplek vir twee helikopters, asook woonplek vir amptelike gaste. Die perseel word goed onderhou en trek die onderskeie beelde van wilde diere dadelik die aandag. Op elke hoek is 'n toring vir sekuriteit. Die verskil tussen Nkandla en dié Staatshuis is dat Geingob begeleide toere toelaat. Die Staatshuis is vir heelwat Namibiërs 'n trots waar dit uitkyk oor die hoofstad van die land, Windhoek. Zuma is onpopulêr terwyl Geingob geliefd is onder landsburgers en het slegs eén vrou in plaas van die vier vroue waarmee Zuma getroud is (hy was al ses keer getroud - een vrou het gesterf en een het van hom geskei). Geingob is in 2015 met Monica Geingos getroud en het dié eerste dame reeds landsburgers beïndruk. Sy stel haar privaat telefoonlyn een keer per week oop vir 'n uur wanneer jongmense haar kan kontak vir advies oor seks, swangerskap en seksuele oordraagbare siektes. Die Geingob-egpaar is betrokke by hul landsburgers en stel hul belange eerste - geen duur oorsese reise of verblyf nie - plat op die aarde mense wat daadwerklik 'n verskil maak. Volgens berigte in die Namibiese pers het Geingob nie sy dogter se troue bygewoon nie omdat sy uit die stam getrou het, maar het hy wel die gevraagde Lobola betaal en een van sy ministers gestuur om hom by die troue te verteenwoordig. In Namibië word wetteloosheid dadelik aangespreek, infrastruktuur word onderhou en lyk al die paaie splinternuut. Geingob gee gehoor aan landsburgers, terwyl Zuma verhewe is bo die gewone landsburger. In Suid-Afrika is die Zuma-debat reeds tot vervelens toe geopper - of hy dit ooit sal regkry om respek terug te win is 'n omonwonde nee. Wat Nkandla betref sal dit waarskynlik nooit oopgestel word vir landsburgers om te besoek nie. Nkandla en Zuma sal waarskynlik aangeteken word in die anale as een van die grootste kopsere wat ons land nog beleef het.
http://www.georgeherald.com/viewblog/1721/Die-verskil-tussen-Zuma-en-Geingob
En daar na die eerste paar dae aan bewind, het die Amerikaanse president, Donald Trump behoorlik die daad by die woord gevoeg. Die wêreld behoort inderdaad verras te wees, want die man doen immers wat hy sê. Miskien is dit juis die probleem. Ure na sy inhuldiging, is 'n dramatiese koersaanpassing wat betref klimaatsverandering aangekondig. An America First Energy Plan is op die Wit Huis se webtuiste gepubliseer. Hiervolgens is daar twee hoofelemente wat waarskynlik die skrif aan die muur beteken vir Obama se nalatenskap. Dit sluit in The Climate Action Plan wat daarop fokus om internasionaal op die voorgrond te tree om die klimaat te beskerm. The Waters of the US, 'n ontwikkelingsplan in pas met die Amerikaanse weermag en omgewingsagentskappe, gaan ook glo in die stof byt. Want sien, Trump wil die steenkoolbedryf laat herleef. Hy wil alle onontginde skaliegas, olie en natuurlike gasreserwes bykom. Is dit neusie verby vir die vorige adminstrasie se doelwit om skadelike emissies teen 2030 met 40% te sny tot onder die vlakke aangeteken in 1990? Ook Obamacare het sommer op inhuldiginsdag al 'n ligte, dog besliste skoppie in die ribbes gekry. Kleinskaal vervaardigers van produkte slaag egter 'n sug van verligting, want Trump het belowe dat vir elke regulasie wat gemaak word, hy twee sal elimineer. So gesê, so gedaan op 24 Januarie. Die eindfluitjie het waarksynlik ook geblaas vir diegene skuldig aan die misbruik van visaprogramme, toe Trump op 25 Janaurie die uitvoerende bevel teken vir die beplande muur op die Meksikaanse grens. Braam Hanekom van die Sentrum vir Publike Getuienis meen dat die "verregsing" in Amerika nie noodwendig beteken dat dinge "verregs" beginne raak nie. Maar die slagspreuk "America first", is kommerwekkend. Syns insiens is Amerika 'n wêreldmoondheid wat "God ryklik geseën het" sodat hulle, 'n bydrae tot die welsyn van ander lande kan maak. In 'n radio-onderhoud word hy gepols is oor die potensiële gevaar van die mantra "America first". Hy meen dat dit presies hierdie tipe ideologië is wat beide wêreldoorloë veroorsaak het. Maar – voeg hy dan by – daar is twee moontlikhede wat geskep kan word: verderde verdeeldheid óf dit kan 'n katalisator vir vrede wees. "Gee die man 'n kans," pleit hy en voeg dan effens wrang by, "dit is ook wat ons gesê het toe President Zuma aan bewind gekom het en kyk waar het dit ons gebring." Saam met die nuus van Trump se segetog van beleidsveranderings, kom die beeldmateriaal van massas betogende vroue wat steeds nie sy presidentskap kan aanvaar nie. Onder hulle, is ons eie Charlize Theron, in trane, saam met 'n rits ander celebs. Wel – die teerling is gewerp ongeag wat op die derduisende betogers se plakkate geskryf staan. Wat President Trump betref, is dit soos water op 'n eend se rug. Tande is gewys vir handel met die Ooste, tekenend daarvan dat Trump se blaf toe nie erger is as sy byt nie. Op 23 Januarie word dokumente onderteken wat Amerika se ontrekking aan die 12 nasie Trans-Pacific Partnership aandui.(Duck, it's Donald! Wie dit ookal uitgedink het, 10 uit 10.)
http://www.georgeherald.com/viewblog/1731/Links-regsvoorwaarts-mars
Voormalige Mej Wêreld skenk geboorte in George
Generiese foto geneem deur Melanie Mareé. GEORGE NUUS - Die voormalige skoonheidskoningin van Bloemfontein, Rolene Strauss, wat in 2014 as Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld gekroon is, het verlede Sondag 8 Januarie in die George Mediclinic geboorte gegee aan 'n seuntjie. Sy en haar man, D'Niel Strauss, was met vakansie in Hartenbos saam met hul ouers tydens die Desember-vakansie. Op haar Facebook-profiel verwelkom Strauss hulle "klein prinsie". So lui haar inskrywing: "Jy het ons harte gesteel en gevul met die grootste liefde en vreugde denkbaar. Ons is almal gesond, gelukkig en vir ewig dankbaar vir ons 4.18 kg bondel van vreugde. My klein seuntjie, die wêreld is jou oester..." Altesaam 17 000 Facebook-gebruikers het op haar inskrywing gereageer. Strauss en haar man het in 'n onlangse gesprek met die gesinstydskrif, Die Huisgenoot, gesê dat hulle nooit kon droom dat 'n mens soveel liefde vir "so 'n klein, perfekte mensie" kan hê nie. Strauss het gesê dat sy besef dit gaan 'n aanpassing wees om haar studies vandeesweek weer voort te sit, maar dat sy 'n ongelooflike ondersteuningsnetwerk het en weet "dit is meer as moontlik". Strauss is 'n finale jaar mediese student. In die onderhoud het D'Niel Strauss die ginekoloog, dr. Iniel Hattingh en die personeel van George Mediclinic bedank vir hul vriendelike en professionele diens. Bestuurder van die George Mediclinic, Kassie Karstens, wou by navraag nie die geboorte bevestig nie. Judy Muller, woordvoerder van die George Mediclinic, het by navraag gesê, "Hulle is baie private mense en het gesê hulle wil nie publisiteit hê nie." ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/179906/Voormalige-Mej-Wereld-skenk-geboorte-in-George
2017-01-12 16:00:00
Die mees traumatiese ervaring waaraan ek myself van tyd tot tyd moet blootstel is om n nuwe foon te kry. Al die jare het ek 'n wonderlike verhouding met fone met knoppies opgebou en onlangs moes ek finaal my getroue ou BlackBerry groet vir 'n nuwe ding met 'n plat swart gesig, 2 keer groter as my BlackBerry met geen knoppie in sig nie. Dis traumaties. Ek dink ek gaan vir hom 'n sakkie met bubble wrap maak, want as ek so na die fyn plat gedroggie kyk gaan hy nie een dag hou in my garage tussen die saagsels of twee dae in die tuin as ek messel en grou nie. En skielik moet ek ook nou worry oor data? Met my BlackBerry het ek als gedoen en nooit bekommerd gewees oor data bundles en goed nie. Is daar iewrs 'n BBA (BlackBerry Anonymous) waarby ek kan aansluit? "Hallo my name is Hannes and I am a BlackBerryholic..."
http://www.georgeherald.com/viewblog/1724/BlackBerryholic
Mosselbaaier in SA span vir hokkie
Die 16-jarige Nicci Claassen van Mosselbaai is in die SA binnenshuise-hokkiespan opgeneem. SUID-KAAP NUUS - 'n Mosselbaaier, Nicci Claassen (16), is gedurende Desember in die Suid-Afrikaanse binnenshuise-hokkiespan opgeneem. Nicci, 'n oudleerder van Milkwood, is 'n graad 11 leerder en koshuisinwoner van Hoër Meisieskool Eunice in Bloemfontein. Sy spandeer haar vakansies by haar ouerhuis op Mosselbaai. Vanjaar se nasionale toernooi vir die o/16 binnenshuise-hokkiespan het vanaf 12-16 Desember in Kaapstad plaasgevind. Hokkiespelers van die Southern Cape Sables, onder leiding van Erica Combrinck van Mosselbaai, het aan die toernooi deelgeneem. Meer as 2 000 spelers was by die uitdunne betrokke. Dit is tydens hierdie toernooi wat Nicci tot die nasionalespan verkies is. Sy is boonop ook die eerste Sables-speler wat hierdie prestasie behaal. Nicci sê voordat sy na die Hoër Meisieskool Eunice is, was sy 'n leerder aan Hoërskool Punt. "My ma was 'n Vrystaat- en Kovsies-hokkiespeler en my pa 'n Suid-Afrikaanse skolerugbyspeler, so ek het beslis my sporttalent van hulle geërf." Nicci speel sedert graad 1 hokkie en dit is haar gunsteling sport. "Binnenshuise-hokkie is baie vinniger en meer opwindend as veldhokkie." Die sport word in 'n binnenshuisesentrum gespeel en spelers het dunner stokke as in veldhokkie. Die bal is ligter en die oppervlakte gladder. Daar is vyf spelers in elke span en die reëls verskil ook van veldhokkie. "Ek is bevoorreg om deel van die SA-span te wees want ek weet van hoeveel ander meisies wat ook in die span sou wou wees. Dit het harde werk geverg." Volgens Nicci het binnenshuise-hokkie nie vaste posisies nie omdat die spel so vinnig verander. Sy sê sy speel dus meeste van die tyd in die middel. Nicci sê hoewel sport vir haar belangrik is, kom akademie altyd eerste. "Ek hardloop en oefen wanneer ek kan, al is dit net 30 minute per dag. Saterdae doen ek fiksheid en stokwerk saam met my span. My ouers sit geen druk op my om te presteer nie, maar ondersteun en motiveer my." 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Other/179470/Mosselbaaier-in-SA-span-vir-hokkie
2017-01-06 13:00:00
Vreemde gedierte in Vaalrivier gewaar
'n Omstander het gesê dat dit gelyk het of die gedierte iets gevang het. Die eerste waarneming was net so na 16:00 aan die oorkant van die rivier by Edge of the Vaal waar die gedierte volgens inligting tussen die bome in die water in geseil het. Volgens mense wat in die omgewing was, het die dier tande en is groter as ‘n krokodil. Een omstander het gesê dit is “definitief ‘n krokodil”. Ander sê weer dit is ‘n reuse-waterlikkewaan. Foto’s is geneem maar mens kan nie duidelik op die foto sien wat dit was nie. NASIONALE NUUS - ‘n Vreemde gedierte is Maandag 16 Januarie in die Vaalrivier deur verskeie mense waargeneem.
http://www.georgeherald.com/news/News/National/180042/Vreemde-gedierte-in-Vaalrivier-gewaar
2017-01-17 10:00:00
N2-ongeluk: Slagoffer Sondag ter ruste gelê
Johnathan Ferreira. Foto: Verskaf. GEORGE NUUSFLITS - Johnathan Ferreira (34) van Pacaltsdorp word Sondag ter ruste gelê. Ferreira is verlede Saterdagaand ernstig beseer is in 'n ongeluk op die N2-snelweg en het kort na sy aankoms by die George-hospitaal gesterf. Hy was 'n drywer by die George vereniging vir persone met gestremdhede (VPG). Ferreira, sy passasier David Charlie, en 'n jong seun was onderweg na George toe Ferreira beheer oor die silver Colt-bakkie verloor en dit gerol het. Charlie, het ernstige hoofbeserings opgedoen. Hy is steeds in ‘n kritieke toestand in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Die huisdiens vir Ferreira sal om 11:00 by Rosestraat 25, Pacaltsdorp gehou word, gevolg deur die kerkdiens om 12:00 by die Ou Apostielse-kerk in Pacaltsdorp. Klik hier vir vorige artikels: 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/179916/N2ongeluk-Slagoffer-Sondag-ter-ruste-gele
2017-01-13 09:00:00
Sy het Europa deurkruis, maar oos, wes, tuis bes
Marti Geldenhuys het Europa verken en 16 jaar daar gewoon, maar die verlange het haar oorval en nou is sy bly om weer wortel te skiet in George. Sy skilder tans vir die vale en haar kenmerkende helder blomme is te sien in Caloroso Café in Meadestraat George. GEORGE NUUS - Om vir 16 jaar in Engeland, Wallis en Skotland te werk en woon was vir Marti Geldenhuys wonderlik. As mens dink dat dit al moeiliker raak vir Suid-Afrikaners om in Brittanje te werk was sy waarlik bevoorreg. Dit was 'n blote sameloop van omstandighede wat daartoe gelei het dat sy in die toerismebedryf oorsee beland het en daardie stimulasie het haar die inspirasie gegee om weer te begin skilder. Haar heel eerste uitstalling was in Skotland waar sy die mense besonder vriendelik ervaar het. Marti het goeie herinneringe aan die vele vriendskappe wat sy as ontvangsdame by verskeie oorde van ‘n bekende tyddeelfirma gesluit het. "Meeste gaste het goed gereageer as 'n mens hulle 'n warm verwelkoming gee. Veral reisigers van die buiteland wat vir die eerste keer in die vreemde tuisgaan was ongelooflik dankbaar vir die praktiese aanwysings wat jy vir hulle gee om te sorg dat dit alles 'n heerlike ervaring is." Marti was ook gelukkig om saam met haar vriendin, Yvonne Schmick, te werk en te reis. So het sy die geleentheid gehad om Duitsland, Portugal, Spanje en Kreta te ervaar. Op hulle afdae het hulle die pragdorpies van Brittanje en Europa gaan verken. Dit was fantasties om die mooiste plekke te ontdek. Meeste van die tyd is egter in Wallis deurgebring waar sy dan ook aan verskeie kunsuitstallings deelgeneem het. Sy het met bekende Walliese kunstenaars, onder andere Anthony Richards en Dorian Spencer Davies, uitgestal in Carmerthenshire in The CornerHouse Gallery. "Ek het na 16 jaar in die buiteland erg na ons land en sy mense verlang en besluit om terug te keer. Na ‘n paar maande terug in George, is ek steeds ongelooflik bly om terug te wees en nie vir ‘n oomblik spyt nie." Marti het met mening weer begin skilder aan haar helderkleurige landskappe, plante en reuseblomme soos die koningprotea. Sy werk in akriel en het 'n kenmerkende aanslag wat haar opleiding in grafiese kunste toon. Sy was een van die deelnemers van die uitstalling in Wilderness Hotel in Desember. Haar werk is tans te sien by Caloroso Café in Meadestraat George. Marti het gewoon in Laugharne in Wallis waar die see elke dag anders gelyk het en waarvandaan die digter Dylan Thomas gekom het. ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Sy het planne om selfversorgend te leef in die Tuinroete en sover moontlik die bou van haar huis self aan te pak.
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/180654/Sy-het-Europa-deurkruis-maar-oos-wes-tuis-bes
2017-01-24 13:00:00
Strydom Galery herleef in nuwe boek
Die stigter en voormalige eienaar van die Strydom Galery, Matthys Strydom het 'n wonderlike boek die lig laat sien waarmee hy die galery, die kunstenaars en kunswerke laat herleef. GEORGE NUUS - Vir talle mense - en dit sluit in kunsliefhebbers van dwarsoor die land - wat steeds met groot heimwee terugdink aan die voormalige Strydom Galery in George, is daar uitstekende nuus. Die stigter en voormalige eienaar van die Strydom Galery, Matthys Strydom het 'n wonderlike boek die lig laat sien waarmee hy die galery, die kunstenaars en kunswerke laat herleef. In Stories teen my muur verweef Strydom staaltjies oor hoe hy sekere van sy gunstelingkunswerke bekom het met sy ontmoetings met die kunstenaars - en sonder dat hy daarmee te koop loop, deel hy in die proses baie van sy kunskennis met die leser. Strydom is een van Suid-Afrika se bekendste kunskenners en -versamelaars en sy kennis en heerlike skryfstyl maak Stories teen my muur 'n moet vir alle Suid-Afrikaners wat die Strydom Galery in Markstraat besoek het en dit steeds mis. Strydom, 'n voormalige dokter en steeds 'n kranige beesboer, se lekker, eerlike, dog deernisvolle vertellinge maak dat jy die boek moeilik neersit. Afdrukke van sy 'stories teen die muur' word by elke vertelling in die boek ingesluit en 'n kort CV van elke kunstenaar verskyn aan die einde van elke hoofstuk. Die 26 kunstenaars in die boek sluit in Gregoire Boonzaier, Irma Stern, Christo Coetzee, Carl Büchner en Tim Morris. Een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde kortverhaalskrwers, Abraham H. de Vries skryf oor die boek: "Dit gebeur soms dat 'n mens 'n boek nog in manuskripvorm te lese kry waarvan jy weet hierdie boek gaan baie mense nog baie plesier besorg. Nie net oor die inhoud nie, nie net omdat dit uitstekend geskryf is nie, nie net vir nuwe inligting daarin nie, dis al dié eienskappe wat saamwerk. Stories teen my muur is 'n uniekie biografie in die vorm van 'n versameling uitstekend vertelde stories." Die laaste uitstalling by Strydom Galery was in Desember 2013. Bestel jou kopie van Stories teen my muur by [email protected] . Die verkoopprys is R298 plus R30 posgeld (binnelands). Plaaslike kopers wat die posgeld wil spaar, sou dit op afspraak by Matthys Roets kan afhaal. Kontak hom by 083 627 6773. Koop die boek. Jy sal baie bly wees jy het. Hierdie steelfoto van Matthys Strydom is deur sy seun Johan geneem. ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GEORGE HERALD-REDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Strydom het in 1986 sy laaste pasiënt in Heidelberg behandel na hy sy pa se meubelbesigheid, Strydom en Jordaan in George gekoop het. Hy het die meubelsaak met hom en sy argitekvrou, Helene, se groot liefde gekoppel. Só het die Strydom Galery ontstaan en die skrywer erken - met meer as 'n tikkie trots - dat hy sy eie beste kliënt was.
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/179385/Strydom-Galery-herleef-in-nuwe-boek
2017-01-04 15:00:00
GO GEORGE: Busroetes verfyn na feestyd
'n GO GEORGE-bus. GEORGE NUUS - Met die aanpassings vir die feesseisoen wat op Saterdag, 7 Januarie 2017 tot ‘n einde kom, val GO GEORGE op Sondag 8 Januarie weg met nog roeteverfynings. Hierdie verfynings is gebaseer op passasiersaanvraag en optimalisering van die vervoerstelsel, en sluit etlike tydroosterveranderings, ‘n paar roeteveranderings of – toevoegings en verandering van bustipes in. Die goeie nuus is dat Roete 14 Pacaltsdorp – Industria voortaan deur groot busse bedien sal word tydens spitstye om seker te maak dat daar genoeg plek is vir passasiers, en dat Syferfontein-passasiers weer ‘n direkte roete, via Rosedale, dorp toe sal hê. Roete 1B Harmony Park – CBD: Die interval tussen busse tussen 15:00 en 18:00 is verklein van 30 minute na 20 minute, wat drie bykomende ritte gedurende die namiddagspitstyd beteken. Roete 60 Rosedale - CBD: Nuwe tydrooster Roete 9 Industria - CBD en Roete 14 Pacaltsdorp - Industria: Nuwe tydroosters is vir hierdie twee industriële roetes opgestel, en sekere ritte verander van rigting. GO GEORGE-helpers sal op die roetes wees om passasiers te lei en in te lig oor rigtingveranderings, hetsy kloksgewys of antikloksgewys. Gedurende oggenspitstyd op weeksdae, vertrek Roete 9 nou uit die middedorp om 06:00, 06:20, 06:40, 07:00, 07:20, 07:40 en 08:00. Roete 14 vertrek vanaf die Heather-bushalte om 05:30, 05:58, 06:32, 07:00, 07:32 en 08:02. Die eerste rit en elke alternatiewe rit wat hier genoem word, ry kloksgewys; die res ry antikloksgewys. Roete 12 Pacaltsdorp - Garden Route Mall: ‘n Ekstra oggendrit wat om 06:20 vanaf die Heather-bushalte vertrek, word bygevoeg. Gedurende oggenspitstyd op weeksdae, vertrek busse nou vanaf die Heather-bushalte om 06:20, 07:00, 07:40 en 08:20. Roete 2 Blanco - CBD: Die tydrooster wat gebruik is voor die vakansie-aanpassings van 18 Desember sal weer op hierdie roete geld. Roete 58 Heatherpark - Heatherlands: Nuwe tydrooster Roete 53 Rosemoor: Die duur van spitstydritte is verleng om aan te pas by spitstydbehoeftes en die ware aankomstyd van busse. Roete 53A Rosemoor sal nie meer as ‘n onafhanklike roete funksioneer nie, maar aanhaak by Roete 24 Loeriepark vir drie oggend- en drie namiddagritte op weeksdae. Hierdie Roete 2453A sal volgens die normale Roete 24 ry van die middedorp na die Garden Route Mall, waar dit sal oorskakel na die voormalige Roete 53A deur Rosemoor na die middedorp. Die oggendritte sal om 05:50, 06:50 en 07:50 uit die middedorp vertrek. Roete 53B Rosemoor het tot nou net Saterdae gery. Vanaf 8 Januarie sal hierdie roete ook van Maandag tot Vrydag ry, maar volgens ‘n ander tydrooster as Saterdae. Dit ry vanaf die Garden Route Mall, agterom Eden Meander met Parkweg langs, dan langs Triumphstraat, Millerstraat, Woltemadestraat, Beerstraat, Attakwastraat, Missionweg, Knysnaweg, Yorkstraat en Markstraat tot by die Rosemoor-halte in Cradockstraat. Die terugrit volg dieselfde roete. Twee nuwe bushaltes is in Rietbokstraat gebou vir passasiers op hierdie roete. Passasiers wat in die omgewing van Roete 53B woon, word aangemoedig om hierdie roete te gebruik en sodoende baie vinniger by hul bestemmings uit te kom as met die oorspronklike Roete 53. Twee nuwe roetes, 60A en 61A, sal voortaan die behoeftes van die Syferfontein-gemeenskap diens. Roete 60A Syferfontein - CBD (via Rosedale) sal by die Batallion-bushalte in Olympicstraat vertrek en via Beachweg Rosedale toe ry, en van daar af dorp toe. Van 05:30 tot 20:30 sal daar omtrent elke uur ‘n bus wees, met die laaste een wat uit die middedorp terugry, wat om 20:42 vanaf die Mispel-bushalte in Markstraat sal vertrek, sewe dae per week. ‘n Nuwe gemeenskapsroete, Roete 61A Syferfontein, word ook in werking gestel. Voor 12:00 sal hierdie roete by die Syfer-bushalte vertrek en links draai in Llamastraat om deur Delvillepark na die Panther-bushaltes te ry, vanwaar dit terugry via Square Hill- en Olympicstraat. Ná 12 sal die omgekeerde roete gevolg word deur links te draai in Square Hillstraat uit Olympicstraat. Hierdie roete ry van Maandag tot Saterdag, met ‘n bus wat elke 20 minute vertrek vanaf 05:05 tot 19:05. GO GEORGE-helpers sal by betrokke bushaltes en op busse wees om passasiers by te staan vanaf Maandag, 9 Januarie 2017. Vir enige navrae, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 tussen 05:00 en 21:30 daagliks. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Die nuwe tydroosters sal by bushaltes en op busse aan passasiers uitgedeel word, en kan ook op die GO GEORGE-webblad, www.gogeorge.org.za, besigtig word. Veranderde tydroosters vir die volgende roetes skop op 8 Januarie in:
http://www.georgeherald.com/news/News/General/179275/GO-GEORGE-Busroetes-verfyn-na-feestyd
2017-01-03 14:00:00
GO GEORGE baat by burgemeestersprojek
Die GO GEORGE-inligtingsbeamptes was by die vervoerkern (Hub) en het seker gemaak dat ‘n groepie leerders van PW Botha-kollege verstaan waar en wanneer hulle moet oorklim op die regte bus huis toe. GEORGE NUUSFLITS - ‘n Entoesiastiese span van 30 inligtingsbeamptes (in die omgang bekend as champions) is ontplooi om GO GEORGE-passasiers tydens die jongste reeks roeteverfynings in te lig en by te staan. Hierdie inligtingsbeamptes is deel van ‘n spesiale burgemeestersprojek om tydelike werksgeleenthede vir werklose inwoners in die gebiede waar die busdiens volgende moet uitrol, te skep. Suksesvolle aansoekers sal tydens die tydperk van die vastetermynkontrak nie net nuwe vaardighede ontwikkel nie, maar ook ervaring opdoen wat hulle goed te staan sal kom met toekomstige werksaansoeke. Terselfdertyd verdien hulle ‘n welkome toelaag gedurende hul praktiese opleiding, en ‘n salaris tydens die termyn van die kontrak. Die geleentheid is in Mei 2016 deur middel van ‘n oop proses in die plaaslike koerante geadverteer sodat die span gereed sou wees vir die beplande uitrol van Fase 4 van die busdiens na Thembalethu, Borcherds, Lawaaikamp, Conville en Parkdene in Julie verlede jaar. Werwing is ook gemik op mense wat geraak is deur die minibus-taxibedryf wat deur die busdiens vervang word en geregistreer is op die APR (Affected Persons Register), sowel as werklose individue wat deur die wyksraadslede van dié woonbuurte genomineer is. ‘n Groep van 44 kandidate wat aan die vereistes voldoen het (vier kandidate uit elkeen van die 11 munisipale wyke in Fase 4) is gekies vir opleiding in kommunikasievaardighede, met spesifieke fokus op gemeenskapinligting en -opvoeding. Die SETA-geakkrediteerde kursus sluit ‘n praktiese komponent wat voltooi moet word voordat die inligtingsbeamptes hul sertifikate kan ontvang, in. ie GO GEORGE-inligtingsbeamptes was by die vervoerkern (Hub) en het seker gemaak dat ‘n groepie leerders van PW Botha-kollege verstaan waar en wanneer hulle moet oorklim op die regte bus huis toe. Van links is Ntombi Hala (spanleier), Charollin Sparks, Shiwardene Smith, Althea Slater (‘n inligtingsbeampte wat opgelei is om gedurende die vakansieseisoen by die GO GEORGE-inligtingskiosk in die middedorp in te staan), Bernadict Sparks en Dieketseng Mosesane (spanleier). Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/180672/GO-GEORGE-baat-by-burgemeestersprojek
2017-01-24 14:00:00
Kwaggas se hamergooiatlete laat rekords spat
Barry Botha (seuns o.19) het Henry Störm se rekord van 48,94 m, wat hy in 2013 opgestel het, met bykans drie meter na 51,32 m verbeter. GEORGE NUUS - Dalk is daar iets in George se drinkwater of miskien eet hulle net baie spinasie, maar die spannetjie hamergooiers wat Maandag by Hoërskool Outeniqua se kleure-atletiekbyeenkoms in aksie was, het behoorlik die rekords laat spat. Vyf nuwe rekords is opgestel en sewe atlete het hul beste afstande nóg by dié kleurebyeenkoms gegooi. Barry Botha (seuns o.19) het Henry Störm se rekord van 48,94 m, wat hy in 2013 opgestel het, met bykans drie meter na 51,32 m verbeter. Een plek waar die seuns moet suutjies trap en konflik vermy, is in die dogters o.17-afdeling. Drie atlete het hul persoonlike beste afstande behaal. Die belowende Maretha Theron het hier geseëvier met 'n wenafstand van 39,03 m. By verlede jaar se kleurebyeenkoms, in die o.15-afdeling, het sy die hamer op 32,90 m laat grondvat. Nou, 'n jaar later, gooi sy 'n yslike 6,13 m verder. Sy het beslis lood in haar pype. Meike Strydom, 'n gewigstoter van formaat, was tweede in die o.17-afdeling met 38,44 m, ampertjies twee meter verder as haar wenafstand van 36,30 m wat sy by verlede jaar se kleurebyeenkoms, ook in die o.17-afdeling, behaal het. Die geluksgodin het haar rug op die arme Jana Botha gedraai toe sy die hamer 'n allemintige 43 m ver geslinger het, maar ongelukkig was dit buite die veld en tel dié gooi nie. Sy sou hier loshande gewen het, maar het nogtans 'n verdienstelike derde plek met 'n afstand van 36,40 m behaal. Hou haar maar dop. Nog 'n mannetjie wat vorentoe vir hom groot naam gaan maak, is Henry Tromp. Dié rooikop het in die o.15-afdeling met 'n afstand van 43,00 m gewen. Om dit in perspektief te stel: in 2016, in die o.14-afdeling, het hy die hamer op 30,82 m laat land. Om skraps 'n jaar later die hamer bykans 13 meter verder te gooi, wil gedoen wees. Dink net wat dié buks oor drie jaar met 'n hamer gaan aanvang. Ancois Jordaan het self puik vertoon deur die dogters se o.15-afdeling met 'n afstand van 31,75 m te wen. Dis 'n verbetering van oor die 6 meter op haar afstand in 2016 in die o.14-afdeling. Klompie ysters, dié hamergooitroepe van die afrigter, Jacques Wolfaardt. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' In die o.17-ouderdomsgroep het CJ Niemand ook Henry Störm se 2011-rekord van 51,25 m uit die rekordboeke gevee met 'n puik gooi van 54,58 m. Hou gerus dié knaap dop; hy gaan vorentoe onder die bestaande rekords maai.
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Athletics/181067/Kwaggas-se-hamergooiatlete-laat-rekords-spat
2017-01-26 10:00:00
Suid-Kaap Kinderkoor na buiteland genooi
Die bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor het 'n uitnodiging aanvaar om volgende jaar deel te neem aan die Olimpiese Spele van Koormusiek en het reeds begin met repetisies hiervoor. GEORGE NUUS - Die befaamde Suid-Kaap Kinderkoor, het vanaf 5 tot 7 Januarie by die NGK Moedergemeente in George, met hul nuwe lede begin voorberei om verdere wêreld-hoogtepunte te bereik. Dié uiters suksesvolle streeks-kinderkoor, wat, na 'n bestaan van twintig jaar, in Europa meer bekendheid as in Suid-Afrika verwerf het, het 'n uitnodiging aanvaar om as gaskoor tydens 2018 'n kompetisietoer van Ierland, België, Switserland en Italië te onderneem. Die jaarlikse werwing het reeds begin en die mees talentvolle sangers tussen die ouderdomme van 9 en 16, is reeds gekeur uit skoolkore in George, Mosselbaai, Hartenbos, Knysna en Oudtshoorn. Hul sal voortgaan om as ambassadeurs van koorsang in die buiteland op te tree. Dirigent, Jan-Erik Swart, vertrek in Julie na Barcelona in Spanje om die 11de IFCM Internasionale Konferensie van Koormusiek as genooide afgevaardigde by te woon. Die SKKK is 'n lidkoor van dié roemryke organisasie en word hoog op die wêreldranglys van kore aangeskryf. Sy M.Mus cum laude verhandeling (2013) is onlangs in 'n vooraanstaande internasionale akademiese musiekbundel gepubliseer, wat hom die geleentheid gebied het om sy doktorsgraad in koordireksie te voltooi. Intussen is hy uitgenooi om koorwerkswinkels in België en Nieu-Seeland tydens 2017 aan te bied. Tydens 2018, word die Olimpiese Spele van Koormusiek, die 10de Wêreldkoorspele in Tshwane aangebied, en sal die SKKK in drie kategorieë deelneem om hul 2014 wêreld 1ste, 2de en 4de plek te verdedig en te verbeter. Plaaslike gehore sal nietemin die geleentheid kry om die SKKK tydens 2017 in verskeie nabygeleë plattelandse dorpe, wat Stilbaai, Grootbrak, Knysna, Calitzdorp, George, Mosselbaai en Oudtshoorn insluit, te ervaar. Konsertdatums, plekke en kostes word op die koor se webtuiste, www.sccchoir.co.za , vertoon. Volgens Jan-Erik Swart lê die geheim van die Suid-Kaap Kinderkoor daarin dat jong mense van alle gemeenskappe van die Suid-Kaap die geleentheid gegun word om as internasionale kunstenaars erkenning vir hul talent te ontvang, en presteer hulle tot die beste van hul vermoëns omdat hulle 'n platform van ruim visie, ondersteuning en erkenning ontvang wat nie in die huidige onderwysstelsel beskikbaar is nie. Uiters begaafde oudkoorlede, wat Chanté van der Westhuizen en Brighitte Deister insluit, is sprekende voorbeelde van suksesverhale wat binne die SKKK ontstaan het. Skole en ouers in die Suid-Kaapstreek word genooi om met die Suid-Kaap Kinderkoor in verbinding te tree om talentvolle sangers die geleentheid te bied om aan die internasionale deelname van die SKKK deel te neem. Kontak die dirigent by 084 645 9320 of [email protected] om by die koor betrokke te raak. Die Suid-Kaap Kinderkoor bied jong mense van alle gemeenskappe die geleentheid om as internasionale kunstenaars erkenning te ontvang. Die bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor het 'n uitnodiging aanvaar om volgende jaar deel te neem aan die Olimpiese Spele van Koormusiek en het reeds begin met repetisies hiervoor. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/179635/SuidKaap-Kinderkoor-na-buiteland-genooi
2017-01-10 13:00:00
Brian Molefe word krimineel aangekla
Brian Molefe word krimineel aangekla Die DA het ‘n aanklag teen die beleërde bestuurshoof van Eskom, Brian Molefe by die Kaapstadse polisiestasie ingedien. Molefe word aangekla vir die oortreding van verskeie wette, onder meer die wet op die Bestuur van Openbare Finansies en die Voorkoming en Bekamping van Korrupsie. Molefe het sy bedanking aangekondig kort nadat hy by die voormalige Openbare Beskermer se verslag oor staatskaping betrek is. Die DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, Natasha Mazzone sê die feit dat hy bedank het, dui daarop dat daar heelwat vrae is wat hy moet beantwoord en dit beteken nie dat hy nie vervolg kan word nie. Eskom het die aanklag teen Molefe verwelkom. ‘n Woordvoerder van die kragvoorsiener, Khulu Pasiwe sê Molefe verwelkom enige geleentheid om sy naam in ere te herstel. Pasiwe sê hoewel daar ‘n geregtelike ondersoek moet kom, sal hulle met enige ander ondersoek saamwerk.
http://www.koerant.co.za/brian-molefe-word-krimineel-aangekla/
2016-11-17 19:16:49
Sjinese president Xi eerste Sjinese president wat WEF bywoon.
Sjinese president Xi eerste Sjinese president wat WEF bywoon. Van die wêreld se magtigste politieke en sakeleiers is in Davos in Switserland vir die 47ste jaarlikse Wêreld Ekonomiese Forum. Die Sjinese president, Xi Jinping gaan later vandag die meer as tweeduisend-sewehonderd afgevaardigdes toespeek tydens die amptelike opening van die vierdaagse byeenkoms. Xi is die eerste Sjinese president wat die WEF bywoon. Hy gaan praat oor globalisering en van Sjina se kommer oor dreigemente deur die aangewese Amerikaanse president, Donald Trump oor die moontlike opskorting van handelsooreenkomste. Van die leiers sal na verwagting ook praat oor ongelykheid en wat gedoen kan word om te verseker dat globalisering ook arm mense bevoordeel. Die Duitse minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier sê intussen Trump se uitlatings dat NAVO uitgedien is, het kommer laat ontstaan in die organisasie en is ook strydig met dié van die toekomstige minister van verdediging van die VSA. Steinmeier het gereageer op opmerkings deur die aangewese Amerikaanse president dat ander lande ‘n groter bydrae moet begin lewer tot veiligheidskwessies in die wêreld. Trump het ook gesê die besluit om meer as miljoen migrante toe te laat, was ‘n reuse fout. Die Duitse visekanselier, Sigmar Gabriel het teruggekap dat die VSA se onregmatige ingryping in die Midde-Ooste tot die vlugtelingkrisis gelei het.
http://www.koerant.co.za/sjinese-president-xi-eerste-sjinese-president-wat-wef-bywoon/
2017-01-17 07:20:50
Die Nuus in Afrikaans - Koerant.co.za
Tafelberg brand Twee helikopters gebruik waterbomme om die brand aan die hange van Tafelberg in die omgewing van Oranjezicht te probeer blus. Die brand het laat gisteraand begin en sommige inwoners van Vredehoek het vroeg vanoggend hulle huise ontruim. Twee strukture is volgens berigte in die brand beskadig. ‘n Woordvoerder van die brandweer, Liezl Moodie sê niemand is beseer nie, en dit is nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie. Sy sê brandbestryders sal vir die res van die dag op die toneel bly. Meer as 100 brandbestryders was vanoggend besig om die laaste vlamme te probeer blus van die brand.
http://www.koerant.co.za/tafelberg-brand/
2017-01-17 07:14:54
Stil na die wind
Stil na die wind Noudat die kers seisoen verby is, is dit asof daar ‘n wind gaan le het. Almal is stil, almal is sensitief. Die bohaai is daarmee heen, so ook die spaargeld. Nou is dit terug werk toe en terug skool toe, alles weer terug na normaal. Maar hoekom bly dit nie normaal nie? ek het nie ‘n ophef van die feesseisoen gemaak nie, net van Kersfees ja. Dis goed as die gees jou vang, dis ‘n wonderlike tyd, maar dit hoef jou nie met spyt te laat nie. Dis dieselfde storie jaar in en jaar uit, maar tog lief ons dit. Dit verander elke jaar met tyd, maar die struktuur bly dieselfde, net soos ons taal. Dit verander en groei, maar ons behou dit, koester dit. Ja die seisoen is nou verby, maar ons sien alweer klaar uit na die volgende een
http://www.koerant.co.za/stil-na-die-wind/
2017-01-17 07:25:58
Anika Smit moordverhoor vandag hervat
Anika Smit moordverhoor vandag hervat Die verhoor van André ‘Smiley’ van Wyk in verband met die moord op die Pretoriase tiener Anika Smit in 2010, hervat vandag in die landdroshof in Pretoria-Noord. Van Wyk, wat nou 24 jaar oud is, is verlede jaar ‘n tweede keer vir waarneming na die Weskoppies psigiatriese hospitaal verwys, nadat hy volgens ‘n distriksgeneesheer ná sy eerste verwysing nie geskik was om verhoor te word nie. Hy kon in daardie stadium nie beskryf wat op die dag van die moord gebeur het nie. Volgens die jongste verslag is hy nou gereed om verhoor te word. Ongeag daarvan dat Van Wyk vroeër beweer het hy kan niks van die moord op Smit onthou nie, het die finale psigiatriese verslag aan die landdroshof in Pretoria-Noord as volg bevind: “Geen psigiatriese diagnose. Die beskuldigde kan hofverrigtinge verstaan en kan betekenisvol tot sy eie verdediging bydra. Tydens die beweerde misdryf het die beskuldigde nie gely aan ’n geestesversteuring of -gebrek wat sy vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei kon beïnvloed nie.” Van Wyk het homself in September verlede jaar aan die polisie oorgegee in verband met die moord op die 17-jarige Smit, saam met wie hy op skool was.
http://www.koerant.co.za/anika-smit-moordverhoor-vandag-hervat/
2017-01-17 07:09:05
Die Nuus in Afrikaans
Noudat die kers seisoen verby is, is dit asof daar ‘n wind gaan le het. Almal is stil, almal is sensitief. Die bohaai is daarmee heen, so…
http://www.koerant.co.za/
2016-11-26 00:00:00
Aartskommunis Fidel Castro huldeblyke
Aartskommunis Fidel Castro huldeblyke Huldeblyke stroom in ná die dood van die voormalige Kubaanse leier, Fidel Castro wat vroeg Saterdagoggend Suid-Afrikaanse tyd in Havana gesterf het. Hy het Kuba vir bykans ‘n halfeeu lank regeer en was sedert 1959 aan bewind. Castro het in 2008 weens gesondheidsredes die mag aan sy broer, Raul oorhandig. Castro is terselfdertyd geloof en gekritiseer vir sy kommunistiese bestel en dat hy Amerika die rug gekeer het. Hy was onder andere ‘n vriend en vyand vir Suid-Afrikaners. President Jacob Zuma het sy medelye met die Kubaanse volk betuig. Zuma sê Suid-Afrika se bande met Kuba dateer terug tot die struggle-dae en die mense van Suid-Afrika sal nooit Kuba se steun en eensgesindheid gedurende hulle stryd om vryheid, vergeet nie. Die Nelson Mandela Stigting het sy simpatie met die Castro-familie betuig. Die bestuurshoof van die Stigting, Sello Hatang sê hulle het ‘n jaar gelede ‘n dokumentêre opname gekyk waarin Madiba Castro aangemoedig het om Suid-Afrika te besoek. Hatang sê Castro se lewe moet gevier word. Die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party, Blade Nzimande, sê daar is baie wat Suid-Afrikaanse leiers by Castro kan leer. Castro se grootste nalatenskap is gratis gesondheidsorg en onderwys. Nzimande sê Castro was ‘n unieke leier.
http://www.koerant.co.za/aardskommunis-fidel-castro-huldeblyke/
2016-11-26 16:27:33
WEES OP DIE UITKYK OP DIE SOSIALE MEDIA !
WEES OP DIE UITKYK OP DIE SOSIALE MEDIA ! Ek wil net graag vandag vir julle vertel van die nie blanke man wat voorgee dat hy n blanke dame is met n valse facebook profiel , hy “invite” meestal mans en stuur dan naak fotos en vra dan die man om n naak foto terug te stuur , sodra die man dit doen begin hy die man afpers deur te se hy sal dit reg oor die media plaas as jy nie geld in n rekening plaas nie , hy gaan deur jou vriende op facebook en stuur die fotos en vra as hul jou wil help moet hulle n betaling maak of hy verwoes jou lewe .
http://www.koerant.co.za/wees-op-die-uitkyk-op-die-sosiale-media/
2016-11-29 19:38:42
Ford sal klasaksie moet verweer oor Kugas
Ford sal klasaksie moet verweer oor Kugas Ford Kuga 1.6-eienaars wie se motors die afgelope jaar aan die brand geslaan het, staar nou ‘n klasaksie in die gesig deur 31 Kuga eienaars. Die prokureur van die familie van Reshall Jimmy wat in Desember 2015 naby George in die Suid-Kaap in sy Ford Kuga doodgebrand het, Rod Mantano, bring die klasaksie namens die 31 eienaars. Die Nasionale Verbruikerskommissie en Ford het enkele ure later aangekondig dat die 4 556 Ford Kugas met 1,6-liter-EcoBoost-enjins wat tussen Desember 2012 en Januarie 2014 gebou is, om veiligheidsredes almal herroep word. Jeff Nemeth, uitvoerende hoof van Ford (Suider-Afrika), het Maandag gesê Ford sal alles moontlik doen om die presiese oorsaak van die Kugas wat aan die brand slaan op te spoor.
http://www.koerant.co.za/ford-sal-klasaksie-moet-verweer-oor-kugas/
2017-01-18 06:32:44
Netwerk24
Jamie Bartlett, akteur en beoordelaar in SA’s Got Talent, is die naweek by ’n verkeerslig in Johannesburg oorval, beroof en in sy motor se bagasiebak gedruk.
http://www.netwerk24.com/
Dom Boer se lag vir die dag:
Leer liewer luister Heinie kom sonder sy sleutel by die huis. Aan die deur vasgeplak vind hy ‘n briefie van sy vrou: “Ek is winkels toe. Haal asseblief die wasgoed van die draad af.” Dikbek ignoreer hy sy vrou se versoek, loop om die huis om inkomplek te soek en breek uiteindelik maar ‘n venster om in te klim. Toe sy vrou by die huis kom, kerm hy oor die moeite en skade, maar sy is glad nie beïndruk nie. Liefies en koeltjies antwoord sy: “As jy so galant en verstandig was om te doen wat ek in my briefie gevra het, sou jy die agterdeur se sleutel in die eerste sokkie aan die draad gekry het.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-288/
2017-02-13 07:24:18
Dom Boer se lag vir die dag:
By die gradeplegtigheid Fotograaf: “Staan ‘n bietjie nader aan jou pa en sit jou hand op sy skouer.” Pa van pas gegradueerde: “Sal dit nie natuurliker lyk as hy met sy hand in my sak staan nie?
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-285/
2017-02-07 06:52:56
Herfs-kommandowurn: Gevaarlikste pes nóg
Die landboubedryf moes die afgelope tyd verskeie rampe hanteer, want as daar nie ‘n droogte is nie staar boere ‘n ernstige monster in die gesig, naamlik die herfs-kommandowurm (spodoptera frugiperda). Dit is ‘n uitheemse wurm wat al in Limpopo, Gauteng, Vrystaat en die Wes-Kaap opgemerk is en boere kan nie die uitbreking hiervan keer nie. “Ons weet nie presies hoe die wurm in Afrika optree nie, maar dit blyk dat die volwassenes hulle eiers op die mielies lê waar die larwes dan ontwikkel. Hulle loop (tot nou toe) darem nie in groot getalle nie,” sê Jan Hendrik Venter, wetenskaplike bestuurder by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se Plantgesondheidsdepartement. As mense hulle nie doodmaak nie sal hulle in volwasse motte ontwikkel, wat weer sal eiers lê. “Dit hang van die pes af, maar hulle sal òf nog ‘n lewensiklus afhandel en meer skade aanrig òf eers oorwinter òf eenvoudig doodgaan.” Die groot probleem is dat die gewone plaagdoder, piretroïed, nie die wurm vankant maak nie. Boere moet die aanbevole plaagdoders onmiddellik gebruik (sien skakel na aanbevole lys onderaan artikel), maar “verkieslik wanneer die mielieplant redelik jonk is aangesien die larwes diep in die blaar ingaan waar plaagdoder dit nie kan bykom nie. “Die aanbevole plaagdoders sal die plaag in ‘n sekere mate beheer, maar hulle is nog nie geregistreer nie. Plaagdoderverskaffers moet dringend aansoek doen om registrasie,” sê Jan Hendrik. Daar is ook ‘n Afrika-kommandowurm, maar die herfskommandowurm is skadeliker. Die Afrika-kommandowurm het sedert Desember groot skade aan oeste in Zambië, Zimbabwe en onlangs ook Malawi aangerig. Dit is oorspronklik vir groot verliese in Suid-Amerika verantwoordelik, maar is in 2016 die eerste keer in Wes- en Sentraal-Afrika opgemerk. Daar is wel geregistreerde plaagdoders vir die Afrika-kommandowurm, maar niks is nog geregistreer vir die herfs-kommandowurm nie, aangesien dit nog nooit in Suid-Afrika was nie. Die herfs-kommandowurm vreet net mielies. “Dit het ‘n wye gasheerreeks, maar as dit inderdaad die herfs-kommandowurm is wat skade doen in Suid-Afrika, is dit sover net ingesamel uit mielies, maar meer op suikermielies, mielies vir saadproduksie en kleinskaalse produksie,” sê Jan Hendrik. Wetenskaplikes van die LNR en Noordwes-universiteit het ook monsters gekry vir identifikasie. Die insek moet sy hele lewensiklus voltooi voor ‘n positiewe identifikasie by die LNR Biosistematiek-afdeling gemaak kan word. Die lewensiklus van die herfs-kommandowurm van eier tot volwassene (mot) neem 24 tot 40 dae afhangende van weerstoestande en beskikbare kos. Die identifikasieproses sal begin sodra die motte uit papies ontwikkel. Die pesidentifikasie sal deur ‘n erkende spesialis in die taksonomie van die toepaslike insekgroep bevestig word, sê die Departement van Landbou. Aangesien die motte goeie vlieërs is, kan windstrome ‘n rol speel om hulle te help om oor groot afstande te versprei. Die Departement sê ook omdat die wurm nuut is, weet niemand watter langermyneffekte hy kan uitoefen nie. Dit mag ‘n migrasiepes wees wat verwant is aan die Afrika-kommandowurm en kan in groot getalle vanaf een gebied na ‘n ander migreer omskade aan te rig. Die Departement van Landbou het alreeds met rolspelers uit verskeie bedrywe koppe bymekaargesit om ‘n plan van aksie vas te stel. Die eerste stap is om die pes te bevestig en om akkurate inligting daaroor te bekom, daarna sal ‘n beheerstrategie in werking gestel word. Die grootste gevaar is dat die plaag dal verkeerd bestuur kan word. Dit kan lei tot weerstandigheid teen plaagdoders en tot verdere produksieverliese. Boere bestry soms Afrika-kommandowurm deur slote om die lande te grawe. Die wurms val daarin en kom nie anderkant uit nie. Volgens Jan Hendrik sal dit werk vir die Afrika-kommandowurm, maar nie vir die herfs-kommandowurm nie. Nog ‘n nuwe pes Die Departement van Landbou sê daar is nou ook ‘n nuwe pes in ons midde wat baie dieselfde as die herfs-kommandowurm is. Die Departement het in Januarie vanjaar verskeie verslae van boere gekry van ‘n ongeïdentifiseerde Lepidoptera-pes wat ook skade aan mielies aanrig, maar die pes is al vanaf Desember by sommige boere opgemerk. “Daar is duisende insekte wat nog nie in Suid-Afrika voorkom nie en hulle kan die land op enige tyd binnekom. Sommiges is landboupeste, maar dis moeilik om te raai,” sê Jan Hendrik. Hy doen ‘n beroep op boere om hulle bure te waarsku as die plaag op pad is. Goeie kommunikasie help altyd baie om peste en plae te bestry.” Boere moet ook die Departement van Landbou in kennis stel indien hulle kwarantynpeste het. Daarvoor kan hulle Jan Hendrik Venter by 072-348-8431 of 012-319-6384 skakel, of stuur vir hom ‘n e-pos na [email protected]. Die voorlopige tussentydse gids vir die gebruik van landbouchemikalieë om die herfs-kommandowurm te beheer, is hier beskikbaar: http://www.grainsa.co.za/upload/Interim%20pest%20guide.pdf
http://www.proagri.co.za/herfs-kommandowurn-gevaarlikste-pes-nog/
2017-02-03 12:00:27
Agri SA verwelkom vinnige optrede oor die herfs-kommandowurm
Die herfs-kommandowurm is amptelik in SA volgens ‘n verslag deur die LNR. Hulle het monsters in Limpopo en Gauteng gekry en kon daarvolgens bevestig dat dit wel die herfs-kommandowurm is. Die minister van Landbou, Senzani Zokwana, het op ‘n nuuskonferensie in Pretoria gesê die omvang van die probleem is nog nie bekend nie. Hy het ‘n beroep op boere gedoen om die voorkoms van die wurms aan te meld. Die Departement is ook saam met die LNR en ander instansies soos Graan SA besig om ‘n opname oor die voorkoms te doen. Johannes Möller, president van Agri SA, is bly dat die Departement van Landbou reeds opgetree het en met rolspelers van verskeie bedrywe gesels het om ‘n plan van aksie te beraam. ‘n Tussentydse beheerprogram is reeds op Vrydag 27 Januarie 2017 bekendgestel. Volg dié skakel na die beheerprogram: http://www.grainsa.co.za/upload/Interim%20pest%20guide.pdf Agri SA het ook boere versoek om nie chemikalieë te gebruik sonder om hulle gifagent te raadpleeg nie. Die Departement van Landbou het ‘n dringende registrasieproses begin vir landbouchemikalieë wat teen die pes gebruik kan word. Gewone teenwurmmiddels behoort doeltreffend te wees. Die pes val meestal mielies aan, maar kan ook voorkom op katoen, koring, sorghum, sojabone, aartappels en grondbone. Daarom is dit ook belangrik om ander gewasse dop te hou. Die voorkoms was tot dusver beperk tot suikermielies en saadmielie-aanplantings. Johannes bedank Graan SA en ander rolspelers wat die situasie monitor. Hy sê ook na die droogte in 2016 moet alles gedoen word om ‘n verdere finansiële knou te verhoed. Boere kan Jan Hendrik Venter van die Departement van Landbou by 072-348-8431 of 012-319-6384 skakel, of stuur vir hom ‘n e-pos na [email protected]. Lees ons vorige artikel oor die wurm hier.
http://www.proagri.co.za/agri-sa-verwelkom-vinnige-optrede-oor-die-herfs-kommandowurm/
2017-02-08 15:00:07
SA se nuwe padreëls dalk al 1 Mei in werking
Die Departement van Vervoer wil nou die padreëls en spoedgrense van Suid-Afrika nagaan en heel moontlik verander. In 2015 kon die publiek kommentaar lewer oor die verandering van padreëls en spoedgrense en dit is toe nooit amptelik in werking gestel nie. Die plan is om die spoedgrense te verminder van 60 km per uur na 40 km per uur in stedelike gebiede, van 100 km per uur tot 80 km per uur in landelike gebiede en van 120 km per uur tot 100 km per uur op deurpaaie wat deur woongebiede loop. Die minister van Vervoer se woordvoerder, Ishmael Mnisi, het aan BusinessTech bevestig dat Suid-Afrikaanse motoriste die eerste van hierdie veranderinge van 1 Mei 2017 af kan verwag. Dit sal ook bestuurders van bakkies verhoed om kinders in die agterkant van die bakkie te vervoer en daar mag ook nie meer as vyf passasiers in die bak van die voertuig vervoer word nie. Strenger spoedregulasies is geplaas op swaarvragvoertuie – die voertuig se spoed sal deur hulle gewig bepaal word. Hierdie voertuie moet ook ‘n plakker op hê waarop staan ‘100’ beperking. Ishmael het ook bevestig dat die publiek weer in die komende maande kommentaar daaroor kan lewer met die idee dat die reëls amptelik in die volgende jaar in werking gestel gaan word. Die nuwe regulasies sluit in: As bestuurders hulle lisensie hernu sal hulle ‘n praktiese herevaluering moet ondergaan. Die K53 toets gaan hersien en oorgedoen word. Die spoedgrense gaan verminder word van 60 km per uur na 40 km per uur in stedelike gebiede, van 100 km per uur tot 80 km per uur in landelike gebiede en van 120 km per uur tot 100 km per uur op snelweë wat deur woongebiede loop. Goederevoertuie bo 9 000 kg GVM gaan verban word van openbare paaie af gedurende besige tye van die dag. Bron: BusinessTech
http://www.proagri.co.za/sa-se-nuwe-padreels-dalk-al-1-mei-werking/
2017-02-01 08:03:14
Dom Boer se lag vir die dag:
Kan nie wen nie Konserwatiewe pa aan sy dogter: “Toe ek so oud soos jy was, kon die meisies nog bloos.” Dogter: “Ek is geskok! My eie pa! Wat het Pa vir hulle gesê wat hulle so laat bloos het?”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-286/
2017-02-09 14:27:24
Jag met honde bly ‘n probleem
Die nasionale RPO(Rooivleisprodusente-organisasie) het tydens sy afgelope uitvoerende raadsvergadering die probleem van die onwettige jag met honde breedvoerig bespreek en het meer hieroor uitgebrei in hulle nuusbrief van Februarie. Boere wil weet wat hulle te doen staan as daar onwettig op hulle plase gejag word met honde. Dit het ‘n sport geword en daar is gevalle waar sogenaamde taxi-jagtogte gereël word waar duur wild op ‘n georganiseerde basis gejag word. Status van diere in die reg Diere word in die Suid-Afrikaanse reg beskou as sake wat in sekere gevalle as eiendom besit kan word. Wilde diere word in ons reg as “res nullius” beskou, met ander woorde sake wat aan niemand behoort nie, maar wat deur middel van fisiese beheer toegeeïen kan word in eiendomsreg. Vee en troeteldiere behoort normaalweg aan iemand en geniet beskerming as die eiendom van sodanige eienaar, maar nie in eie reg nie. Daar bestaan wel sekere wetgewing oos natuurbewarings-ordonnansies wat wilde diere tot ‘n mate beskerm – veral sekere spesies wat as bedreig beskou word. Dan is daar natuurlik ook teen-wreedheidswette soos die Dierebeskermingswet wat sekere optredes teenoor diere verbied en strafbaar maak. Beheer oor diere Omdat mak diere as eiendom beskou word, word daar van die eienaar verwag om behoorlike beheer oor sy/haar diere uit te oefen om sodoende te verhoed dat daardie diere skade doen of ‘n steurnis vir ander mense veroorsaak. Daarom kan ‘n persoon wat skade ly as gevolg van ‘n dier wat aan iemand behoort, ‘n skadevergoedingsaksie teen die eienaar instel indien die eienaar se nalatigheid, deur byvoorbeeld nie ‘n gevaarlike hond op sy/haar erf te hou nie, instel. Daar is selfs aksies waar ‘n eienaar skadeloos aanspreeklik gehou kan word, soos die ou Romeinsregtelike “actio de pauperie”, waarvolgens ‘n eienaar aanspreeklik kan wees vir skadevergoeding, selfs al was hy/sy nie nalatig nie. Die meeste munisipaliteite het munisipale regulasies wat van toepassing is op die beheer van troeteldiere. Gewoonlik bepaal sodanige regulasies dat slegs ‘n sekere aantal honde/katte per erf aangehou mag word, dat erwe behoorlik omhein moet wees en dat diere wat uit hulle erwe geneem word op ‘n leiband of andersins onder beheer van die persoon in beheer van so dier moet wees. Honde moet ‘n halsband en identifikasie-skyfie dra sodat die eienaar identifiseerbaar is en mag nie rondloop op openbare of privaatgrond van ander persone nie. Nie-nakoming van die bepalings van sodanige regulasies is strafbaar. Die betrokke honde kan ook geskut word. Relevante wetgewing Daar bestaan verskeie wette wat van toepassing kan wees op ‘n situasie waar daar onwettig met honde op ‘n plaas gejag word. Dit sluit die volgende in: Die Wet op Oortreding, Wet 6 van 1959 – in terme van hierdie wetgewing is die betreding van eiendom sonder toestemming ‘n misdryf en kan ‘n kriminele klag teen die betreder gelê word; Die Dierebeskermingswet, Wet 71 van 1962, wat bepaal dat dit ‘n misdryf is om ‘n dier bloot te stel aan ‘n aanval deur ‘n ander dier of ‘n wilde dier; Die Wet op Veediefstal, Wet 57 van 1959 wat bepaal dat dit ‘n misdryf is om op grond te kom met die bedoeling om vee te steel; Die Wet op Diefstal van Wild, Wet 105 van 1991 bevat soortgelyke bepalings aan die Veediefstalwet; Daar bestaan ook verskeie toepaslike Provinsiale Natuurbewaringsordonnansies. Remedies vir boere Die remedies wat tot beskikking is van vee- of wildboere wat skade ly as gevolg van rondloperhonde is dus die volgende: Die lê van klagtes van betreding; Die lê van klagtes van wreedheid teenoor diere in terme van die Dierebeskermingswet; Die lê van klagtes in terme van die Wet op Veediefstal of die Wet of Wilddiefstal; Die lê van klagtes in terme van natuurbewaringsordonnansies; Die lê van ‘n klag in terme van die betrokke munisipale regulasies, sodat die munisipaliteit kan optree; Die instel van ‘n skadevergoedingsaksie teen die eienaar van die hond indien die eienaar bekend is. Dit kan geskied of op die basis van nalatigheid of skuldlose aanspreeklikheid waar daar aan die vereistes van die “actio de pauperie” voldoen word; Die skiet van die honde in ‘n situasie van noodweer. Die Polisie beveel aan dat honde waar moontlik gevang en aan die Dierebeskermingsvereniging oorhandig moet word. Dit is riskant vir ‘n grondeienaar om honde te skiet, alhoewel sommige van die natuurbewaringsordonnansies dit wel magtig. Grondeienaars is regtens gemagtig om te skiet wanneer hulle in noodweer optree om hulle eiendom te beskerm. Die vereistes vir ‘n suksesvolle beroep op noodweer is die volgende: ‘n Regsbelang in die vorm van lewe of eiendom moet bedreig word; Daar moet ‘n noodsituasie bestaan met ‘n onmiddellike bedreiging; Die dreigende noodsituasie moet spruit uit onregmatige optrede; Die optrede moet noodsaaklik wees om die dreigende gevaar aan te spreek; Die skade veroorsaak deur die optrede moet nie buite verband wees met die belang wat beskerm word nie. Die grense van noodweer kan oorskry word in welke geval ‘n grondeienaar nie sal slaag met sodanige verweer in ‘n skadevergoedingsaksie deur die hond se eienaar nie en kan selfs onder sekere omstandighede die grondeienaar blootstel aan vervolging. Die regverdiging van besluit om ‘n hond te skiet sal van die omstandighede van elke geval afhang. Die hond moet op daardie oomblik ‘n gevaar inhou vir vee of wild, as die onmiddellike gevaar nie bestaan of meer bestaan nie, sou dit nie geregverdig wees om in noodweer op te tree nie. Samewerking tussen die Polisie, Natuurbewaring, die Dierebeskermingsvereniging en munisipaliteite word sterk aanbeveel. Vuurwapens moet natuurlik te alle tye op ‘n verantwoordelike wyse gebruik word – die onverantwoordelike gebruik van ‘n vuurwapen kan daartoe lei dat ‘n person onbekwaam verklaar word om ‘n wapen te besit. Bron: RPO se Februarie 2017 Nuusbrief
http://www.proagri.co.za/jag-met-honde-bly-n-probleem/
2017-02-06 12:36:35
‘n Swak band kan jou lewe kos
Voertuigbande bly ‘n gevaarlike komponent van enige voertuig wat soms misgekyk word en dan tot ernstige gevolge kan lei. So sê die Automobiel Assosiasie (AA) wat gereageer het op ‘n dodelike ongeluk op die N1 in Midrand vroeër die week, waar verslae gewys het dat die ongeluk deur ‘n gebarste band veroorsaak is. Minstens een persoon is dood en 11 ander is beseer, sommige van hulle kritiek, nadat ‘n taxi op die snelweg gerol het. Sommige van die slagoffers is per helikopter na die hospitaal geneem. “Bande is baie belangrik. Hulle is die enigste ding tussen jou en die pad en as gevolg daarvan is dit belangrik om te verseker dat hulle altyd in ‘n goeie toestand is. ‘n Band wat glad, te styf of te pap is, is gevaarlik,” sê die AA. In terme van Regulasie 212 van die Wet op Nasionale Padverkeer moet bande ten minste ‘n 1 mm loopvlak hê en as dit onder daardie syfer is, kan motoriste ‘n boete kry. Sommige bande dra aanwysers in die loopvlakpatroon om te wys wanneer die diepte minder as 1,6 mm is. Die band moet dan dadelik vervang word. Verweerde bande sal ook ‘n invloed hê op die vermoë van die voertuig om tot stilstand te kom. ‘n Eenvoudige manier om dit te toets is om ‘n vuurhoutjie horisontaal in die loopvlak op die band te plaas. As die vuurhoutjie gelyk is, is die loopvlak nog goed. As die vuurhoutjie uitsteek/sigbaar is op die loopvlak, is dit tyd vir ‘n nuwe band. Nog ‘n belangrike onderhoudsroetine om na te kyk is die lugdruk in jou bande. Pap bande kan bars, het meer rolweerstand en sal jou brandstofverbruik verhoog. Oor-opblaas verminder die absorberende krag van die band, wat dit meer vatbaar maak vir impak, indringing en skuur. Te stywe bande beteken ook daar is minder kontak met die pad se oppervlakte wat ‘n negatiewe invloed op padhantering het. “As jy nie seker is van die korrekte druk vir jou bande nie is daar verskeie maniere waarop jy kan kyk. Daar behoort ‘n plakker in jou kar te wees, gewoonlik aan die binnekant van die bestuurder se deur, wat die korrekte banddruk aandui. Motoriste kan ook hulle handleiding van die motor nagaan. Daar moet net gereeld na bande gekyk word,” raai die AA aan. Motoriste moet ook gereeld die wielsporing en wielbalansering van hulle bande nagaan. Goeie wielsporing verminder die slytasie van die bande en verseker dat die voertuig reguit sy reistog kan aanpak sonder om na een kant van die pad toe te trek. Padgevare soos slaggate, klippe op die pad, oorblyfsels van ‘n ongeluk en hoë randstene is daaglikse gevare vir bande en moet vermy word. Motoriste moet aan die begin van hulle reis na hulle bande kyk en nie eers aan die einde nie. “As jy gereeld jou bande nagaan sal jy weet wat hulle toestand is voor jy ‘n reis aanpak,” sê die AA. Bron: AA
http://www.proagri.co.za/n-swak-band-kan-jou-lewe-kos/
2017-02-10 10:00:15
Slim sakebesluite kan tot belastingsvoordele lei: John Deere Finansieel gee raad
Elke suksesvolle boer weet dat ingeligte belasting- en beleggingsbesluite, gemik op voortdurende groei, belangrik is vir die langtermyn lewensvatbaarheid van enige onderneming. Die belastingseisoen is een van die belangrikste tye van die jaar vir enige onderneming. In hierdie periode moet produsente besluite neem wat hulle sake in die langtermyn beïnvloed. As daar besluit word om te belê in kapitaaltoerusting, kan dit korttermynvoordele inhou, van ’n belastingsoogpunt, maar die besluit moet opgeweeg word teen langtermyn beleggingspotensiaal (na belasting) en kontantvloei. Met die hoogste mieliepryse wat die land nog ooit gesien het, kan hierdie jaar meer belangrik wees as wat ons dink. Ingeligte sakebesluite en begrip van belastingimplikasies, verseker die voordurende groei van jou plaasbedrywighede. Belastingsvoordele is baie belangrik wanneer jy moet besluit oor die aankoop van plaasgereedskap “Alle sake-eienaars en spesifiek boere het verskeie dinge wat daagliks hulle tyd in beslag neem – en optimalisering van hulle belasting- en beleggingsbesluite moet hoog op hierdie lys wees. Gedurende die belasting jaareinde kan dit dalk ’n goeie geleentheid wees om weer te belê in die besigheid, veral as daardie beleggings voorheen uitgestel is en gereedskap vervang moet word,” verduidelik Antois van der Westhuizen, John Deere se finansiële besturende direkteur. Klein sakeondernemings moet jaarlikse belastingopgawes binne 12 maande of aan die einde van ’n finansiële jaar (Februarie 2017) voltooi. Besluite oor kapitaal-vervanging en -uitbreiding vorm deel van produsente se beplanning wat jaarliks voor die einde van die jaar afgehandel moet word, maar ook by belastingopgawes ingesluit moet word. “John Deere Financial se lenings maak dit moontlik vir produsente om plaastoerusting teen ’n laer tarief aan te koop (so laag as 1,25% jaarliks) en om vasgestelde winste te optimaliseer in ’n doeltreffende en voordelige wyse, wat toekomstige groei verseker,” sê Antois. “Byvoorbeeld, John Deere Financial bied lenings aan boere waar ’n 50% deposito in die eerste jaar betaal word, 30% in die tweede jaar en 20% in die finale jaar. Hierdie struktuur weeg die waardeverminderingstoelae wat die produsent ontvang, teen die winste wat verklaar word, om sodoende eenvormigheid tussen belastingsvereistes en die beskikbaarheid van kontantvloei te bewerkstellig,” sluit Antois af. Vyf wenke om jou belastingterugbetalings in 2017 te maksimaliseer 1) Maak dit jou doelwit om winsgewend te wees en nie net die minste belasting te betaal nie. Ondernemings fokus heel dikwels so op die minimalisering van belastingverpligtinge, dat hulle nalaat om die ware “sake”-fokus in perspektief te hou – die maksimalisering van winsgewendheid ná belasting vir hierdie jaar, asook die jare wat kom. 2) Belê hierdie belastingjaar in jou plaas. Wanneer boere besluit om te belê, het hulle oor die algemeen twee opsies: om vanjaar se winste in ag te neem, of om die winste te belê vir ’n moontlike winstoename in die toekoms. 3) Maksimaliseer kapitaalwinsbelasting met aftrekkings oor verskeie jare. Die beleggings wat jy vandag maak kan oor verskeie jare afgetrek word. Dus, moet belastingsbeplanning vanuit ’n multi-jaar uitgangspunt geskied. ’n Tipiese aftrekkingstruktuur lyk soos volg: 50% hierdie jaar, 30% die volgende jaar, 20% die derde jaar. Besluite wat jy vandag neem, sal ’n impak hê op toekomstige jare se belastingbeplanning. 4) Optimaliseer jou kapitaalbelegging-benodighede. Gedurende die laaste drie jaar, is daar waarskynlik onderbelê in jou kapitale bates. Dit mag dalk nou die tyd om jou kapitale-beleggingsplan in te haal. Tog moet jy nie probeer om die laaste drie jaar se doelwitte in een jaar te prop nie. 5) Gebruik BTW-lening terugbetalings om jou plaas se finansiële veerkragtigheid te vermeerder. Om beheer te neem van jou BTW-betalings is die sleutel tot optimale kontantvloei bestuur in enige agri-besigheid (groot of klein). Tydens die aankoop van kapitaalbates, kan die BTW-betaling ’n noemenswaardige deel van die waarde in beslag neem. Deur jou lening se terugbetalingstruktuur op jou kapitaalbelegging te verander sodat dit jou BTW-terugbetaling kan insluit, kan jy die terugbetalingsproses versnel en sodoende die finansiële veerkragtigheid van jou besigheid verseker. Vir meer inligting oor John Deere se aanbiedinge, besoek die webblad om jou naaste handelaar op te spoor. Hou ook hulle Facebook en Twitter-blaaie dop vir die jongste nuus. Bron: John Deere
http://www.proagri.co.za/slim-sakebesluite-kan-tot-belastingsvoordele-lei-john-deere-finansieel-gee-raad/
2017-02-10 13:38:20
Dom Boer se lag vir die dag:
Opvallende keuse Heinie hoor dat konstruksiemaatskappye hulle werkers goed betaal en hy besluit om ‘n baantjie by so ‘n maatskappy te soek. Hy wy ‘n week aan rondkyk om te bepaal watter konstruksiemaatskappy op die meeste plekke in die stad bedrywig is sodat hy by die grootste en suksesvolste een kan aansoek doen. Hennie: “Watter konstruksiemaatskappy is dit? Heinie: “GEVAAR KONSTRUKSIEWERK. Hulle bordjies is oral in die stad.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-290/
2017-02-13 07:36:20
Dom Boer se lag vir die dag:
Skreiende skande Vrou: “Ek SKAAM my oor die manier waarop ons lewe: My ma betaal ons huispaaiement, my tante betaal ons klererekeninge, my suster stuur vir ons geld vir kos. Ek SKAAM my omdat ons nie beter as dit kan doen nie.” Man: “Jy is heeltemal reg – jy behóórt jou te skaam. Jy het twee ooms wat nie vir ons ‘n dooie sent gee nie.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-280/
2017-02-01 10:38:28